Pretoria-Noord laerskool blink uit in vasvra en skaak
By Laerskool Stephanus Roos in Sinoville is kultuuraktiwiteite 'n prioriteit en dit wys in hul prestasies.
Die Laerskool Stephanus Roos in Sinoville het onlangs in twee groot kompetisies uitgeblink.
In die Rapportryers se Bybelvasvrakompetisie was die skool se eerste span een van die toptien spanne in die land en het in die finale toernooi die sewende plek behaal.
Tania Schoeman, ’n onderwyser van die skool, sê dit is ’n voorreg vir die skool om hom te vereenselwig met ’n organisasie soos die Rapportryers.

Al toptien spanne is die naweek van 11 Oktober na Klein Kariba genooi vir ’n bederfnaweek, asook om die wenner te bepaal.
Die skool is besonder trots op die spanlede Ulrich Smal, Milaney van Mourik, Anya de Jongh en Allison Theologo.
Nog ’n span waarop die skool trots is, is die skool se skaakspan wat in Germiston vroeg in Oktober ’n silwermedalje verwerf het vir tweede plek by die Gauteng Skaaktoernooi se finale ronde. Hierdie spanlede sluit in Leja Swanepoel, Luné Strauss, Milah Boshoff, Leah Smith, Leone du Toit, Deané Kleinhans en Chermoné Venter.
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie?
Stuur gerus vir ons ‘n epos na bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie.
