Local newsNews

Doringbome-roman knoop trilogie aaneen

'Waar die doringbome sing', Elize Parker se derde boek in haar Laeveld-reeks, is volgende maand op die rakke.

Rekord-joernalis en skrywer Elize Parker is in die wolke oor die feit dat haar boek, Waar die doringbome sing, binnekort verskyn.

Die roman wat volgende maand op die rakke sal wees sluit haar Laeveld-trilogie af oor die Van der Walt niggies, Lenore, Bella en Tarrien.

Lenore en Bella woon met hul gesinne op die familieplaas Bateleur teen die Lebombo-grens naby Komatipoort waar daar ‘n renoster- en olifantweeshuis, sowel as ’n lodge en wildreservaat, is.

Parker verduidelik dat die plaas vernoem is na die Bateleur-arend wat bo die moeilikhede wat dit bedreig kan uitstyg. So ’n paar woon by die ou opstal op die plaas by Mambahoek en oorleef saam met die gesin talle tragedies.

Elize Parker met haar nuutste boek.

In die derde boek van die reeks beveg die twee niggies steeds die steenkoolmafia sodat hul nie ’n myn op die grens van die plaas bou en so die water besoedel nie. Die renoster- en olifantweeshuis groei ook met die aankoms van ’n olifantkalfie, Kimbi, wat deur hiënas aangeval is nadat haar ma gestroop is. Sy sluit by Masingita aan wat in ’n lokstrik getrap het.

Die nuwe viervoetige karakter, Kilimandjaro, speel ’n belangrike rol. “Die tusker (slagtandolifant) se naam is Kilimandjaro want hy is so groot soos ’n berg maar hy kry die bynaam Killi. Ek wou graag hul lot uitlig as ’n groep olifante wat bedreig word deur slagysters en stroping sowel as droogtes as gevolg van klimaatverwarming,” sê Parker.

Die mensehandel-tema uit die vorige boek word voortgesit namate Tarien, wat voorheen mensehandel in Thailand en by die Lebombo-grens bekamp het, waarneem dat dit ’n patroon in die Wes-Kaap onder van die plattelandse werkers is wat stad toe kom. Sy tree in by so ’n voorval en vestig ’n tussenin-hawe vir meisies en vroue wat uit die hande van mensesmouse gered word.

Parker beskryf hoe Tarien, wat aanvanklik van aantreklike en onbereikbare mans gehou het, uiteindelik besef sy hoef geen man op ’n romantiese manier te red of self deur ’n man gered te word nie. Sy is nie meer verlief op die liefde nie, en besef vriendskap is ’n goeie basis vir ’n verhouding.

“Omdat ek oor werklikhede skryf, moes ek die koms van Covid-19 met die lewens van die karakters in ag neem. Die driestuks boeke in die reeks speel min of meer oor ’n dekade van 2010 tot na 2020 af. Die pandemie het toerisme in die Laeveld en die wynbedryf in Suid-Afrika ’n lelike knou gegee en finansiële oorlewing raak moeilik vir die Van der Walts.

“Het die drie niggies die ingeboude vasberadenheid van hul oupa en ’n ysere geloof om soos die bateleurs bo hierdie moeilikheid sowel as hul emosionele probleme oor hul pad na die skiettragedie in hul kleintyd uit te styg? Die lesers sal maar tot die einde moet lees!”

– Die amptelike bekendstelling vind by The Book Keeper’s Shop by die Afroboer-kompleks op 30 November plaas waar joernalis en omroeper Susan Botha, in gesprek met die skrywer sal wees. Besprekings kan gemaak word deur 065 575 1125 te skakel.

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? 

Stuur gerus vir ons ‘n epos na  bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord

Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Back to top button