Bela-optog: McKenzie gevra om toe te tree
Die voorgenome optog van organisasies om teen die Bela-wet te betoog op 5 November se eindpunt, Freedom Park, se hekke sal bes moontlik toe staan wanneer die optog daar aankom tensy die Minister van Sport en Kultuur die besluit van die bestuur van die erfenisterrein kan omdraai.
Minstens 50 organisasies en meer as 70 skole beplan om aan ’n protesoptog op 5 November deel te neem teen twee artikels van die omstrede Bela-wetgewing.
Die optog sal vanaf die Voortrekkermonument vertrek en na Freedom Park op Salvokop beweeg.
Volgens Solidariteit se woordvoerder, Pieter Jordaan, het die bestuur van Freedom Park egter ’n groep organisasies se aansoek om ’n vreedsame protesoptog tot by dié nasionale erfenisterrein afgekeur.
Die Solidariteit Beweging het in reaksie daarop hulle tot die Minister van Sport, Kuns en Kultuur, Gayton McKenzie, gewend.
“Ons doen nou ’n beroep op die minister om dringend in te gryp om toe te sien dat Freedom Park dié besluit heroorweeg,” verduidelik Jordaan.
Die aksie word gereël om protes aan te teken teen Artikel 5 en 6 van die Wysigingswet op Basiese Onderwyswette 32 van 2024 (Bela-wet) wat die finale besluitnemingsmagte oor skole se toelatings- en taalbeleid van beheerliggame wysig.
President Cyril Ramaphosa het drie maande vir verdere gesprekvoering oor dié artikels gegun.
AfriForum het op 14 Oktober, in ’n brief aan die hoofuitvoerende beampte van Freedom Park, dr. Jane Mufamadi, amptelik aansoek gedoen om aan die protesgangers toegang tot die terrein te verleen as eindpunt van die optog.
In die brief word besonderhede van die beplande optog, die rede vir die optog en die versekering dat alle nodige veiligheidsmaatreëls getref sal word vir die aanbied van die geleentheid, gegee.
Mufamadi se antwoord stel dit egter duidelik dat daar ná “sorgvuldige oorweging” nie toestemming vir die versoek gegee kan word nie, aangesien “Freedom Park nie die mandaat het om versoeke van dié aard te hanteer nie”.
Solidariteit, wat reëlings vir die protesaksie lei, het sy regspan intussen opdrag gegee om ook met regstappe te begin en, benewens die versoek aan McKenzie, alle moontlike remedies vir die goedkeuring van die protesaksie te ondersoek.
Intussen gaan instellings voort met planne om die protesoptog te hou en, indien hulle genoodsaak word, die prosessie tot by die ingang van Freedom Park te laat gaan.
Groot getalle mense het reeds vir deelname by www.belaprotes.co.za geregistreer.
Intussen het Paul Sauer, hoof uitvoerende beampte van die Suid-Afrikaanse Onderwysersunie aan Rekord gesê die unie se dagbestuur het ’n besluit geneem dat hul Nasionale Uitvoerende Raad namens die lede die voorgestelde proses sal ondersteun.
“Ons is egter van mening dat skole wat tans besig is met die matriekeksamen en ook binnekort hulle eie interne eksamens gaan aflê nie, nie ontwrig moet word nie,” bevestig Sauer.
Hy het verduidelik die unie saam met ander vennote dit eens is dat die oorspronklike artikels rakende toelating en taal behou kan word soos dit in die huidige SA Skolewet vervat is.
“Ons sal graag wil sien dat President Ramaphosa die meganismes om te konsulteer in plek moet kry sodat daar genoegsame tyd sal wees om behoorlik die saak te stel sodat dit op ’n wen-wen situsie sal uitloop,” benadruk Sauer.
Hy sê die unie moedig lede aan wat sterk voel dat hulle persoonlik by die aksie wil aansluit, om met hulle provinsiale kantoor in verbinding te kom sodat hulle beskerm is binne die arbeidswetgewing en nie aan dissiplinêre aksie blootgestel is nie.
“Ons sal binnekort ons lede volledig inlig per nuusbrief sodra ons duidelike uitsluitsel het van die organiseerders rakende of dit ’n beskermende aksie sal wees al dan nie.”
Dr. Dirk Hermann, bestuurshoof van Solidariteit, sê dat die organisasie se gesprekke om met die regering en die Departement van Basiese Onderwys te kan onderhandel oor Bela met die Nasionale Ekonomiese Arbeidsraad (Nedlac) goed verloop het.
Daar is bepaal dat die raad oorsig kan hou oor onderhandelings met die oog op om konsensus te bereik oor die uitstaande bepalings van die wetgewing.
“Dit was ’n belangrike hekkie. Die Departement van Basiese Onderwys en die Presidensie moet nou mandate kry. Ons gaan ’n duidelike moontlike uitkoms vir hul stuur. Onderhandeling gaan dus voort. Daar is ook ooreengekom dat dit dringend hanteer sal word. Intussen berei Solidariteit, AfriForum en die Solidariteit Skoleondersteuningsentrum voluit voor vir die groot optog van 5 November.”
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie?
Stuur gerus vir ons ‘n epos na bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie.
