Metro beoog kragonderbreking ingryping te midde van sabotasie-bewerings
Volgens die ANC, is die onderbrekings ’n kwaadwillige komplot om die gesag van die nuwe burgemeester, dr. Nasiphi Moya, te ondermyn.
Die Tshwane metro sê die stad sal ingrypings toepas om te verseker dat kragonderbrekings verminder word.
Dit kom na die onlangse vlaag van herhalende langdurige krag- en substasie-onderbrekings wat byna sewe streke in die hoofstad beïnvloed het.
Die ANC het onlangs beweer dat hierdie onderbrekings begin kop uitsteek net nadat die vorige DA-burgemeester Cilliers Brink uit die kussings gelug is. Die party bestempel die onderbrekings as “georkestreer” en ’n poging om die nuwe Tshwane-koalisie te saboteer.
Die ANC se streeksekretaris George Matjila beweer dat hierdie onderbrekings ’n kwaadwillige komplot is om die gesag van die stad se nuwe burgemeester, dr. Nasiphi Moya, te ondermyn.
Die Pyramid-substasie in Streek 2 en Kwagga-substasie in Streek 3 het onlangs onder brande deurgeloop wat ’n wye reeks onderbrekings veroorsaak het.
Matjila sê die ANC het met diepe kommer die aanhoudelike, ontydige onderbrekings opgemerk wat verskeie dele van die stad affekteer.
“Hierdie onderbrekings, wat inwoners se lewens ontwrig, word beskou as ’n gevolg van ’n georkestreerde komplot om die pogings van die nuwe ANC-regering van plaaslike eenheid in die wiele te ry,” sê hy.
Matjila sê die ANC is bekommerd dat die beweerde sabotasie kan óf gedryf word deur skelm elemente binne die stad se amptelike strukture óf ’n gekoördineerde groep van sommige regse rassistiese elemente.
Hy voeg by dat hierdie elemente slegte bedoelings het om nie net Moya se burgemeesterskap te ondermyn nie maar ook om vertroue in die nuwe administrasie onstabiel te maak en af te takel.
Matjila sê dat die kragonderbrekings het veral begin kop uitsteek nie lank na Brink verwyder is nie.
“Dit maak die onderbrekings verdag en vermoedelik ’n georkestreerde geval van diegene wat vasbeslote is om dienslewering aan die inwoners van Tshwane te ontwrig ten gunste van hul eng, selfsugtige politieke belang.”
Matjila beweer dat hierdie optrede doelbewus en klaarblyklik bedoel is om die gesamentlike pogings om stabiliteit te herstel, dienslewering te verbeter en aan die behoeftes van die inwoners te voldoen, te ontspoor.
“Ons vermaan alle verantwoordelike amptenare binne die stad om die belange van die inwoners eerste te stel en hul professionele pligte sonder kompromie te handhaaf.”
Hy sê die ANC bly daartoe verbind om aanspreeklikheid en deursigtigheid te verseker.
“Ons doen ’n beroep op alle wetstoepassers en toesighoudende liggame om die oorsaak van hierdie onderbrekings so spoedig te ondersoek en die nodige stappe neem teen diegene wat verantwoordelik is.”
Matjila sê dat die ANC in Tshwane sal nie ontmoedig word deur pogings om hul werk te ontwrig nie.
“Ons bly vasberade in ons verpligting om dienslewerings-uitdagings aan te spreek en om stabiele, getroue en kwaliteitsdienste aan alle gemeenskappe te lewer.”
Brink ontken dat sy party hul skuldig maak aan georkestreede sabotasie en wys daarop dat die ANC geen bewyse het nie.
“Die beskuldigings deur die ANC is ongegrond. Indien daar enige party is met bande met georganiseerde misdaad, dan is dit meer waarskynlik die een wat aan die Guptas en Bosasa gekoppel is. Die ANC moet ophou om verskonings te maak en verantwoordelikheid as regering neem. As julle nie kan bestuur nie, moet dan nie mag aanneem nie. Net soos die ANC se beskuldiging oor sabotasie, is daar geen bewyse vir hierdie bewering nie,” sê Brink.
Rekord het die burgemeesterskantoor gekontak om vas te stel indien enige bewyse of insigte gevind is om te bewys dat hierdie kragonderbrekings wel veroorsaak is weens sabotasie.
Die burgemeesterswoordvoerder, Zintle Mahlati, sê egter die stad kan nie kommentaar lewer op inhoud wat nie deur hulle uitgereik is nie.
Mahlati sê die stad sal ingrypings implementeer om te verseker dat kragonderbrekings verminder of uitgeskakel word.
Sy sê die stad sal hoë-impak netwerk onreëlmatighede prioritiseer om die elektrisiteitstoevoer te stabiliseer.
“Die stad sal die boomsnoeiingsprogram bespoedig om verwante onderbrekings te verminder asook om gesentraliseerde spanne op ’n ad hoc-basis na streke met meer onderbrekings te ontplooi om omkeertye te verminder.”
Sy sê oor die afgelope paar weke het inwoners van verskeie dele van Tshwane langdurige kragonderbrekings ervaar.
“Gedurende die afgelope naweek het ’n storm in verskeie dele van Tshwane verwoesting gesaai, en baie inwoners sonder elektrisiteit gelos.”
Sy sê in vorige weke het die stad se Energie en Elektrisiteitsdepartement gereageer op skade by substasies, naamlik die Pyramid- en Kwagga-substasies.
“Ons erken die erge ongerief wat hierdie kragonderbrekings vir inwoners veroorsaak het.”
Mahlati sê die hoofoorsake van die onlangse onbeplande kragonderbrekings sluit die volgende redes in:
– Storm-verwante skade aan oorhoofse infrastruktuur (kraglyne wat gebreek het en pale wat ontwortel/omgewaai is).
– Boomtakke wat aan oorhoofse kraglyne raak.
– 11kV-toerustingonderbreking (ondergrondse kabels) binne die Pretoria middestad.
– 132kV-toerustingonderbreking (’n stroomtransformator wat ontplof het) by die Kwagga-toevoersubstasie.
– 132kV-toerustingonderbreking by die K3 Primêre Substation in Soshanguve weens vlieënde voorwerpe van die nedersetting wat aangrensende aan die substasie geleë is.
– Onwettige verbindings, wat hoofsaaklik die areas in Pretoria-Wes raak.
Mahlati voeg by dat die stad werk hard om planne in plek te stel om infrastruktuur te beskerm en te beveilig.
“Ons neem kennis van die ongerief wat deur die kragonderbrekings in die metro veroorsaak is en ons is bly dat die amptenare in staat was om die betrokke gebiede weer aanlyn te bring.”
Mahlati sê die stad sal ’n sekuriteitstender bekom om diefstal- en vandalisme-gevalle te verminder, veral in gebiede wat omhein is soos substasies.
“Ander fokusareas vir die langtermyn sal wees om te verseker dat ons die instandhoudingsbegroting vir ons elektrisiteitsinfrastruktuur kan verkry en verhoog.”
Sy sê die stad verseker inwoners dat hulle die onlangse kragonderbrekings ernstig opneem.
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie?
Stuur gerus vir ons ‘n epos na bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie.
