Sakeliga maak planne om munisipale verval aan te spreek
Verbruikers kan hulself bemagtig om dienslewering teen die regte tariewe te kry deur bewus te wees hoe hulle die munisipaliteit tot verantwoording kan roep.
Die nasionale organisasie vir sakemanne, Sakeliga, het ’n bosberaad op 25 Oktober in Pretoria gehou om onder meer te kyk na watter regte landsburgers het wanneer dit daarby kom by om druk op stadsrade te plaas om munisipale verval te voorkom.
Die tema was “Versnel dorpsherstel met alternatiewe oplossings”.
Die bestuurder: Sakekamernetwerke by die Sakeliga, Christo Bester, het aan die meer as 50 verteenwoordigers van ’n wye spektrum van organisasies verduidelik dat verbruikers veral twee stukke gereedskap tot hul beskikking het om hulself te beskerm teen munisipaliteite met swak dienslewering.
Bester het die verskil tussen ’n dispuut en ’n beswaar verduidelik wat verbruikers en inwoners aan ’n stadsraad kan rig rondom hul munisipale rekeninge se vereffening.
Volgens Bester is ’n dispuut enige aksie, geding of prosedure tussen partye wat ontstaan in verband met enige meningsverskil, omstredenheid of eis wat voortspruit uit, of verband hou met ’n ooreenkoms of enige verwante dokument.

Hy wys daarop dat wanneer ’n verbruiker só ’n dispuut aanhangig maak, moet dit gedoen word met inagneming van die stadsraad se Krediet- en Skuldinvorderingsbeleid.
“’n Verklaarde dispuut kan die verbruiker beskerm teen invorderingstappe van die munisipaliteit ten opsigte van bedrae wat in geskil geplaas is. Asook om hom/haar te beskerm dat dienste soos water en elektrisiteit nie afgesny of ontkoppel word nie totdat die dispuut ondersoek en ’n amptelike uitkoms voorsien is,” verduidelik Bester.
In antwoord op die vraag of ’n verbruiker geregtig is om die totale munisipale rekeningbedrag in dispuut te plaas, het hy geantwoord dit is uiters raar.
“Slegs die bedrag van die onderskeie lynitems, soos vir krag, water, sanitasie of erfbelasting, waarmee ’n verbruiker nie saamstem nie, word gewoonlik in dispuut geplaas.”
Hy beveel aan dat regsadvies en bystand verkry moet word ten opsigte van die proses.
“Dispute word normaalweg verklaar teen bedrae ten opsigte van dienste en nie normaalweg ten opsigte van munisipale eiendomsbelasting nie,” verduidelik Bester.
Hy beveel aan dat die verbruiker die volgende stappe neem:
– Verkry en voltooi die dispuutvorm by die stadsraad.
– Verskaf soveel moontlik inligting en dokumentasie om die dispuut te ondersteun: besonderhede van die probleme wat ervaar word, bewys van enige betalings gemaak en enige interaksie met die munisipaliteit en met wie gepraat is.
Bester benadruk dat die verbruiker moet aanhou om ’n geskatte maandelikse verbruik en heffings wat nie in die geskil genoem word nie, te betaal.
Gestel die geskil gaan oor sanitasie, sal die ander items soos water, erfbelasting en krag nog vereffen moet word.
Die definisie van ’n beswaar is, volgens Bester, breedweg “die proses waar eienaars van onroerende eiendom die munisipale eiendomsbelastingtariewe en heffings wat deur ’n munisipaliteit gehef word, formeel kan betwis”.
’n Beswaar word dus nie ingedien vir krag, water en sanitasie nie maar vir erfbelasting.

Hy benadruk dit is uiters belangrik dat die nodige vooraf-ondersoeke gedoen moet word om te bepaal of ’n beswaar suksesvol sal wees.
Die belangrikste dokumentêre bewyse wat verkry moet word en aangeheg word tot die beswaarvorm, is ’n afskrif van die waardasierol ten opsigte van die spesifieke onroerende eiendom en ’n onafhanklike professionele waardasie.
Met beide, dispuut en beswaar, is dit belangrik volgens Bester dat daar op ’n paar fynere punte gelet word soos dat net totale in lynitems wat verkeerd is, in dispuut geplaas kan word.
“Jy moet dus deurlopend weet wat aangaan op jou rekening, voor jy die dispuut of beswaar verklaar,” raai hy aan.
Bester waarsku dat verbruikers nie ’n dispuut kan verklaar oor infrastruktuur wat verval nie soos paaie vol slaggate nie en dat dit ook onwettig is om erfbelasting te weerhou.
“Wanneer ’n dispuut egter ingedien is, word die verbruiker beskerm en hoef hy nie die verkeerde bedrag onder dispuut te betaal nie. Die dispuut moet eers opgelos word. Dis dus ook ’n manier om die munisipaliteit te dwing om sy huis in orde te kry,” verduidelik hy.
Dis ook nie ’n verskoning om nie jou rekening vir lewering van dienste te betaal omdat jy nie jou rekening gekry het nie.
“Wetgewing bepaal dis die verbruiker se plig om te vra vir ’n rekening,” maan Bester.
Péter Wassenaar, ’n regsgeleerde, het by Bester aangesluit om te verduidelik hoe dispute as ’n hefboom deur gemeenskappe gebruik kan word wanneer munisipaliteite wat verval, nie gehoor wil gee aan inwoners se versoeke rondom dienslewering nie.
“Dienste- en belastingverenigings wat deur inwoners gevorm word wat hul dispute saamvoeg en so saam teen die munispaliteit staan, het bedingingsmag,” glo hy.
Hy meen die individu is ’n sagte teiken wanneer dit by munisipale verval kom, maar wanneer hy binne ’n betalingsvereniging staan en so vereniging kan namens hom en andere beding, is daar veel meer beskerming.
Hy benadruk wat verbruikers wel moet besef, is dat daar ook ander beskerming ingebou is waarvan daar nie groot gewag gemaak word nie.
“Die munisipaliteit kan byvoorbeeld nie onmiddellik jou krag afsit indien ’n betaling nie gemaak word nie en moet jou ’n redelike tydperk gee deur ’n brief te stuur wat sê indien betaling nie binne 14 dae geskied nie, word dit afgesit.”
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie?
Stuur gerus vir ons ‘n epos na bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie.
