Local newsNews

Kinderdag: Is daar vordering met kinderregte?

Vanjaar word daar met Kinderdag op 2 November gevra of daar gevorder is met die bekendstelling aan die publiek van wat kinderregte behels.

Nasionale Kinderdag word vanjaar op 2 November gevier en die kollig word vanjaar geplaas of daar vordering gemaak is om kinderregte in Suid-Afrika te bevorder, bekend te maak en tot hul reg in die praktyk te laat kom.

Dr. Ronel Aylward, algemene bestuurder van CMR Noord, voel gedeeltelik dat Suid-Afrika wel daarmee gevorder het.

“Ons het ’n baie goeie Kinderwet wat deurlopend evalueer en gewysig word in ooreenstemming met die veranderende en beter verstaan van die behoeftes en beste belang van kinders in die Suid-Afrikaanse konteks,” bevestig Aylward.

Volgens haar word hierdie wysigings deur die regering gefasiliteer. Die regering is dan ook verantwoordelik vir die toepassing daarvan.

“Ongelukkig is daar soms politieke faktore wat hierdie proses nadelig beïnvloed en kan die regering baie verbeter in terme van hoe hulle hul vennote en diensverskaffers in hierdie belangrike taak betrek en behandel,” meen sy.

Sy voel dat hulle organisasie wel daarin slaag om kinderregte te bevorder en bekend te maak deur sosiale media, die Noordelike sinode van die NG Kerk se nuusbrief, fondsinsamelingsprojekte, die CMR Noord webwerf, CMR-kantore en verwysings deur publiek en kliënte te gebruik.

Vir haar is die belangrikste boodskap wat hieroor uitgedra moet word, is dat die beste belang van kinders moet ten alle tye gedien en bevorder word, hetsy in ’n gesinsituasie, die skoolkonteks en op gemeenskapsvlak.

“Ons kinders is ons toekoms. Hoe ons hulle beskerm en begelei speel ’n deurslaggewende rol in die toekoms van ons land,” glo sy.

CMR Noord neem deel aan verskeie nasionale bewusmakingsaksies waarvan die vernaamte Kinderbeskermingsweek gedurende Mei en Junie is, en ook aan die 16 Dae van Aktivisme teen Geweld teen Vroue en Kinders wat in November gehou word.

“Ons primêre teikengroep is die skole in ons werksgebied en ons bied programme aan in samewerking met ander rolspelers waaronder die polisie,” sê sy.

“Ons poog om kinders en onderwyspersoneel bewus te maak van kinders se regte, maar ook van hul verantwoordelikhede. Ons bied ook ouerleidingsprogramme aan, en die regte van kinders is een van die temas wat behandel word. Ons het maatskaplike werkers wat terapeutiese dienste lewer, by skole geplaas in ons bedieningsareas,” verduidelik sy.

Die regering befonds ook kinderbeskermingsorganisasies wat in ooreenstemming met die department se fokusareas (waarvan gesinsbewaring en kinderbeskerming een is) kinderbeskermingsdienste lewer, terwyl die department ook self hierdie dienste lewer volgens ’n geografiese afbakening van gebiede.

Die CMR NOORD ontvang egter sedert 2022 geen befondsing van die staat nie.

“Ons bly positief oor die jaar vorentoe, en is daartoe verbind om meer effektiewe maniere te vind om kinders se regte – veral binne die konteks van hul gesinne – te beskerm. Gesonde gesinne bou gesonde gemeenskappe, en dus ook heilsame samelewings.”

https://www.gov.za/news/events/commemorative-events/national-childrens-day

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? 

Stuur gerus vir ons ‘n epos na  bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord

Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Back to top button