Musiekliefhebbers neem afskeid van ‘fenomenale’ koorlegende
Elise Rautenbach was 'n legende in eie reg in musiekkringe en geliefd onder haar koorlede.
Die roudiens van ’n bekende en geliefde leier in Pretoria se musiek- en kerkkringe, Elise Rautenbach van Faerie Glen, sal op 6 November plaasvind.
’n Voormalige koorlid van Rautenbach se koor, Wouter Botes, het in ’n eerbetoon aan haar vir Rekord gesê hy bring graag hulde aan ’n fenomenale vrou, wat ’n groot bydrae gemaak het tot Afrikaanse musiek.
“Sy was leidster van die A Capella-koor, wat onder andere die temalied van die rolprent Boland gesing het. Die koor het vir dekades met treffers soos, ‘Ai Meisie Meisie’, ‘Sing van Liefde’ en ook geestelike liedere deur die land getoer. Ek was bevoorreg om ’n lid van hierdie bekende koor te wees vir ’n paar jaar. Dit was ’n wonderlike deel van my jeug,” vertel Botes.
Rautenbach was volgens hom soos ’n moeder vir elke koorlid en die lede was ’n hegte groep bymekaar.
“Ons sal haar liefde vir die lewe altyd onthou. ’n Legende in eie reg,” vertel Botes.
Die koor is in 1970 gevorm.
Rautenbach het musiek aan die universiteite van Potchefstroom en Stellenbosch studeer en het veral ’n spesiale belangstelling in orrel- en koormusiek gehad.
Sy het die koor begin deur ’n kwartet te vorm wat by funksies opgetree het en het mettertyd lede van haar kerkkoor daartoe gevoeg.
Die eerste konsert het in Mei 1970 plaasgevind.
Die groep het gewild geword en is gou ’n platekontrak aangebied.
Rautenbach was die eggenote van ds. Nico Rautenbach en moeder van ds. Corneel Rautenbach.
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie?
Stuur gerus vir ons ‘n epos na bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie.
