30 Jaar later: Heyns-sluipmoord steeds ‘n raaisel
Die sluipmoord op prof. Johan Heyns is 'n tergende raaisel wat vele ondersoekers al probeer oplos het.
Dit is 30 jaar vanjaar op 5 November sedert die onopgeloste moord op die oud-moderator van die Nederduitse Gereformeerde Kerk, prof. Johan Adam Heyns (1928-1994).
Die ware motief vir die moord is ook nie bekend nie, alhoewel talle bespiegelinge deur die jare gemaak is.
Johan Heynsstraat in Gezina, Pretoria is vandag die stille getuie van die merkwaardige man wat die gang van die geskiedenis in Suid-Afrika beïnvloed het.
Die straat was oorspronklik Agtste Laan maar is later verander na HF Verwoerdstraat. Die straat is vernoem na die eerste minister, Hendrik Frensch Verwoerd (1901-1966), wat in ’n sluipmoord in die parlement in 1966 vermoor is.

In 2012 word die straat se naam weer verander en word dit herdoop na Johan Heynsstraat.
Heyns, sy vrou Reneé, en drie kleinkinders, Johan (11), Theo (8) en Adam (5), het kaart gespeel in sy huis in Waterkloofrif toe hy deur ’n sluipmoordenaar deur ’n oop venster geskiet is.
Reneé, nou in haar negentigerjare, woon deesdae in ’n woonstel in ’n aftree-oord in Pretoria-oos.
Johan is met ’n enkele skoot met ’n swaar kaliber-geweer doodgeskiet.
Heyns het in 1982 die idee dat apartheid die wil van God is in die openbaar verwerp en op daardie jaar se sinode ophef gemaak deur openlik veelrassige huwelike te ondersteun.
Onder sy leiding by die 1986-sinode het tienduisende kerklidmate en baie gemeentes weggebreek om die Afrikaanse Protestantse Kerk te stig.
In 1990 het hy apartheid uiteindelik tot sonde verklaar, wat ’n groot impak op die wit minderheidsregering gehad het.
Op 5 November 1994, net ’n halfjaar nadat Nelson Mandela as Suid-Afrika se eerste swart president ingehuldig is, is Johan Heyns vermoor.
Mandela het aan hom hulde gebring as ’n martelaar vir sy land en ’n kryger vir vrede.
Hierdie moord het al verskeie boeke, dokumentêre rolprente en ander navorsingsdokumente tot gevolg gehad.

Een van Johan se kleinkinders, Adam Heyns, was vyf jaar oud toe sy oupa vermoor is.
Hy het later as volwassene saam met sy pa Christof die regie en vervaardiging van die video Dr Johan Heyns – Exorcist of Apartheid gedoen.
Wouter Botes van Pretoria-oos, navorser, ondersoeker sowel as skrywer van Doodloopspore: Die onverklaarde geheime van Suid-Afrika, skryf oor hierdie onopgeloste moord in die eerste boek van die reeks.
Daar is ook ’n TV-reeks wat gebaseer is op die boeke waarin geheime en raaisels, soos dié rondom die Heyns-moord, gemaak.
Botes wys in sy boek daarop dat die polisie die oproep van Heyns se eggenote, na die moordtoneel om 20:23 op 5 November ontvang het.
“Sy is na die hositaal geneem om behandeling vir skok te ontvang. Kort daarna is ’n beloning van R100 000 uitgeloof,” vertel Botes.
Sy navorsing oor die verloop van sake was intensief. ’n Belangrike gedeelte van al sy navorsing word uit leêrs van die polisie gedoen.
“’n Sigaretstompie en hare is op die toneel gevind,” meld Botes. “DNS-toetse het op die profiel van ’n onbekende persoon gewys.”

Botes sê dat Heyns wel dreigemente voor sy dood ontvang het.
Hy haal die polisie aan in sy boek dat hulle wel hul profieldeskundiges gevra het om ’n moontlike profiel saam te stel ter wille van die ondersoekers.
“Dit het neergekom op ’n wit alleenlopende man, met radikale idees wat bes moontlik militêre opleiding gehad het,” vertel Botes.
Hy glo die feit dat 5 November 1994 Guy-Fawkesaand was waartydens daar klappers sou afgaan, dalk een van die redes was hoekom die sluipmoordenaar juis dié aand gekies het.
Botes se kollig in sy soektog het vir ’n oomblik op Kaalvoet Thysie geval, wat tydens ’n verhoor in Pretoria op verskeie klagtes verskyn het, onder meer dat hy Heyns vermoor het.
“’n Oud-soldaat het getuig dat Kaalvoet Thysie oftewel Matthys de Villiers, aan hom beken het dat hy Heyns vermoor het. Niks kon egter bewys word nie en hy het as ’n vry man uit die hof gestap,” vertel Botes.
Volgens Botes is Kaalvoet Thysie so genoem omdat hy bykans nooit skoene gedra het nie, na ’n egskeiding in 2003, na Irak.
Botes sê die kanse dat “hierdie moord opgelos sal word, is onwaarskynlik. Die dossier is steeds nie gesluit nie. Daar is egter beslis iemand wat weet wie die skuldiges is. Soos klappers in die nag sal die geheim hierrondom af en toe opflits,” glo hy.
– Kliek hier om die dokumentêre film Dr Johan Heyns, Exorcist of Apartheid te sien.
– Die Doodloopspore-reeks boeke en ander ondersoekende werk van Botes kan deur die volgende nommer bestel word: 084 650 0017 (WhatsApp).
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie?
Stuur gerus vir ons ‘n epos na bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie.
