Hoërskool Pretoria-Noord maak rugbygeskiedenis in Noordvaal Cup toernooi
Hoërskool Pretoria-Noord se eerste rugbyspan het Saterdag geskiedenis gemaak toe hulle die eerste senior span in die skool se 83-jarige bestaan geword het om ’n titel in die eeu-oue Noordvaal Cup skolerugby toernooi te wen.
Enigiemand wat wil beleef hoe ’n skoolgemeenskap reageer wat 83 jaar moes wag om ’n noemenswaardige rugby-trofee in die vertoonkas te kan uitstal, sou dit Saterdag eerstehands kon ervaar op die sportterrein van Hoërskool Pretoria-Noord.
Pretoria-Noord het oor die afgelope 83 jaar al puik senior rugbyspanne en ster-spelers opgelewer, maar kon in dié meer as agt dekades van sy bestaan nog nooit ’n trofee wen in die Noorvaal Cup toernooi of enige van sy voorgangers nie.
Die emosie onder spelers, afrigters, leerlinge, onderwysers en ouers op die paviljoen toe die eindfluitjie Saterdag blaas ná 70 minute van eindstryd-rugby in die Noordvaal Cup se Afdeling-2 tussen dié skool se eerstespan en hul teenstanders van Hoërskool Standerton, het die volle verhaal vertel.



Daar was uitbundigheid, groot glimlagte en selfs trane van vreugde, want ná ’n lang seisoen van bloedsweet, hoogtepunte én teleurstellings het die telbord amptelik aangekondig dat Pretoria-Noord se Swart Leeus hul teenstanders van Standerton met 46-26 geklop het om as die nuwe kampioen gekroon te word.
Hierdie uitslag het gevolg na ’n klipharde stryd tussen twee puik spanne wat verskillende rugby-filosofieë verteenwoordig het. Dit was Pretoria-Noord se tradisionele aanslag van gestruktureerde rugby gebou op goeie spel in die vaste fasette en gedissiplineerde struktuur agterlangs, teen Standerton se avontuurlustige styl van aanvallende spel van enige plek op die veld, wat ondersteun word deur baie spoed en vaardighede agterlangs.
Die Swart Leeus was egter reg vir hierdie aanslag en het met hul goeie verdediging die besoekers beperk tot slegs vier drieë. Hul oorheersing voorlangs en puik verdediging agterlangs het Standerton se opsies al hoe moeiliker gemaak en die besoekers kon uiteindleik in die tweede helfte net een keer gaan druk, terwyl hulle drie keer die doellyn kon haal in die eerste skof.

Foto: Matthew Nieuwenhuizen
Daarteenoor het die tuisspan sewe drieë ingeryg met goeie afwisseling van hul aanvalstrategie én ’n paar briljante individuele pogings.
Goeie leierskap het ook gesorg dat die tuisspan gefokus kon bly, selfs toe hulle rede gehad het om gefrustreerd te raak. Standerton het byvoorbeeld gereeld met moord weggekom by die afbreekpunte terwyl die Swart Leeus se momentum ook by ander geleenthede versteur is deur gebeure wat nie noodwendig aan die spelers se toedoen toegeskryf kan word nie.
Hierdie prestasie van Pretoria-Noord, asook die puik vertonings van hul ander rugbyspanne die afgelope seisoen, het boonop die gevolg gehad dat die skool gepromoveer gaan word om volgende jaar in die Noordvaal Cup se Bowl-liga te kompeteer. Daar sal hulle by Hoërskool Centurion en Midstream College aansluit as verteenwoordigers van die Blou Bulle se Hoërskole-vereniging.


– Iets word beslis reg gedoen deur die bestuur en sportafrigters by die oudste skool in die noorde van Pretoria, want hierdie rugby triomf was die kersie op die koek van groot prestasies die afgelope jaar.
Nadat die skool einde 2025 ’n skitterende sagtebal seisoen beleef het met twee Gauteng-Noord kampioenskap titels én twee goue medaljes by die groter Gauteng kampioenskap, het Pretoria-Noord se atletiekspan in Februarie vanjaar hierop voortgebou deur die Pretoria C-bond interhoër te wen.
Die afgelope Saterdag kon die eerste rugbyspan dus die kersie op die koek plaas deur as die Noordvaal Cup toernooi se Afdeling 2 kampioen gekroon te word.
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie.
