Local newsNews

Inwoners se klagtes oor gesondheidsrisiko’s rondom winkelsentrum aangespreek

Gesondheidsrisiko’s rondom vullisverwydering en afspoel van suiwelprodukte by ‘n winkelsentrum in Rietfontein het inwoners ontstoke gelaat.

Inwoners se klagtes oor die Pavillion-winkelsentrum in Rietfontein en Rietfontein SPAR in die onmiddellike omgewing van die eiendom en supermark sal onmiddellik aangespreek word.

So sê ’n regsfirma wat die eienaars van die winkelsentrum en supermark verteenwoordig.

Inwoners in die omgewing sê hulle het reeds ’n geruime tydjie las van reuke en insekte veral op dae wanneer vullis verwyder word uit die swart vullisverwyderingstrollies by die sentrum en supermark.

Volgens die inwoners staan daar trollies vol kos, afval en kartonne.

Hulle beweer daar word nie opgeruim wanneer kos en skille uit die trollies of swartsakke op die baksteenplaveisel val nie en die vullis lê na bewering soms vir dae in die son.

“Dit is erg onhigiënies en veral vir ons wat reg langs die sentrum woon, word erg verontrief,” sê ’n inwoner wie se naam op versoek weerhou word.

Die inwoner het al dikwels vir die sentrum- en winkelbesture hierdie gesondheidsrisiko’s uitgewys.

Vir ’n ander inwoner is die ergste probleem die vrot melk en jogurt wat met afvoerkanale by die sentrum afgespoel word en tot onaangename reuke en oorspoeling lei.

Daar is ook klagtes van inwoners oor die optrede van inkopiegangers en besoekers wat nie gepolisieer word deur sekuriteitswagte by die muur tussen huise en die sentrum nie.

“Allerhande gemors word in ons tuine van oor die muur gegooi en ons privaatheid is daarmee heen deurdat mense oor die muur in ons tuine instaar,” vertel ’n ontstoke inwoner.

Die inwoners het uit radeloosheid die wyskraadslid se hulp ingeroep.

Vryheidsfront Plus wyksraadslid Mari Joubert het haar deurlopend beywer om die probleme met die winkelsentrum vir die inwoners op te los, maar het self telkens struikelblokke teëgekom.

“Die situasie is onuithoudbaar en die inwoners hoef dit nie te verduur en te verdra nie want hul gesondheid en eiendomme se welsyn is op die spel,” verduidelik Joubert.

Volgens Hein Wiese, woordvoerder en regsverteenwoordiger van die sentrumbestuur, is die eienaar dankbaar dat inwoners hierdie toestand van sake onder hul aandag gebring het.

“My kliënt besef die gemeenskap rondom die sentrum is die rede vir die bestaan daarvan en ons wil strewe om die gemeenskap te dien,” sê Wiese.

Hy verduidelik dat ’n onafhanklike kontrakteur deur die sentrum en winkel gebruik word vir vullisverwydering van die terrein.

“Die bestuur het met teleurstelling kennis geneem dat die kontrakteur nie aan sy kontrak se voorwaardes voldoen nie en hy is aangespreek deur die eienaars. Die kontrakteur het die bestuur verseker dat sy wanprestasie in die verlede nie herhaal sal word nie,” sê Wiese.

Hy vermeld dat sy kliënt met skok kennis geneem het dat suiwelprodukte en ander vloeistowwe in afvoerkanale afgespoel word aangesien dit ten strengste verbied word.

“My kliënt vra om verskoning dat inwoners hierdie toestand van sake moes verduur en die nodige stappe is geneem sodat dit nie weer gebeur nie,” verduidelik Wiese.

Alhoewel die bestuur nie hul weg oopsien om die muur tussen die eiendomme te verhoog nie, het hulle volgens Wiese onderneem om ’n uitweg te vind om die probleme daarrondom aan te spreek.

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? 

Stuur gerus vir ons ‘n epos na  bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord

Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
Stay in the know. Download the Caxton Local News Network App here.
Check Also
Close
Back to top button