Pioniers kry prestige-toekennings
Leierskap en 'n bydrae tot musiek, joernalistiek en die maak van films is met toekennings beloon.
Die Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge (FAK) het op Vrydag, 1 November sy gesogte jaarlikse Prestige-aand aangebied om in sy 95ste bestaansjaar uitstaande prestasies in kuns, joernalistiek en kulturele erfenis te vier.
Dit is die 70ste jaar wat die toekennings vir uitnemendheid uitgedeel word.
Vier vooraanstaande pioniers is vanjaar erken vir hul uitsonderlike bydraes tot die behoud en bevordering van die Afrikaanse taal en kultuur: prof. Danie Goosen, sangeres Sonja Heroldt, joernalis Barnard Beukman, en skrywer en filmvervaardiger Carl (Tienie) Theunissen.
Goosen, wat vanjaar afgetree het as die langdienende voorsitter van die FAK, is vereer vir sy twee dekades van visioenêre leierskap en baanbrekerswerk.
“Die afgelope paar jaar was regtig wonderlik. Ons het regtig ’n vriendekring en ’n familie geword,” sê hy.
Heroldt, ’n ikoon in die Afrikaanse musiekwêreld, is gevier vir haar baanbrekende impak op die kunste. Sy het haar dank uitgespreek vir die voorreg om ’n toekenning te kan ontvang.
Beukman, gesoute joernalis en koerantredakteur, het erkenning gekry vir sy onwrikbare toewyding aan kwaliteitjoernalistiek.
“Hierdie toekenning word vanaand ontvang namens ’n hele span. Dis só ’n hoogtepunt dat ek dit mag ontvang,” sê Beukman.
Skrywer en rolprentvervaardiger Theunissen het ’n toekenning ontvang vir sy lewenslange bydraes tot die literêre en filmwêreld.
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie?
Stuur gerus vir ons ‘n epos na bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie.
