Boesemvriendinne se breipenne klik fluks vir projek
'n Hulporganisasie se unieke projek om borskankerlyers te help, laat landwyd die breipenne klik.
Te danke aan hulp van die publiek en die private sektor, gaan duisende vroue wat hul borste weens borskanker verloor het, sagte gebreide borsprosteses kry om hul waardigheid en selfvertroue te herwin.
Die sagte borsprosteses word gebrei as deel van Helpende Hand se FroueVonds-projek.
Die naam “FroueVonds” word doelbewus verkeerd gespel omdat die organisasie wil beklemtoon dat dinge nie altyd reg loop nie.

Die FroueVonds se Boesemvriendinne-projek vier vanjaar merkwaardige groei.
Altesaam 1 273 borsprosteses is onlangs deur kranige Helpende Hand-ondersteuners reg oor die land gebrei of gehekel.
Danksy ’n skenking van gehaltesportsokkies deur SOX en USN ter waarde van R150 000, kan die projek voortgaan om nog prosteses voor Oktober 2025 te vervaardig.
Die sokkies gaan verkoop word om fondse in te win.

Hierdie ekstra finansiering van wol en materiaal maak dit moontlik om nóg breipakkette beskikbaar te stel.
“Borskanker raak vroue regoor die wêreld. Geen vrou wil ooit so ’n diagnose ontvang nie,” sê René Roux, woordvoerder van Solidariteit Helpende Hand.
“Sommige vroue kan terselfdertyd ’n borsrekonstruksie kry, maar vir baie is dit nie finansieel haalbaar nie. Dit raak hul selfbeeld en lewensgehalte diep, en daarom is die Boesemvriendinne-projek so belangrik. Dit help om daardie vroue se waardigheid terug te gee.”
Bekende skrywer Gretha Wiid vertel haar deelname aan die projek is vir haar baie kosbaar omdat dit opsigself ’n vrou-tot-vrou projek is.
“Die Boesemvriendinne-projek is ’n ongelooflike manier om vroue se bemagtiging en waardigheid terug te gee. Ek probeer myself indink wat ’n mastektomie aan ’n vrou se vrouwees doen. Ek besef soveel vrouens kan nie ’n prostese bekostig nie en dis net so fantasties om hul die geleentheid te bied om ’n stuk van hul vrouwees terug te kan kry sodat hulle hul koppe kan optel en vroue se harte en lewens op ’n unieke manier kan verander,” glo Wiid.

Verder is die versterking van vriendskap tussen vroue vir haar ’n groot bonus.
“Dis kosbaar wanneer vrouens ander vrouens help en ’n hekel- of breipen optel. Daar is dikwels projekte waar mens ’n verskil kan maak, maar hierdie projek is ekstra spesiaal omdat jy iemand help wat dalk voel die lewe het haar iets ontneem.”
Alhoewel die uitdeeldag jaarliks in Oktober plaasvind, stop die breiery nie in die mooiste maand nie.
’n Hoogtepunt van vanjaar se projek is die bekendstelling van Tarina Hattingh se boek Oorwinning begin by die eerste tree waarin sy haar stryd met en oorwinning oor borskanker beskryf.
Die boek deel nie net haar emosionele en fisiese reis nie, maar ook haar geloof wat haar deur die donker tye gedra het.
In die boek vertel Hattingh hoe haar lewe in 2022 onherroeplik verander het toe sy die diagnose ontvang het.
“In minder as ’n week het my lewe van vol beheer verander na totale onsekerheid, waar ek bloot van uitdaging na uitdaging moes beweeg. Maar in die diepste moeilikhede het God my kom vrymaak en verlos.”
Hattingh, wat nou in remissie is, beskryf die rol van haar geloof, haar familie en vriende tydens haar herstel in die boek.
Die boek is nou gratis beskikbaar in digitale formaat en kan afgelaai word by www.boesemvriendinne.co.za.
Die publiek word ook uitgenooi om deel te neem aan die #Boesemvriendinne-projek. Brei-pakkette kan vir R60 elk gekoop word en sluit al die materiaal in om ’n prostese te vervaardig. Vir meer inligting besoek www.boesemvriendinne.co.za.
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie?
Stuur gerus vir ons ‘n epos na bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie.
