Local newsNews

Stop en ruik die rose, glo nuwe leiers

'n Nuwe groep voorlopers wil 'n verskil maak op talle gebiede in die Moot asook buite die grense daarvan en doen navorsing oor presies hoe om te werk te gaan.

Die “Rosekerk van Rosestraat” in Riviera in die Moot, oftewel die NG Kerk Riviera-Jakaranda, is onlangs effens onkant gevang toe beide sy predikante na nuwe bedieningsvelde vertrek het.

So sê die span wat onlangs in die tuig by die kerk getree het en saam met die kerkraad besluit het om die onverwagte verandering as ’n geleentheid vir vernuwing aan te gryp. Die span moes opnuut vra: Hoe kan die kerk ’n positiewe verskil maak en die gemeenskap die beste dien in ’n uitdagende tyd?

Om hiermee te help, is die dienste van twee bekende leraars bekom: ds. Roelf Opperman en ds. Michiel van der Merwe.

“Met hul aanstelling was die verwagting nie net om die bestaande bedieningsuitreike voort te sit nie, maar ook om navorsing te doen en vas te stel waarop daar in die toekoms gefokus behoort te word, ” verduidelik dr. Hannes van der Walt, voorsitter van die kerkraad.

“Die behoeftes in die gemeente en plaaslike gemeenskap moet immers bepaal wat aandag moet kry.”

Die Rosestraatkerk het ’n geskiedenis van betrokkenheid by behoeftes in die gemeenskap soos om by die Tshwane-distrik- en die Steve Biko Hospitaal in te spring waar nodig is.

“Ons wil goeie bure vir hierdie hospitale wees,” sê Van der Walt.

“Ons was tevore onder andere betrokke by die stigting van HospiVisie, ’n organisasie wat pastorale sorg aan pasiënte en personeel in die hospitale verskaf.”

Hierdie organisasie het intussen wyd gegroei en werk tans onafhanklik in verskeie hospitale landswyd.

“Waar is die Here aan die werk? Dít is die vraag wat ons onsself moet afvra,” glo Van der Walt.

Volgens hom draai die nuwe werkswyse in die gemeente om die vraag na wat die Here sou raaksien as behoeftes en hoe Hy sou wou hê die gemeente daarop moet reageer.

“Die Rosekerk van Rosestraat wil saam met Hom ’n lieflike rosegeur versprei!”

’n Ander voorbeeld van gemeenskapsfokus is die werk van die Mootprojek onder leiding van prof. Johan Oberholster.

“As ouderling verteenwoordig hy die groot hart van die Rosestraatkerk,” vertel Van der Walt.

Ds. Roelf Opperman (voor) en Hannes van der Walt

Oberholster het leiding geneem met die daarstelling van die projek waaraan mense wyd buite die Rosestraatkerk se grense deelneem en die gemeenksap verfraai en verbeter.

“Deur hierdie projek word hoop en nuwe energie vir die opheffing van die Moot-omgewing vrygestel,” verduidelik Van der Walt.

Dit is met hierdie selfde “groot hart” wat die leiers verder nuwe horisonne wil oopmaak.

Naas die geestelike behoeftes wat deurlopend aandag kry, is daar tans volgens Opperman ’n paar unieke geleenthede en uitdagings.

Een daarvan is die gekaapte Malgisedek-gebou waar talle maatskaplike tragedies daagliks afspeel.

“Lede van die Rosestraatkerk is reeds daar betrokke en help inwoners met byvoorbeeld basiese gesondheidsdienste. Daarbenewens werk ons tans saam met verskeie rolspelers om ’n omvattende werkbare oplossing te vind,” sê Opperman.

Die leiers skep moed uit die feit dat die nuwe burgemeester, Dr Nasiphi Moya, reeds bekend is met die omstandighede by Malgisedek en bekend is as ’n doeltreffende bestuurder wat moeilike situasies kan help oplos.

“Ons het goeie hoop om samewerking van haar en haar bestuur te kry,” glo Opperman.

Op sy beurt is Van der Merwe besig met navorsing by die talle versorgingseenhede in die omgewing om vas te stel hoe seniors op ’n bemagtigende manier betrokke kan wees om hul “gryskrag” te laat geld.

Hierdie navorsing het reeds interessante nuwe moontlikhede na vore gebring.

Van der Merwe sê hulle wil graag saamwerk met ander kerke en organisasies om kreatiewe benaderings tot senior-bediening in werking te stel.

“Die ‘baby-boomergeslag’ wat oud geword het, het van oud-word ’n nuwe avontuur gemaak! ’n Senior bediening wat by hierdie nuwe avontuur pas, is waarna ons soek!” sê hy.

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? 

Stuur gerus vir ons ‘n epos na  bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord

Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Back to top button