Local newsNews

WhatsAppgroep en oud-regter ruk sypaadjie reg

"Mag die wandelpad en die WhatsApp-groep ook vorentoe van veel nut wees." - Kees van Dijkhorst, Moot-inwoner.

In sy regsdae het hy bekend gestaan as “die leeu van die hooggeregshof in Pretoria” omdat hy misdadigers aan die pen laat ry het en veral ook nie enige ongeskiktheid in sy hof as regter in sy 21 jaar op die regtersbank toegelaat het nie.

Min kon die hofgangers raai dat oud-regter Kees van Dijkhorst (90) ’n sagte hart vir sy gemeenskap in die Moot het.

Hy het saam met sy dogter, Eldie Kruger, en inwoners van Eben Rouxstraat toegesien dat die Moot ’n geplaveide sypaadjie ryker word om dit vir voetgangers soos werkers en drawwers veiliger te maak om veral verby ’n gevaarlike draai op ’n opdraande te beweeg.

Oudregter Kees van Dijkhorst (90) knip die lint om die wandelpad te open.

Die gerespekteerde regsgeleerde het vroeg in November self die lint geknip om die geplaveide pad bekend te stel.

“Ek het sedert April 2016 gepoog om die stadsraad te nader om die probleem van die gevaarlike draai in Eben Rouxstraat aan te spreek. Verskeie inspeksies ter plaatse is gehou. Daar was begrip maar geen aksie nie. Daar is toe besluit om die probleem self op te los,” vertel Van Dijkhorst.

Om die inwoners saam te snoer, was dit nodig om ’n WhatsApp-groep te stig, verduidelik hy.

“Pamflette is gedruk en versprei. Hierin was Ronel de Wet van Die Moot Projek die anker. Toestemming moes verkry word om op stadsraadsgrond die sypaadjie te bou. Met die aansoek was Johan Oberholster van Die Moot Projek en Rowan Albertyn van veel hulp. Toe is geld ingesamel en geadministreer deur die trustrekening van prokureurs Coetzer en Vennote wat inwoners van ons straat is,” skets hy die prentjie verder.

Die netjiese paadjie in Eben Rouxstraat in die Moot waarlangs voetgangers nou danksy ‘n gemeenskapspoging kan stap sonder die vrees dat hul omgery gaan word.

Op 2 Oktober kon hulle uiteindelik aan die werk spring.

“My dogter, Eldie en haar man Fanus, en ’n knap span het dit aangepak. Dis op 24 Oktober voltooi,” sê hy.

Hy het almal bedank wat bygedra het. “Mag die wandelpad en die WhatsApp-groep ook vorentoe van veel nut wees,” hoop Van Dijkhorst.

Van Dijkhorst vertel hy het betrokke geraak omdat hy “’n man van die Moot is. Ek het grootgeword in Parktown. My laerskool was Laerskool Mayville. Ons het later in Rietondale kom woon vanwaar ek in Affies my hoërskooljare deurgemaak het en soontoe gery het met my trapfiets. Ek het daarna Tukkies aangedurf met ’n James-motorfiets,” vertel hy.

Oor Parktown het hy onlangs ’n bydrae gemaak in die bundel oor Pretoria, Pretoria Stories, saamgestel deur die redakteur Pieter Swanepoel.

Van Dijkhorst het ook vantevore die boek Die Arnorster en ander Vertellinge, plus drie ander boeke waaronder die spanningsroman, Kroniek van Donkerhoek, gepubliseer.

Ronel de Wet en Kees van Dijkhorst

Hy vertel na sy troue het hy sy eerste woning gekoop in Buffelsweg, Rietondale.

“Ons kinders is daar grootgemaak. Daarna het ons gaan woon op die rant, Pierneefrif, wat genoem is deur die belangrike mense, tussen Rietondale en Villieria. Ons woon nog daar met ’n pragtige uitsig oor die Moot,” vertel hy.

In Swanepoel se saamgestelde bundel vertel hy ook van die rooibaksteenhuis waarin hy in Frankenrylaan in Parktown grootgeword het en die koeie wat op ’n plot twee strate agter hul huis aangehou is en visvangdae saam met die bure in die Bon Accorddam.
Hy het die Apiesrivier fluks verken en in ’n grot in die kranse van die Magaliesberg gespeel. Hy en sy maats moes ligloop vir die bendes van Capital Park en Sondae het hulle met die bus na die Paul Kruger Gereformeerde Kerk in Pretoria-Wes gegaan.

Maar sy hart het altyd aan die Moot behoort, en daarom op ’n vraag oor wat sy hart so mooi vir sy gemeenskap maak dat hy tot die geplaveide wandelpad bygedra het, is sy antwoord: “My hart se punt wys na die Moot”.

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? 

Stuur gerus vir ons ‘n epos na  bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord

Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Back to top button