Eindelose somer vir besige musiek- en radioman
Of hy nou saam met internasionale sterre optree, in ’n opname-ateljee sy eie liedjies opneem of agter die mikrofoon inskuif, is daar aan hierdie gesoute omroeper, sanger en liedjieskrywer iets vrolik en prettigs wat jou aan’‘n eindelose somer laat dink.
Martin Bester se nuutste enkelsnit, “Forever Summer”, se lirieke en melodie het ’n nostalgiese stemming van goeie tye op die strand gedurende die negentigerjare.
Glad ook nie vreemd nie, want hierdie talentvolle vermaaklikheidster, sanger, liedjieskrywer en omroeper het sy kleintyd langs die Oos-Kaapse strande met sand tussen sy tone en seewater in sy hare deurgebring.
Die musiekvideo is dan ook by Hobie Beach, een van sy gunstelingstrande in Gqeberha in die Oos-Kaap, geskiet.
“Soveel herinneringe het met die produksie van die video by my opgekom. Dis ’n regte kuierliedjie vir die somer,” vertel hy met ’n terugdinkglimlag.
Bester het ook ’n paar jaar gelede sy eerste enkelsnit se video saam met sy groep, Kinky Robot, op Hobie Beach gaan opneem.
“Ek het oorkant die pad by Hobie Beach gewerk vir vakansies. As ons skof klaar was, was dit tyd om strand toe te gaan en sommer net daar te gaan ontspan. Enige strand is baie na aan my hart.”
Alhoewel die Bester-gesin ver van die strand in Gqeberha gewoon het, het hulle altyd ’n plan gemaak om daar uit te kom.
“Kings Beach, Humewood Beach – al hierdie strande het ’n groot rol in my grootwordtyd gespeel. By Kings Beach was daar ook ’n swembad as die see te rof vir swem was en ’n treintjie om te ry. Ek sal nooit vergeet hoé, wanneer dit ’n mooi dag is en jy gaan strand toe, slaan die seelug en die soutreuk jou so tussen die oë.”
Die gesin het ook dikwels met vakansies, veral by Willows-vakansieoord, by die see gaan kampeer.
“My ma-hulle het baie van kamp gehou en ons het orals met die karavaan getoer. Op ’n lieflike of ’n lelike dag, die see was altyd vir ons mooi,” vertel hy met ’n hunkering na die seetye in sy stem.
Om met vriende rond te rits op die agterkant van ’n duinebesie naby die Sondagsrivier of strande van St. Francis, met dik wiele in die sand en die wind in jou hare, was vakansietye ’n gunstelingtydverdryf.
Op ’n branderplank het hy dit egter nie sommer gewaag nie.
“Ek het probeer, maar ek is nie baie goed nie,” lag hy.
Bester het self die lirieke vir “Forever Summer” geskryf. Daarna het hy ’n musikant wat ’n gas op sy ontbytprogram op Jacaranda FM met hom gesels het, Jethro Tait, gevra om die melodie te skryf.
“Hy is ’n ongelooflike talentvolle musikant en sy eerste weergawe het my dadelik in die liedjie ingetrek. Ons kon ook sy stem hier en daar gebruik.”
Bester was ook onlangs betrokke by die opneem van ’n liedjie met sterk uitsprake teen boelies vir die Rise Again-antiboelie-veldtog.
“Ek dink afknouery speel ’n groot rol in almal se lewens. Soms voel dit of die boelies wen en asof daar geen gevolge is nie. Mens moet iets vind om jou sterk te maak in sulke tye. Ons almal ervaar afknouery op veral sosiale media. Met dié veldtog wil ons die krag teruggee aan die mense wat geboelie word en sê: Jy het ’n stem en jy moét gehoor word.”
Bo en behalwe die opnames, het Bester en sy groep onlangs vir die bekende internasionale ster, Kip Moore, se voorvertoning opgetree tydens sy konsert op Loftus.
“Die verhoog was van internasionale standaard. Dit was eerlikwaar ’n ongelooflike ervaring, veral tegnies gesproke. Dit was ook ’n riem onder die hart dat hy ons plaaslike kunstenaars betrek het.”

Wanneer hy nie in die opname-ateljees of op verhoë is nie, skuif Bester gemaklik agter die mikrofoon in die Jacaranda FM-ateljees in Midrand in.
Hy is ook deur lesers vir die soveelste jaar in Rekord se Best of Pretoria-promosie aangewys as die gewildste radio-persoonlikheid.
“Ek dink radio het dit reggekry om aan te pas en te aanvaar dat dinge vinnig verander. ’n Radioprogram sal altyd oorleef indien jy ’n persoonlike aanslag het en steeds ook bly kommunikeer met een persoon op lug oor sy opinie of standpunt,” vertel hy meer van sy wenresep.
Hy laat nie ’n toekenningsoomblik soos dié een in die Pretoria Botaniese Tuin tydens die Rekord-geleentheid by hom verby gly nie.
“Ek glo mens moet sulke oomblikke by jouself laat insink,” meen hy.
Sy tweetaligheid het hy te danke aan sy ouers, die Engelse woonbuurte waarin hy grootgeword het en ook sy tweetalige laerskool.
So met die terugblik dink hy aan nog ’n onlangse vrystelling deur hom, “Bietjie asseblief”. Hierdie liedjie gee hy homself ruimte en spasie om iets vars te skep.
“My musiek is privaat en persoonlik. Ek hou daarvan om met elke liedjie iets anders te doen.”
Kliek hier om na “Forever Summer” te luister:
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie?
Stuur gerus vir ons ‘n epos na bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie.
