Moot Projek kyk terug op jaar se suksesse
Die inwoners van die Moot is aan die einde van die jaar beter af met sypaadjies en strate wat opgeknap is, parke wat verfraai is en ’n spoggerige brug vol interessante muurkuns.
Die twee stigters van die Moot Projek, Johan Oberholster en Hennie Mostert, sê hulle het soos in 2023 vanjaar verskeie hoogtepunte met die projek beleef.
Hieronder tel die verfraaiing van die Moot Slothuispark met die geverfde slothuis, die kunswerk in die middel daarvan en die wandellaan aan die binnekant van die park se grensdraad. Sowel as die massiewe verfprojek waarmee gepoog word om al die munisipale infrastruktuur soos lamppale, bushaltes, kragbokse en swaai-asblikke in die Moot oor te verf.
Die geplaveide wandellaan op Moot Slothuispark (oorkant Oppiplaas) is 610m lank en is volledig deur lede van die gemeenskap en besighede uit die Moot geborg en gebou.
“Dit is geïnspireer deur die promenade in Kaapstad langs die see by Mouillepoint en Seepunt en gedoen volgens die voorbeeld van Rietondalepark se wandellaan. Ek wou graag iets binne maklike bereik van mense in die regte Moot beskikbaar maak. Ek het nooit gedink dat ons dit sal regkry nie. Dit het ongeveer twee maande geneem om te voltooi en ek het hoogstens gedink ons sal ’n wandellaan met ’n gruisoppervlak kon hê. Die plaveiselwandelpad was ’n droom wat waar geword het,” verduidelik Oberholster.
Die gebruik van die wandellaan is op 8 Junie deur die voormalige burgemeester, Cilliers Brink, ingewy. Daartydens het gemeenskapgroepe soos draf- en stapklubs bymekaar gekom om die nuwe wandellaan al om die perimeter van die Slothuispark te gebruik.
Die verfraaiing in Steadlaan, by die “poort tot die Moot”, met gepakte klippe en die opruim van die deel langs Gordonweg op die hoek van Woodlandsrylaan in Queenswood waar plakkers hul tuisgemaak het, word ook deur Mostert uitgesonder.
“Daardie area is en bly nou mooi skoon,” sê hy.
In 2022 en 2023 was die hoogtepunte onder meer die brugverfprojek waartydens verskeie treinbrûe in die Moot in die skilderstyl van internasionaalbekende Suid-Afrikaanse kunstenaars versier is.
Vanjaar is hierdie projek voortgesit en die jongste voltooide werk is, soos voorheen, aangebring deur portretkunstenaar Elsie Weich wat Suid-Afrikaanse voëls op 24ste Laan se brug geskilder het.
Vir beide die stigters staan die verf van die Rietondale High School se grafittimuur op hoek van 18de Laan en Pierneefstraat ook uit.
Een van vanjaar se grootste projekte was die verf van meer as 3 500 lamppale in die woonbuurte soos Rietondale, Riviera, Queenswood, Pierneefrif, Deerness, Gezina, Môregloed, Waverley, Wonderboom-Suid, Kilnerpark, Koedoespoort, Villieria en Rietfontein.
“Hierdie verfwerk is deur ons getroue verwers, Hendrick Makopo en Silas Monakedi, gedoen en volledig deur besighede en individue uit die Moot befonds. Die Moot Projek is uiters dankbaar vir hul donasies en daarsonder sou niks hiervan moontlik gewees het nie,” wys Oberholster uit.
“Ons glo hierdie projek het ’n reuseverskil aan die omgewing en die voorkoms van die Moot gemaak.”
Met November se skropsessie wil die projek saam met inwoners die groot kruising by Rietfontein Pavilion van Pierneef-, Jacobs-, Parkerstrate en Fratesweg verfraai. Hierdie skropsessie vind hierdie Saterdag (16 November) plaas.

Die Moot Projek se skropsessies is volgens hom “die ruggraat van gemeenskapsbetrokkenheid om die projek te laat werk”.
Moot Slothuispark se snoeiwerk en skoonmaak, sowel as Steadlaan se gepakte klip, is beide grootliks tydens skropsessies deur die gemeenskap voltooi.
Lede van die gemeenskap word hartlik uitgenooi om die Moot Projek se skropsessies by te woon waartydens dit volgens Oberholster uiters gesellig is en mens ongelooflike mense ontmoet.
“Tydens so ’n geleentheid werk inwoners van die Moot saam in die Moot en doen dit vir die Moot. Daar is geen nadele aan gemeenskapsdiens nie, dis goed vir jou om iets vir iemand anders te doen, dis goed vir ander mense om saam te werk en dis goed vir die omgewing en die Moot – dis wat mens noem ’n wen-wen-situasie!” glo Oberholster.
Nog ’n hoogtepunt vir hom is die kommentare van deelnemers wat op 9 November aan die Jacaranda City Challenge oor 5km, 10km, 21km en 42km meestal deur Rietondale, Villieria en Queenswood deelgeneem het.

Een van die deelnemers van die Moot, Adri Dames-Pillay, sê terwyl sy gehardloop het, het sy na gesprekke om haar geluister.
“Party mense het van ver gekom en soos almal stap, draf of hardloop hoor ek hoe die mense sê wat ’n ongelooflike nice, skoon en baie mooi area die Moot is. Party atlete was half verstom dat ’n buurt só mooi in ’n stad in SA kan wees. So knap gedaan Moot Projek!”
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie?
Stuur gerus vir ons ‘n epos na bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie.



