Local newsNews

Berg se veelsydigheid kap telkens ‘n nuwe pad oop

As akteur, skrywer en entrepreneur het hy sy merk gemaak, maar vir hierdie voormalige Pretorianer kry die lewe sin en vervulling as hy tuis by sy gesin is.

Oud-Pretorianer Hykie Berg (46) se hoop en geloof om diegene te help wat sy pad kruis, spreek uit die opregte manier wat hy gesels oor sy eie ongelyke paaie.

Nié op’n selfbejammerende en verwytende manier nie.

Eerder op ’n wyse wat sy ongebreidelde passie vir persoonlike groei jou besiel om nuwe horisonne te soek.

Hykie Berg

Ook, met gevatte humor want Berg is spitsvondig en skérp.

Hierdie akteur, entrepreneur, motiveringspreker en voorspraakmaker vir ’n lewe sonder afhanklikheidsmiddels, weet ook waarvan hy praat.

“Ek het vroeg in my lewe besef ek is op my eie aangewese om iets besonders van my lewe te maak en sal verantwoordelikheid vir myself moet neem. Maar ek sal my ma en pa ewig dankbaar wees dat hulle tot die beste van hul vermoëns vir my voorsien het,” vertel hy dankbaar.

Uit Berg se pen het sy derde boek, Geroep vir meer – Om suksesvol te lewe, onlangs verskyn. Sy eerste boek, My storie van hoop, was ’n wegholsukses en het die Andrew Murray-Desmond Tutu-prys verower.

Die boek spreek van ’n onblusbare gees om altyd weer op te staan, nog ’n keer te probeer.

Sy droom om ’n liefdevolle gesin en innige huishouding saam met sy wederhelfte Gerridene en dogtertjie, Leméh, te skep is die afgelope paar jaar verwesenlik en vir hierdie dromer is hierdie vervulling wat regtig tel.

Hykie Berg

Die les van wat sin en saak maak, was ’n duur ervaring vir Berg.

Hy erken ruiterlik dat sy verhouding met sy werk lank die belangrikste ding in sy lewe was. Hy moes leer wat is ware sukses om vervulling te smaak.

“Nou weet ek my gesin, eerder as geld, maak van my ’n man,” vertel hy met ’n nederigheid wat net met ervaring kom.

Dis ’n groot erkenning vir die jong seun wat vroeg met sy sakeloopbaan begin het deur vanuit hul Kaaps-Hollandse huis in Pretoria-oos op sy fiets geklim het en heuwel op en heuwel af koerante afgelewer het.

Hy het ook ingespring by ’n visrestaurant in Brooklyn as kelner en het later sy hand daaraan gewaag om stofsuiers te verkoop, altyd met ’n diep dryfveer om sukses te behaal en die konflik wat die vrees van mislukking in hom veroorsaak het, te oorwin.

“Ek wou nooit afhanklik wees van iemand of ’n las vir iemand wees nie. Ek wou in beheer wees,” vertel hy van die tye toe hy skaars drie sente kon bymekaar skraap.

Met waagmoed en geesdrif het hy gedurende ’n probeerslag om ’n B.Comm aan die Universiteit van Pretoria te verwerf, verskeie ander entrepreneursmoontlikhede ondersoek soos om padmerkers met huisnommers daarop te verkoop gedurende vakansies.

“Ek het geleer om aan vreemdelinge se deure te klop, wat die beginsels van verkope en bemarking is en dat als in die lewe meer om verhoudings as syfers draai, maar ook dat die wet van gemiddeldes een of ander tyd met syfers inskop,” vertel hy.

Mettertyd sou hy drama gaan swot by die Universiteit van Stellenbosch en sy pad na die vermaaklikheidswêreld vind met verskeie rolle in sepies, film en TV-reekse, en is tans te sien as dr. Conrad Bester in Binnelanders.

Berg se verhaal met sy verskeie verslawings en verblyf in rehabilitasiesentrums is welbekend. Aan die wortel hiervan was ongediagnoseerde aandaggebrek-hiperaktiwiteitsindroom (ADHD), weet hy nou. Sy tweede boek, ADHD – die Onsigbare oorlog, praat hy breedvoerig oor hierdie stryd.

Nie dat hy die sindroom enigsins as ’n verskoning gebruik nie.

Hy erken ruiterlik in sy boeke en motiveringspraatjies: “Ek was ’n heroïen junky, leuenaar en dief”.

“Ek het baie mense seergemaak met my verslawing,” vertel hy bewoë en verduidelik hoe graag hy steeds op sekere paaie in sy lewe steeds sal wil terugstap en vervreemding met dierbares sal wil oorkom.

Hykie Berg

Hy het nog ’n omdraaipunt beleef toe hy ook in ’n stadium ’n mede-akteursvriend die oggend op stel gesien het en die middag in ’n inligtingsadvertensie op die kassie.

“Ek het besluit ek moet ’n plan maak of ek is op dieselfde pad. Om enigiets te doen om aan die lewe te bly. Ek moes ’n plan maak om volhoubaar te oorleef,” vertel hy van die gloeilampoomblik toe hy besluit het om die entrepreneur in hom te ontwikkel.

Berg vertel hy het veel by sy pa, ’n senior advokaat, geleer.

Soos die besef vir ’n ware entrepreneur is daar altyd nog ’n produk, nog ’n mark. Só het hy het in ’n stadium ’n geleentheid in die verbandbemarkingsmark aangegryp asook hande gevat met ’n maatskappy met ‘n nuwe verbeeldingryke produk, Pap-in-a-Can. Die gereg het hy vir ’n tyd op feeste verkoop.

Sy oomblik van bevryding van talle onsekerhede, gesondheid- en verslawingsprobleme het gekom toe hy op die eiland Maldives in 2010 aan die TV-program Survivor deelgeneem het. Hy het die reeks gewen en R1-miljoen prysgeld in sy sak gesteek.

“Daar het ek die Here kennelik vir die eerste keer ontmoet en ek is op die eiland vrygemaak,” vertel Berg wat ook hier die opdrag gekry het by God om sy eerste boek te skryf.

Nog ’n lewensveranderende oomblik in dieselfde jaar was toe hy die stigter van ’n voorste finansiële groep attooh!, Wouter Snyman ontmoet het.

“Hy het my geleer die lees van selfverbeterings- en welvaartskeppingsboeke kan ’n verskil maak aan hoe ek oor geld dink.”

Vandag is Berg TV-aanbieder, akteur, internasionale spreker en ’n kenner op die gebied van affiliaatbemarking.

Maar vir hierdie toegewyde pa bly dit steeds oor die gebrokenes en gekneusdes sowel as die wyer samelewing.

Hy ploeg nou ook sy kennis terug om verslaafdes te help met behulp van die Hope Again Recovery Centre.

“Ek weet hoe dit voel om in die donker te wees en nie te weet wat die pad vorentoe is nie. Ons is almal gebroke en het meer genesing nodig as wat ons ons kan voorstel. Ek wil uitreik na diegene wat só voel en verhoudings herstel.”

Vir meer inligting, besoek www.hopeagainrecoverycentre.org.

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? 

Stuur gerus vir ons ‘n epos na  bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord

Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Back to top button