Brulbende met Harleys ‘n goue herinnering
'n Prentjie van jarelange bestendigheid word duidelik geskets wanneer mens inloer by ’n paartjie wat 50 jaar gelede in die Moot getroud is. Hul woon steeds in hul trouhuis en sit aan by hul eerste meubelstuk, ’n eetkamertafel.
Toe Petro (78) en Edward Scheltema (82) van Gezina in die Moot hul 50ste troudagherdenking op 5 Oktober gevier het, was daar een herinnering van hul lewe saam waaroor hulle nie uitgepraat kon raak nie.
Die grasieuse gryskop, Petro, se droom was om eendag op ’n Harley Davidson te ry en te voel hoe die ysterperd onder haar brul. Haar dogter, Annelize Swanepoel, was bewus van die droom en het besluit om haar ma te verras.
Sy het op ’n Moot Facebook-groep gevra of iemand haar nie dalk wil help om haar ma se droom te verwesenlik nie. Gou was daar verskeie aanbiedinge op die tafel en sy kon ’n verrassingrit reël.
Die brulbende van Duval Olwage, Riaan Coetzee en Amanda van Zyl het opgedaag, en daar ry Petro toe met die bekende valhelm op die kop ’n paar blokke ver agter op Coetzee se fiets. Skaars teruggekom en Edward is deur Olwage opgelaai en saam het hul ’n paar blokke in die Moot gery.
Hierdie verwesenlikte droom is een van baie herinneringe wat vir die sagte vrou met die skugter glimlag uitstaan.

Edward onthou veral hoe mooi Petro was toe hy haar by Nickelhuis raakgesien en begin uitneem het.
“O, sy het mooi hare gehad. Sulke lang, blonde hare. Ek het haar sommer gou liefgekry,” sê die destydse poskantoorklerk wat vir 43 jaar aan die poswese verbonde was. Hy kan veral sy werksdae in die Poskantoorgebou op Kerkplein onthou.
“Ek het soms 18-uur-dae gewerk en Petro was atyd geduldig tuis en reg met kos as ek tuiskom,” vertel hy met ’n vinnige en liefdevolle blik na sy gade. Sy hand glip en rus sag oor hare.
Petro vertel hoe Edward nie wou toesien dat sy voltyds in die tuig staan nadat hulle getroud is nie. Sy het as dagmoeder tuis by hul huis in die Moot ingetree om werkende ouers te help.
Die huis met sy netjiese grasperk en kleurvolle beddings is die eerste en enigste huis waarin die twee in hul getroude lewe saamgewoon het nadat hulle na hul troudag daar ingetrek het. Petro wys trots na die eettafel, hul eerste meubelstuk, wat steeds in die eetkamer pryk.
Mettertyd het hul aangebou aan die gesellige huis soos die gesin uitgebrei het en drie kinders se vrolike gelag in die vertrekke weerklink het.
Vandag kom loer vyf kleinkinders gereeld hier in en lê weg aan Petro se tuisgebakte koekies.
Die eetkamerbuffet is vol geraamde foto’s, onder meer van die Scheltemas se troudag in die NG Kerk Rietfontein-Suid 50 jaar gelede. Petro kyk nostalgies daarna en verduidelik hoe hul wittebrood destyds in Kaapstad vir haar ’n hoogtepunt in hul tyd saam is.
“Ons besoeke aan die Kompanjiestuine in die middestad en Kirstenbosch staan vandag nog uit,” sê sy.
Mettertyd sou die Scheltemas met hul gesin wildtuinvakansies hou.
Vir beide is dit belangrik om te meld dat hul dogter Annelize ook 5 Oktober as troudag gekies het.
“Dit beteken baie vir ons. Ons is maar sentimenteel oor dinge,” vertel Petro.
Om saam in die kombuis op ’n gereelde basis kos te kook vir behoeftige bejaardes in hul buurt en dan die kos te gaan aflewer, is ’n projek waarrondom hul deesdae hul dae beplan.
Edward het onlangs ’n ligte beroerte gehad en sy gesondheid en herstel is ook ’n faktor wat ingereken word in hul kom en gaan.
Die boekrakke wat kreun onder ’n verskeidenheid boeke wys op Edward se liefde vir lees. Petro weer doen naaldwerk en verstellings aan klere.
Vra jy uit na die resep vir lang huweliksgeluk, antwoord Edward vinnig: “Genade vir mekaar”.
Petro weer kyk liefdevol na hom: “Van vroegs af in ons verhouding het hy gereeld vir my blomme gebring en was daar tussen ons ’n innige vriendskap.”
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie?
Stuur gerus vir ons ‘n epos na bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie.
