Studente stel hul kosafval oplossings ten toon
Die Universiteit van Pretoria (UP) se Cycled #waste2wonder geleentheid is by hul Departement van Verbruikers- en Voedselwetenskappe aangebied.
Plaaslike studente het Saterdag hul oplossings vir die gebruik van voedsel-afval tydens ’n geleentheid ten toon gestel.
Tshwane is een van Suid-Afrika se stede met ’n hoë afval per kapita per jaar, wat op 134kg per inwoner per jaar gereken word.
Die Universiteit van Pretoria (UP) se Cycled #waste2wonder geleentheid is by hul Departement van Verbruikers- en Voedselwetenskappe aangebied.
Die doel was om die kreatiwiteit van vierdejaarstudente te vier in departemente soos gasvryheid en kleinhandel. Die studente moes volhoubare produkte oplewer asook ’n driegangmaaltyd vir meer as 100 gaste voorsit met kos en produkte wat normaalweg weggegooi word.
Organisasie sonder winsbejag, SA Harvest, het saam met die departement gewerk om maniere te vind wat studente kon gebruik om kos aan te pas en produkte te herwin deur afval in ’n nuwe lig te beskou.
Die organisasie is daaraan toegewy om hongersnood te keer en voedselafval te verminder.
Bedryfshoof Ozzy Nel sê hulle is altyd verras deur die studente se innoverende manier om uitdagings rondom die heroriëntering van produkte en kos aan te pak.
“Ons glo daaraan om diepgewortelde verhoudings met gemarginaliseerde gemeenskappe te bou om kos aan die mees kwesbare te herlei,” sê Nel.
Volgens hom spreek die organisasie sedert 2019 kosafval deur reddingsoperasies, opvoeding en volhoubaarheidsprogramme aan.
Dit gebruik beide verkoelde en onverkoelde voertuie om voedseldonasies effektief af te haal en veilig aan begunstigde organisasies af te lewer.
Departementshoof prof. Gyebi Duodu se dat die studente se pogings om kosafval te minimaliseer “nogals ’n groot prestasie was en wys dat ’n goeie grondslag vir hulle gelê is om die voedselbedryf te betree”.
Met verwysing na die aand se tema van ondersteunende volhoubaarheid, sê hy: “Hierdie is ’n kopskuif wat ons in Suid-Afrika benodig as ons na ’n hongervrye wêreld wil beweeg”.

Dit word geskat dat daar in 2022 in totaal 1,05 miljard ton kosafval wêreldwyd verlore gegaan het.
In Suid-Afrika, is die kommoditeitsgroep van voedsel wat die meeste vermors word, vrugte en groente, met die grootste verlies wat tot vermorsings lei tydens die verwerking en verpakking van hierdie produkte.
Studente het verskeie produkte as hul oplossings om kosafval te verminder ten toon gestel.
Op die rakke by die geleentheid was produkte soos druiwe-brandrissie-konfyt wat wys dat as beskadigde druiwe herwin kan word, kan besighede ’n verskeidenheid van produkte van afval tot ’n waardevolle produk omskep.
’n Ander span van verbruikerwetenskaplikes het ’n tendens aangegryp en ’n smoothie-poeier van vrugte en groente ontwikkel wat andersins op die ashoop sou beland.
Vrugte en groente wat telkens te gekneus is vir supermarkrakke of wat geringe onvolmaakthede het, het sleutelbestanddele geword vir die poeiers deurdat dit eers gedihidreer is om die rakleeftyd te verleng en dan in ’n poeiervorm omskep is. Hierdie poeier kan by water, melk of jogurt gevoeg word.
Voedselwetenskaplikes het ook hierdie jaar aangesluit by studente met innoverende oplossings vir produkte rondom voedselafval soos plastiese broodpakkies.

Hulle het maniere gevind om die blou-en-rooi broodpakkies in ander klaargemaakte produkte soos klere en huishoudelike produkte te herwin.
Die wenner van die kompetsie wat met R1 500 prysgeld weggestap het, is Nondumiso Mthembu, ’n vierdejaarstudent wat die broodverpakking gebruik het om ’n gehekelde piekniekkombers en kussing vir ’n uitstappie te skep.
Mthembu is ook trots op die ander werk wat sy in die tekstieldepartement verrig deur klere van denim met borduurwerk te maak met die hulp van Mabula Embroidery, ’n organisasie sonder winsbejag.
“Ons skep ’n nuwe soort mode deur die klere ’n unieke voorkoms te gee met borduurwerk en terselfdertyd van die borduurwerkers te leer,” sê Mthembu.
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie?
Stuur gerus vir ons ‘n epos na bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie.



