Local newsNews

Organisasie bereid om metropolisie met hommeltuie te help

'n Burgerregte-organisasie wil in 2025 in die Moot en groter Pretoria hul fokus op gemeenskapsveiligheid plaas en het 'n hand uitgereik na die metro om die polisie hommeltuigopleiding te gee.

AfriForum het opnuut ’n hand van samewerking aan die metro uitgereik om hul kennis en vaardighede saam te voeg ten einde ’n veiliger stad vir almal daar te stel.

So sê Llewellynn Hemmens, distrikkoördineerder Groter Pretoria-Noord.

Hy benadruk die organisasie het vroeër vanjaar ’n ooreenkoms met die metro gesluit oor die instandhouding van parke en paaie in woonbuurte.

Die buurtwag van AfriForum tydens ‘n onlangse patrollie in die Moot. Foto: Verskaf.

AfriForum wil egter nou ook sy uitgebreide veiligheidsnetwerk aan die metro beskikbaar stel.

Die organisasie het verskeie brandpunte in Pretoria geïdentifiseer waaronder substasies, reservoirs en areas wat gereeld onder kabeldiewe deurloop.

Hemmens meen dat dit beter is om proaktief op te tree deur hierdie brandpunte te beveilig eerder as om reaktief op te tree wanneer die skade klaar aangerig is.

“AfriForum-buurtwagte regoor die land het reeds vele suksesse behaal met behulp van hul hommeltuigtegnologie en opgeleide hommeltuigvlieëniers. Hierdie hommeltuie kan ook help om infrastruktuur te beveilig en die organisasie het reeds aangebied om opleiding aan metropolisielede te gee oor hoe om die hommeltuie so doeltreffend as moontlik aan te wend,” verduidelik hy.

In die noord- en Moot-streek is die hommeltuie al suksesvol aangewend met situasie-ontledings tydens rampe, veldbrande en onluste, asook om vermiste persone en kabeldiewe op te spoor.

Hemmens glo dat die versterking van verhoudings tussen rolspelers en veral met die metro krities is vir ’n veiliger stad.

Hy het met ’n terugblik op die organisasie se projekte in die Moot vanjaar gemeld dat gemeenskapsveiligheid in 2024 en vir 2025 ’n belangrike fokusarea is vir die organisasie.

“Ons glo dat voorkoming beter is as om ná die tyd skadebeheer toe te pas. Dus, ter wille van ons gemeenskappe en om die verdere beskadiging van ons infrastruktuur te verhoed sal ons die AfriForum-beheerkamer, -buurtwagte, -radionetwerke en -hommeltuie inspan om die metro te help om infrastruktuur in Pretoria te beveilig. Só kan ons ook help om die reaksietyd te versnel wanneer insidente plaasvind.”

Lugvleuel-koördineerder vir AfriForum Veiligheid, Petri van der Walt, tydens ‘n veiligheidsoperasie in die Moot. Foto: Verskaf

Hy wys daarop dat in die Moot die buurtwag hierdie jaar nader aan mekaar gegroei het.

“Veral twee elemente het uitgestaan. Buurtwaglede het spontaan meer begin oefen en hulle het ook meer tyd op die skietbaan spandeer,” verduidelik Hemmens.

Hy verwys na voorvalle waar die metro en die organisasie koppe gestamp het, soos boetes wat opgelê is.

“Ons het nie die boetes betaal nie. Die eerste boete vir die skoonmaak van stormwaterdreine is terug getrek deur die aanklaer. Die tweede saak van die opruim van bourommel in die spruite het die eerste hofverskying plaasgevind en die saak is uitgestel na Januarie 2025.”

Hemmens glo die toekoms van dienslewering en veiligheid is in gemeenskappe se hande.

“Gemeenskappe wat dit regkry om plaaslik te mobiliseer sal hulle self beter kan verskans. Hoe meer die staat verval, hoe meer sal gemeenskappe die leemtes vul. Die staat word nie uitgedaag nie, maar die vakuum sal bloot deur georganiseerde gemeenskappe gevul word wat tot groter federaliteit sal lei in plaaslike regerings.”

Hy meen die groter klem op veiligheid in die Moot deur die buurtwagte van die organisasie is moontlik gemaak deur meer opleiding.

“Ons wil graag vir Colin Stanton bedank vir die skietopleiding wat hy vir die buurtwag gee saam met Buffelsfontein Wapens wat vir die buurtwag ’n bymekaarkomplek gee,” vertel Hemmens.

Hy benadruk daar is ook baie ander leiers wat uitgelig kan word wat die pasafgelope jaar ’n verskil in hul projekte in die Moot gemaak het, maar wil ook die inwoners uitlig wat besig is om elkeen ’n leiersposisie in te neem in sy eie huis en straat.

“Inwoners wat verantwoordelikheid neem vir hul eie gesinne se watervoorsiening, sonkrag, hulle straat mobiliseer om in te skakel by die buurtwag, kameras op te sit en sypaadjies se gras te sny, is ons steunpilare. Hierdie gewone mense wat bietjie vir bietjie besig is om vir hulle huis en straat verantwoordelikheid te neem, is gemeenskapshelde,” glo Hemmens.

Andries Opperman, woordvoerder van AfriForum se Groter Moot-tak, wys daarop die tak stoei maar om die begroting te laat klop en terselfdertyd projekte uit te bou.

“Wat uitgestaan het hierdie jaar is buurtwaglede wat, toe borge van buite minder raak, self bygedra het en gehelp het om die wa deur die drif te trek deur hul eie tyd en ook finansiëel by te dra. So het die buurtwag se nommerplaat herkenningskameraprojek byvoorbeeld momentum behou en is die netwerk baie uitgebou,” meld Opperman.

Opperman word aangespreek deur die veiligheidsnood wat die gemeenskap ervaar.

“Dit is die bekommernis wat inwoners het. As jy die polisie skakel, wag jy twee uur by ’n toneel voor hulle opdaag. Mense wil nie woon in ’n land waar hulle kinders op pad skool toe van hulle selfone beroof word nie. Ons wil graag bydra daartoe om ’n omgewing te skep waar ons en ons kinders hoopvol is oor die toekoms,” sê hy.

Hy meen die groot taak van enige buurtwag is om hulle aktiwiteite deel te maak van ’n volhoubare leefstyl.

“Die buurtwag het hierdie jaar ons vyfde bestaansjaar herdenk. Die belangrikste sukses is dat buurtwaglede nou ’n ritme begin vestig waar hulle deel kan neem aan buurtwagaktiwiteite sonder om uit te brand. Ons het lede wat nou sedert ons stigting nog steeds getrou elke week ’n bydrae lewer. Ons het die afgelope maand twee arrestasies gehad deur buurtwaglede wat gevloei het uit hierdie patrollies,” bevestig hy.

Die samewerking tussen die buurtwag en ’n sekuriteitmaatskappy het hierdie jaar ook vrugte opgelewer wat gelei het tot verskeie inhegtenisnemings.

“Hierdie sukses het direk gevolg op ’n inligtingskanaal wat gevestig is tussen die sekuriteitsfirma en die buurtwag. Ons werk graag met enige wetstoepasser en sekuriteitsfirma om die gemeenskap veiliger te maak. Ons sal graag ons netwerk en samewerking met kerke en skole wil uitbou. Die buurtspan moet ook uitgebou word om nog beter te kan help met munisipale dienslewering binne die Moot.”

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? 

Stuur gerus vir ons ‘n epos na  bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord

Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Back to top button