Local newsNews

Gevatte skrywer se bundel vol pittige waarnemings

Sosiale media-inskrywings van reeds voor 2010 het die wegspringblok vir hierdie skrywer van Centurion geword.

Die spitsvondige kolomskrywer, Gielie Hoffmann van Centurion, sê hy kry meeste van sy inspirasie uit doodgewone situasies onder alledaagse omstandighede, waarneming en deur onsigbaar in koffiewinkels te word.

“Nogals ’n uitdaging die laaste een, aangesien ek nou nie juis skrumskakelgrootte is nie,” spot Hoffmann.

Selfspot is juis een van die kenmerke van sy skryfwerk.

Maar hy spot nie met ander mense nie. Hierdie bestuurskonsultant wat in organisatoriese gedrag spesialiseer, se liefde vir en deernis met mense dra hy soos sy hart op sy mou.

Hy glo veral daaraan om aandagtig na ander te luister. “Kyk maar na al die ooms en leer by hulle. Die tannies praat. Die ooms luister. As jy stilbly, raak jy gesigloos en kan jy na mense luister.”

Sy eerste bundel, Naam Van Dier Dorp, het in die tweede week van November verskyn.

Die titel verwys na die speletjie van sy kleintyd waar deelnemers volgens die letter van die alfabet ’n naam, van, dier en dorp moes neerskryf en dan punte kon kry.

Nostalgie en die verkenning van die tradisionele en bekende is ’n kenmerk van sy skryfwerk. Hoffmann se blik is egter nie net ferm op die verre verlede nie.

“Vir my maak die afgelope 20 jaar en die volgende tien jaar saak. En die hede.”

Gielie, Sakkie en Marina Hoffmann saam met Roxanne Cilliers (middel)

In sy nering spesialiseer Hoffmann veral op navorsing oor verandering, kultuur en veerkragtigheid.

“Ek is baie bekommerd as mense na my as skrywer verwys. Ek dink nie so aan myself nie,” het Hoffmann by die bekendstelling Saterdag van sy boek in die Ooskerk in Brooklyn verwys.

Sy lewe as skrywer het op sosiale media begin toe sy Facebook status-inskrywings voor 2010 begin verskyn het en hy reaksie op sy inskrywings begin kry het.

Op sterkte van sy insiggewende, maar pittige inskrywings op sosiale media, het hy vir vyf jaar vir Beeld en Netwerk24 kolomme en ander indrukskryfwerk geskryf.

“Ek is nie een van die slegpraters van sosiale media nie, want dit het my ’n platform gegee om ’n hele nuwe lewe as skrywer uit te kerf,” vertel die oud-onderwyser.

Natalie en Cheryl Moolman van Pretoria-oos

Van Hoffmann se eerste skryfstukke op sosiale media wys reeds sy fyn waarnemings lê aan die basis van sy skryfwerk.

Dié eerste skryfstuk is ’n klein kamee oor verhoudings tussen ouere mense.

“Ek het so begin oplet hoe lyk die uitdrukkings op die ooms se gesigte wat buite winkels vir hul vrouens wag. Daai gelate kyk in hul oë het my altyd opgeval. Toe skryf ek daaaroor en kry die opmerking in die kommentaarblokkie: ‘Ek is een van daai ooms’.

Sy eerste skryfstuk in die laer grade op skool was juis ’n beskrywing van sy ouma in Windhoek.

“So nog met ’n potlood geskryf en dis ons ‘skrifte’ genoem.”

Hy het ’n manier om ’n aar raak te sny op ’n deernisvolle manier, sal sy aanhangers jou gou vertel.

Een van hierdie bewonderaars is die akteur en sosiale media spesialis, Bouwer Bosch.

“Gielie se pen is magtiger as ’n trending TikTok-danspassie op sosiale media,” meen Bosch. “Hy weet hoe om die lewe soos ons dit nou beleef, te verwoord.”

Hoffmann het ’n skugter soort nederigheid op 40-jarige ouderdom. Hy glo sy beskeidenheid het sy wortels in hoeveel en hoe gou hy perspektief op iets kan kry soos op sy skryfwerk.

“Neem nou byvoorbeeld iemand van ons generasie, skrywer Jackie Nagtegaal wat op 15 al haar eerste boek gepubliseeer het. Ek het dit nou eers so 25 jaar na 15 reggekry. Ek voel so heeltyd bietjie agter,” sê hy met sy tong stewig in sy kies.

Hy het self die boek gepubliseer en uitgegee.

“Ek dink nie ek sou daai senutergende vraag van uitgewers op ’n e-pos ‘Hoe vorder jou manuskrip?” in die oë kon kyk nie,” vertel hy.

Vir hom is daar ook die afgelope vyf jaar ’n subtiele skuif in hoe kreatiewe mense te werk gaan.

“Ek sien dit met die vriende in my ouderdomsgroep. Hulle is al hoe meer besig om hul eie uitreikings te doen, of dit nou skryfwerk, musiek of films is. Ons is in die era van kreatiewe entrepreneurskap en dit raak ietwat argaïes om jou kreatiewe produk aan iemand se sorg en nasorg toe te vertrou. Vandag neem kreatiewe mense meer as ooit vantevre self ’n risiko.”

Met die samestelling van die boek, was dit vir hom belangrik dat “lesers steeds my stem kan hoor en om getrou te bly aan die groter prentjie van wat ek op sosiale media sê. Dit het my by 60 inskrywings in die boek gebring wat gesamentelik op 20 000 woorde kom, dus net so effe langer as ’n digbundel. Ek is meer naelloper as marathonatleet”.

Hoffmann vertel hy het ’n sekere ritme in sy skryfwerk wat hy as junior redenaar aangeleer het.

“Soos die dogters wat redenaars was, kon ek nie op stywe vlegsels en groot linte staat maak nie en moes ek op sekere manier my gedagtes aanbied. Dit help my om tot vandag toe om ’n sekere dringendheid en driftigheid in my skryfwerk in te bring.”

Sy kortverhale is in talle bundels opgeneem en sy skryfstukke verskyn ook in Rapport, Vrye Weekblad, Insig, De Kat en Litnet.

Vir Hoffmann bly die kuns van waarneming met insig die basis van skryfwerk.

“Jy ken dalk die manier wat ’n tannie wat sopas ’n blommerangskikking gedoen het, so terug tree met haar hand op haar heup terwyl sy skuinsweg met haar kop na haar werk kyk. Dis wat ek wil aangee. Hierdie oomblikke wat geen geld kan koop nie, maar wat ons almal se wêreld beter maak.”

– Vir meer oor Hoffmann se werk en om sy boek aan te skaf, besoek www.gieliehoffmann.co.za/products.

Gielie Hoffmann se boek Naam Van Dier Dorp is n bundel van sy sosiale media skryfstukke.

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? 

Stuur gerus vir ons ‘n epos na  bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord

Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Back to top button