Local newsNews

Projek Flamink kry vlerke

Samehorigheid en vriendskap is die kenmerke van die SA Weermagvereniging se Projek Flamink, 'n veterane-groep binne die organisasie vir alumni van die SA Leërkollege.

’n Groep voormalige studente van die eertydse Burgerlike Beskermingskollege het soveel samehorigheid en vriendskap ervaar met ’n reunie-bymekaarkoms, dat hulle terstond genader is deur die Suid-Afrikaanse Weermagvereniging om hul eie veterane-groep binne die organisasie in die lewe te roep.

Arina Jooste van Modimolle is sameroeper van die groep wat in November 2023 begin beslag kry het.

Sy verduidelik dat vrouelede wat in 1971 deel was van die eerste Burgerlike Beskermingskollege in George, gedurende dié maand genooi was na ’n 50-jaar reünie-viering in die Wes-Kaap.

“Hier het ons weer die wonderlike gevoel van samehorigheid gekry tydens ’n besoek aan die kollege, die deurstap van die geboue en selfs die inwoning op die terrein. Ons het besluit ons moet die gevoel versterk en hande neem vorentoe,” vertel sy.

Die groep kon nie anders as om tydens hierdie weersiens nostalgies terug te dink aan begin Februarie 1971 toe hulle in afwagting by die nuutgestigte kollege in George vir opleiding aangemeld het nie. Uit die eerste groep het 32 hulle permanent by die Suid-Afrikaanse Leër aangesluit.

“Ons kon goeie en aangename herinneringe uitruil van ’n tyd toe kameraadskap tussen ons ontwikkel het,” vertel Jooste.

Sy verduidelik hoe daar met die destydse stigting van die kollege aanvanklik 128 jong vroue was wat aansoek gedoen het om daarby aan te sluit. Hulle was hoofsaaklik skoolverlaters.

Die vroue is aan fiksheidsprogramme onderwerp en het aan paradekompetisies deelgeneem. Die leerplan het oor tien maande gestrek waarna die vroue op ’n loopbaan in die privaat sektor, die polisie of die weermag kon besluit.

Lewensvaardighede soos leierskap, openbare optrede, menseverhoudings, algemene kennis, optrede by formele geleenthede en hantering van belangrike gaste het aandag geniet. Die kollege het dus nie net gefokus op opleiding nie, maar ook op die afronding en vorming van die studente.

“Talle van ons was onseker wat ons met ons lewens wou doen en die jaar se diens en verblyf was ’n uitkoms om ’n besluit oor ons toekoms te maak,” verduidelik Jooste.

Die formele stigtingsvergadering van die nuwe groep, met talle lede uit Pretoria, het vanjaar op 9 Augustus plaasgevind.

Lede het besluit om hul groep met die naam Projek Flamink te doop.

“Die naam flamink is spesifiek gekies omdat flaminke skoonheid, potensiaal en romanse verteenwoordig. Hul moeitelose grasie en stabiliteit om op een been te staan verteenwoordig balans en harmonie.”

’n Vrolike viering laat in November vanjaar het die eerste van talle sosiale byeenkomste ingelui.

Die SA Weermagvereniging het by die November-geleentheid in Pretoria 19 bestaande dameslede wat hul vrywillige diens verrig het by die SA Leërkollege, vereer deur aan hulle die Dames Vrywillige Diens Erewapen toe te ken.

Bykans 100 lede van Projek Flamink is in streke ingedeel waarvan Pretoria die grootste is en daar is landwyd koördineerders vir verskillende eenhede aangewys.

Jooste sien uit na die groep se verteenwoordiging op seremoniële geleenthede en het haar dit ook ten doel gestel om vriendskap en ondersteuning onder lede te laat gedy.

Dit is verder vir haar en die groeplede belangrik dat aandag aan kultuurerfenis gegee word en hulle beoog om memorabilia van hul tyd in die kollege onder een dak te kry.

“Omgee is belangrik en ons gee baie aandag aan die wel en weë van ons lede sowel as aan die goeie herinneringe aan die verlede,” verduidelik Jooste.

Sy verduidelik die idee van militêre opleiding vir vroue in Suid-Afrika het reeds in 1967 ontstaan en het later momentum begin kry het toe druk uit die gemeenskap toegeneem het.

“Die sukses van ons eerste jaar se eksperiment het die weg gebaan vir ander meisies om ook by die kollege opgelei te word,” glo sy.

In 1977 is die naam Burgerlike Beskermingskollege verander na die SA Leërvrouekollege.

Die opleiding sou nou volwaardige militêre opleiding wees in ondersteuningsdienskorpse. Vanaf 1984 word die opleiding aangepas na leieropleiding en die studente kon ook aansluit by vegtende korpse soos die infanterie en pantserkorps.

Aan die einde van 1998 word die kollege in George finaal gesluit en verskuif die opleiding na die leërgimnasium in Heidelberg.

– Alle alumni wat opleiding oor die tydperk 1971 tot 1998 voltooi het kan by SA Weermagvereniging aansluit om deel te word van Projek Flamink. Belangstellendes kan ’n e-pos stuur aan support@sawv.co.za om aansoekvorms te bekom.

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? 

Stuur gerus vir ons ‘n epos na  bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord

Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Back to top button