Hulp aan die metro aangebied om afvalbestuurkrisis te takel
Nou is die tyd om hande te vat om oplossings vir die metro se afvalbestuur te vind, glo 'n burgerregte organisasie en het 'n helpende hand na die metro uitgereik.
“Tyd is nie aan die metro se kant wanneer dit by die inwerkingstelling van nuwe afvalstortingsterreine kom nie, aangesien die vestiging en bedryf van sulke terreine vyf jaar neem as als glad verloop. Daar sal nou opgetree moet word om nuwe terreine te vestig.”
Só sê Lambert de Klerk, AfriForum-woordvoerder.
Hy glo “onmiddellike ingrypings en strategiese vennootskappe is noodsaaklik om ’n volskaalse afvalbestuurkrisis te vermy”.
Die organisasie het in laat November ’n versoek aan die metro gerig om met hul saam te werk om oplossings te vind rondom afvalbestuur.
“Ons sal ook graag ’n beroep op die metro wil doen om meer herwinningsgeleenthede vir inwoners te skep sodat minder vullis op die afvalstortingsterreine beland volgens die Zero-Afval-Na-Stortingsterreine beginsel,” verduidelik De Klerk.
Hy het bevestig dat die beroep op die metro vir samewerking wel erken is, maar geen verdere reaksie ontvang is nie.
“Tans is daar veel druk op die vier operasionele vullisterreine onder die metro se bestuur, wat aansienlike uitdagings veroorsaak ten opsigte van doeltreffende afvalbestuur. Nie een van hierdie vullisterreine het AfriForum se vullisterreinoudit vanjaar geslaag nie,” meld De Klerk.
Hy meen dat die afvalbestuur-uitdaging in die Tshwane-metro vererger is deur die sluiting van die Onderstepoort-vullisterrein in 2019.
’n Jaarlikse stortingsterreinoudit vroeër vanjaar het getoon slegs twee uit ses werkende stortingsterreine in en om Tshwane voldoen aan van die vereistes wat in die oudit gestel is om meer as 80% te behaal.
Hierdie twee terreine word deur ’n privaat maatskappy bestuur en is geleë by Bon Accord op die Ou Warmbadpad en Mooiplaats in Centurion (tussen Laudium en Nandi).
So lyk die ouditverslag se uitslae:
– Hatherley (Nelmapius): 68%
– Mooiplaats (Centurion): 98%
– Bon Accord (Pretoria North): 94%
– Bronkhorstspruit: 74%
– Ga-Rankuwa: 66%
– Soshanguve: 66%
AfriForum het reeds proaktiewe stappe geneem om die verslegtende situasie te versag, soos die skep en bestuur van ’n herwinningskeidingsterrein sodat minder afval hul weg na afvalstortingsterreine vind.
“Ons is daartoe verbind om saam met die metro en ander belanghebbendes te werk om innoverende en volhoubare oplossings te ontwikkel,” sê hy.
Volgens De Klerk vra hulle die metro om hul planne vir die ontwikkeling van nuwe terreine beskikbaar te stel, inwerkingstelling van onmiddellike oplossings om kapasiteitsbeperkings uit die weg te ruim en die skep van geleenthede vir samewerking.
“Ons is gereed om met die Tshwane-metro in gesprek te tree om ’n volhoubare, doeltreffende stelsel te verseker wat alle inwoners bevoordeel,” sê hy.
Kommentaar is van die metro aangevra maar nog nie teen publikasie ontvang nie.
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie?
Stuur gerus vir ons ‘n epos na bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie.
