Breinaalde klik fluks om belofte aan ma na te kom
Om ’n belofte aan haar ma na te kom, het 'n breister van Pretoria-oos 'n nuwe deernisvolle tradisie laat vestig.
Martie Pretorius (63) van Pretoria-oos is nie skaam om met haar sakkie breiwerk orals te gaan nie en só te sorg dat ’n belofte verwesenlik word wat sy aan haar ma, Anna Meiring, gemaak het.
Hierdie toegewydheid het oor talle maande die voormalige krediteure-assistent by Eskom en nou afgetredene, gehelp om 100 trooshasies klaar te brei sodat dit oorhandig kan word om hartseer en getraumatiseerde kinders te troos.
“My ma se droom was om kinders iets soos ’n gebreide diertjie te kan gee om vas te hou wanneer hulle bang word. Toe sy ouer word, het haar rumatiese hande haar egter verhoed om haar groot liefde vir breiwerk verder uit te leef. Sy was iemand wat so graag truitjies vir al die kinders in die buurt of speelgoed soos ballerinapoppies te brei, maar mettertyd kon sy nie meer breipenne vashou nie,” vertel Pretorius.
Om haar vyf kinders op te voed, het sy jare lank koekies en beskuit vanuit haar huis gebak en verkoop.
“Ek dink dit is van jare en jare se koekiedrukker vashou en koekies uit meel druk wat die artritis mettertyd ingetree het,” glo Pretorius.

Haar ma het in Parys in die Vrystaat ’n tuiste in ’n aftree-oord gevind. Pretorius het haar elke aand om 19:00 geskakel vir ’n geselsie.
Mettertyd het sy al hoe meer bewus geraak van haar ma se hartsbegeerte om kinders op hierdie manier te help.
Sy is in 2021 oorlede.
“Sy het self moeilik grootgeword op ’n plaas naby aan die Botswana-grens. Ek dink sy het altyd ’n sagte plek gehad vir kinders wat dit moeilik het,” meen Pretorius.
Sy het aan die werk gespring. Meer as 80 bolle wol later, het sy 100 trooshasies aan Solidariteit Helpende Hand in Pretoria-Noord geskenk om aan kinders in nood te versprei.
“In elke trooshasie is daar ’n stukkie van my hart,” vertel sy aangedaan.
Om die hasies af te rond, het sy ogies, snoetjies en 12kg stewige, wit opstopsel wat uit China ingevoer is.

Haar ma sou vandeesmaand 95 jaar oud gewees het.
Die oorhandiging is deur Mariana Kriel, streekbestuurder van Helpende Hand, gereël.
Die trooshasies sal by gemeenskapsinstansies en terapiesentrums afgelewer word.
Kriel beskryf dit as ’n “kosbare gebaar” wat nie net die kinders gaan troos nie, maar ook ander gemeenskapslede sal inspireer om saam te brei.
“Ons wil graag ander breiers, en ons ouer garde en mense en tehuise landwyd aanmoedig om ook trooshasies te brei. Solidariteit Helpende Hand sal die patroon beskikbaar stel. Ons is van plan om hierdie projek ’n jaarlikse instelling te maak.”
Die doel is om elke jaar op 25 November (Meiring se verjaardag) ’n insameling van trooshasies te hou van almal wat regdeur die jaar gehelp het.
Vir meer inligting of om betrokke te raak, besoek www.pretoriahand.co.za of stuur ’n e-pos na mariana@helpendehand.co.za.
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie?
Stuur gerus vir ons ‘n epos na bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie.
