Taalraad se Koker-wenners se pyle tref sekuur
Erkenning is deur die Afrikaanse Taalraad gegee aan mense wat met ywer vir Afrikaans werk, soms onder moeilike omstandighede.
Die Afrikaanse Taalraad se prestigeryke Kokertoekennings het vanjaar ekstra glans gehad deurdat ’n rolprentlegende gehuldig is op 29 November in Pretoria-oos.
Taalraad-woordvoerder Merlyn van der Rheede sê die Kokers gee erkenning aan buitengewone bydraes tot Afrikaans deur gebruikers wat ook tweede- en derdetaalsprekers insluit.
“Daar is jaarliks toekennings vir die beskerming en bevordering van Afrikaans asook bemagtiging deur Afrikaans. Spesiale jeugtoekennings erken jongmense wat die taal op die hart dra en lewenslange bydraes gee erkenning vir werk wat oor dekades strek,” verduidelik sy.
Vanjaar se wenners sluit onder meer ’n omroeper uit Pretoria, ’n Oos-Kaapse onderwyser, ’n graad 8-leerder, akademici, skrywers, medialede en ’n Nederlander met ’n groot liefde vir Afrikaans, in.
Die omroeper, nuusleser, programsamesteller, rubriekskrywer, sangeres en liedjieskrywer van Pretoria, Esté Gross, het ’n junior Koker vir haar bydrae tot die Afrikaanse medialandskap ontvang.
Sy is al meermale vir haar werk bekroon, onder meer vir Dis Klassiek! ’n program wat klassieke musiek toegankliker vir jonger luisteraars maak. Gross gebruik haar unieke aanslag oor verskeie platforms om Afrikaans ’n stem te gee.
“Ek ontvang die toekenning met groot dankbaarheid,” sê Gross. “Dankie aan elke mens wat oor my pad gekom het en steeds kom en my die geleentheid gee om my passie vir Afrikaans uit te leef. Dit is werklik net genade en ek dank die Heer vir elke deur wat oopgaan,” sê Gross.
Sy het benadruk dat die toekenning vir haar baie beteken, “veral in die jaar wat ek my ma aan die dood afgestaan het”.
Haar ma, Hester van Rensburg, was ’n bekende skilder. “Ek het soveel by haar geleer oor onvoorwaardelike liefde, skryf en die kunste. Sy was as skilder en skrywer my mentor en vertroueling.”
Met ’n huldigingsbydrae deur die rolprentresensent Leon van Nierop, het die 2024-Kokers die legendariese filmmaker Jamie Uys vereer vir die diep spore wat hy in die rolprentbedryf getrap het.
Uys, ’n oud-onderwyser, was drie jaar lank ’n boer. In 1950 kry hy die ingewing om ’n rolprent te maak: Daar doer in die Bosveld.
Hy was ook bekend vir die film The Gods Must Be Crazy wat die miljoene laat inrol het asook Beautiful People waarmee hy ook sy merk gemaak het. Funny People, wat eintlik net gemaak was vir die plaaslike mark, het in sommige lande nog beter as Beautiful People by die loket gewerk.
Jamie Uys is op 29 Januarie 1996 oorlede.
’n Jeugdansgroep uit Eersterust het gaste met rieldanse vermaak.
“Ons gee graag erkenning aan mense wat onverpoosd vir Afrikaans werk. Dit is iets wat veral van toepassing is op vanjaar se Kokertoekennings vir lewenslange bydraes. Jonger Koker-wenners dien weer as inspirasie vir die jonger generasie en moedig hulle aan om meer vir hulle taal te doen,” sê dr. Conrad Steenkamp, uitvoerende hoof van die Taalraad.
Hy voeg by dat vanjaar se wenners weer wys dat Afrikaans meer as een gewaad dra.
Johan Wicomb, ’n passievolle Afrikaans-onderwyser van Kariega in die Oos-Kaap, was die ontvanger van die Beste Onderwyser-toekenning waarvoor leerders self onderwysers genomineer het.
Wicomb doen moeite om Afrikaans in ’n oorwegende Engelse skool te laat floreer en bied ekstra klasse by spesiale winter- en lenteskole vir matrieks aan. Hy het ook ’n leesprogram vir graad 8-leerders begin.
Vanjaar se Kokers vir lewenslange bydraes is toegeken aan twee professore: Bernard Odendaal en Oppél Greeff.
Odendaal se navorsing word gesien as van onskatbare waarde vir die uitbou van Afrikaans as literatuurwetenskaplike taal. Hy is ook erken vir akademiese werk as digter en literêre kritikus. Die pyle in sy koker sluit in sowat 50 referate by nasionale en internasionale kongresse, meer as 200 resensies en meer as 50 vakwetenskaplike artikels en boekbydraes.
Greeff se wetenskaplike en farmakologiese kennis word internasioneel erken. Hy het ’n enorme bydrae tot Afrikaans as ’n mediese vaktaal gelewer en is internasionaal bekend vir sy betrokkenheid by geneesmiddelontwikkeling.
Zenzile Khoisan en Karen Meiring het elkeen ’n toekenning vir die bevordering van Afrikaans ontvang.
Khoisan, ’n voormalige studenteleier, was jare lank in ballingskap en het nuusdekking vir verskeie internasionale mediaplatforms gedoen. Sy passie vir Afrikaans, Afrikaaps en die Khoisan-kultuur (en tale) word weerspieël in bydraes tot koerante soos Inheemse Voetspoor en First Nation News.
Meiring het kykNET as die toonaangewende Afrikaanse kanaal in Suid-Afrika gevestig en susterkanale soos kykNet & kie, kykNET Nou!, kykNET Lekker en FliekNet geloods. Sy was ’n leidende figuur in die skep van die Silwerskermfees, die Fiësta-toekennings en die Tribuo-fonds, almal baanbrekerprojekte ter ondersteuning van Afrikaanse kunstenaars.
Dr. Danie Langner is bekend vir sy bydraes tot onder meer die Rapport-onderwysfonds, die Andrew Murray-Desmond Tutu-prysfonds, die Afrikaanse Toekomstrust en die Taalraad self, en is met ’n Koker vereer vir sy rol in die beskerming van Afrikaans.
Die digter en skrywer Stef de Koker het ’n toekenning vir bemagtiging deur Afrikaans ontvang. Sy is die stigter en redakteur van die Heritage Travel Magazine, wat artikels oor besondere Afrikaanse mense dra.
Sen Joostens, ’n Nederlandse dosent met ’n merkwaardige liefde vir Afrikaans en vir Suid-Afrika, het ’n junior Koker ontvang. Op 25 is hy reeds die hoofskrywer van Baie Afrikaans, ’n Afrikaanse handboek vir Nederlands-sprekendes.
Emily Smith, ’n graad 8-leerder van Gauteng, is met ’n jeug-erepenning vereer vir haar resensies en lesersindrukke op Facebook en Instagram (@emiliedjie) oor Afrikaanse kinder- en jeugboeke.
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie?
Stuur gerus vir ons ‘n epos na bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie.