Nuwe bedeling vir Pretoria-Noord se geveerdes
'n Voorste inwoner van Pretoria-Noord se droom van die tagtigerjare kom nou tot sy volle reg danksy 'n gemeenskapsleier en inwoners se omgeeharte om kolganse na 'n brand te red.
’n Unieke voëlreservaat en -dam in Edelvalkstraat in Pretoria-Noord gaan nuwe lewe kry met die instelling van ’n gemeenskapsdistrik-opheffingsprogram en die opening van ’n area op 11 Desember as ’n tuiste vir geveerdes.
Rina Marx, VF Plus-raadslid, sê dat die Tshwane-metroraad aan die stuur van sake sal wees.
En die hernuwing van die park is als te danke aan die redding van vyf kolganskuikens.
Marx, self ’n liefhebber van al die geveerdes in die area soos kiewiete, visvangers en horingbekke, vertel die saadjie is geplant vir die opknapping en verfraaiing van hierdie bewaringarea in Ninapark na ’n brand wat deur ’n nabygeleë gholfbaan gewoed het.
Die naburige inwoners het ’n kolganspaar en hul vyf kuikens uit die verbrande gebied gered en by die Johan Koen Voëlreservaat en -dam ’n tuiste gegee.
Vandag is die vyf kuikens volgroeide kolganse wat hoogs tevrede is met hul swem- en slaapplekkie. Saans met sonsondergang en soggens met sonsopkoms gee hulle ook so te kenne met hul kenmerkende roep.
Marx het self ’n klein hart vir geveerdes en versorg nou al vir jare dikkoppies en hul kuikens wat naby haar tuiste ingetrek het.
Hoog op die gastelys was juis die kinders en kleinkinders van die Tukkies-kernfisikus, wyle prof. Johan Koen, wat in die tagtigerjare dié einste reservaat en dam begin het.
“In die tagtigerjare het hulle blykbaar die noorde, veral Ninapark, gemyn vir sand wat ’n baie groot gat gelos het. Dit is toe sommer in ’n stortingsterrein omskep,” vertel sy.
“Prof. Koen het hier naby ’n hoewe gehad en besluit tot hiertoe en nie verder nie. Hy het begin om dit te laat skoonmaak en die terrein verander in ’n dam met die hulp van ’n ingenieur. Die dam is toe na hom vernoem.”
Vandag is daar barbers en kurpers in die dam wat eens ’n sandput was.
Die Pretoria-Noord-gemeenskap woel reeds ’n geruime tyd onder die leiding van Marx om die park se hekke oop te gooi sodat die gemeenskap en omliggende bure saam met die metro na die welsyn van die reservaat kan omsien.
Met die opening is daar ook tien inheemse bome geplant.
Sy sê die projek is die eerste in sy soort in Tshwane en is aangepak in samewerking met Pieter Dicks, direkteur van die metro se parke in Pretoria-Noord en Dinah Shopa van die metro se natuurbewaringsdepartement.
Vir Marx, die voormalige burgemeesterskomiteelid vir gesondheid, is die gestruktureerde samewerkingsooreenkoms tussen die gemeenskap en die metro om na die gebied om te sien en dit skoon en netjies te hou, in meer as een opsig goeie nuus.
“Om in die natuur te wees beteken veel vir mens se geestesgesondheid. Ek het navorsing gedoen en gesien 30% van alle Suid-Afrikaners het uitdagings daarmee. Ons hoop ’n uitstappie na die dam- en reservaat met sy waterhoendertjies en kolganse kan bydra om inwoners te help om hierdie uitdagings te bestuur.”
Een van Marx se ondersteuners vir die geveerdes en die oopstelling van Johan Koen Voëlreservaat en -dam, is die bekende ondersoeker, Mike Bolhuis.
Hy sê hy sal graag uitreik na veeartse en mense in die diere- sowel as geneeskundebedryf om betrokke te raak by die projek.
“Ek sal ook ons netwerk gebruik vir fondsinsameling om die onderhoud van die reservaat en kos vir die voëls deurlopend te kan bekostig,” verduidelik Bolhuis.
Hy is veral gesteld op die watergehalte in die toekoms. “Ons sal ook moet help om te sorg dat die water se kwaliteit reg moet wees in die reservaat om dit veilig vir die voëls te maak.”
Bolhuis is bekend vir sy betrokkenheid in 2019 by ’n projek in die Noord-Kaap om meer as 2 000 flaminkkuikens te red toe hul ouers hul weens die droogte verlate gelos het. Hy het saam met ’n span ingespring en van die flaminke is oor ’n tydperk na ander geriewe in die Noord-Kaap, Vrystaat en Gauteng oorgeplaas.
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie?
Stuur gerus vir ons ‘n epos na bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram en TikTok.
