Local newsNews

Centurion-rolstoeldanser kry toekenning by premier

'n Rolstoeldanser, skrywer en besturende direkteur van 'n inligtingstegnologiemaatskappy het hom nie laat terughou deur die beserings wat hy by geboorte opgedoen het nie.

’n Centurion-inwoner het op 3 Desember in Johannesburg die Disability Rights Life Time Excellence Awards van die Premier van Gauteng, Panyaza Lesufi, ontvang.

August Schmiedeskamp Jr. (29) is die medestigter van “Ball for All” Danse, vir rolstoelgebruikers en persone wat ledemate verloor het.

Die toekenning is aan Schmiedeskamp Jr. toegeken vir sy talle en betekenisvolle bydraes tot die gestremdheidsektor om die die vreugde van rolstoeldans te laat ervaar.

Hy is ook medeskrywer van die boek wat baie vir persone met gestremdhede beteken: Dare We Believe in Life with a Purpose?

Schmiedeskamp is ’n serebraalgestremde spastiese kwadrupleeg vanaf geboorte. Al vier kwadrante van sy liggaam is aangetas. Hy kan nie praat of loop nie en kan nie vir lank regop sit nie.

August Schmiedeskamp het ‘n motiveringsboek saam met sy ouma Elmarie Bouwer geskryf.

Hy skryf deur middel van skryfkaarte terwyl hy op sy sakekonsultant-ouma, Elmarie Bouwer, se skoot sit.

“August was ’n 100% normaal-ontwikkelde babatjie. Báie gesond. Weens ’n naelstringprolaps, en ’n ginekoloog wat ’n ewigheid geneem het om by die privaat kliniek uit te kom, is die suurstoftoevoer na August afgesny. Sy hartklop was vier per minuut toe hy gebore is. Hy was vir twee weke in intensief na geboorte, waar ons daagliks moes hoor ‘ons weet nie of hy dit gaan maak nie’. Dit was erg,” verduidelik sy.

Sy vertel vandat hy wakker geword het, na die twee weke wat hy onder sedasie in die intensiewe eenheid was na geboorte, het sy die “lewendige belangstelling” in sy oë gesien.

“Hy stel altyd met oorgawe belang in alles waaraan mens hom blootstel. Ook neem hy met oorgawe deel aan alles waaraan mens hom blootstel. In die beginjare het hy op ’n omslagtige manier geskryf, wat geweldige inspanning geverg het. Meer as een keer het die sweet hom afgetap terwyl hy die woorde, letter-vir-letter uitgespel het. Tans gebruik hy sy hele lyf wanneer hy skryf, en het op ’n slag vir my geskryf sy lyf is erg seer nadat hy geskryf het, maar hy druk altyd deur, met alles wat hy aanpak,” vertel sy.

Hy is aangeprys deur die provinsiale leiers vir veral die rol wat hy speel om danspartye en -kompetisies vir rolstoelgebruikers en mense wat ledemate verloor het, te bevorder.

Op ’n vieringsdag ter erkenning van die Internasionale Dag vir Persone met Gestremdhede het hy by ’n geleentheid waar hy die eregas was, die dansbaan geopen.

Hy hou van baie musiekgenres, maar veral van klassieke klaviermusiek het Schmiedeskamp aan Rekord oorgedra via Bouwer.

Vir haar het hy die mooiste mond, oë, hare, “six pack” en geaardheid.

“Sy stem is die mooiste in die hele heelal. Ek sê gereeld vir hom hy het reeds sy hemelstem,” vertel Bouwer.

Op die vraag hoe hy elke dag hanteer, is sy antwoord: “Met genade van Bo.”

Schmiedeskamp is ook die besturende direkteur van Fortitude South Africa, ’n inligtingstegnologie-maatskappy.

Bouwer vertel hoe hy vir die eerste nege jaar van sy lewe elke jaar in die winter in die hospitaal was.

“In sy negende jaar het die pediater my aan my arm geneem en gesê.: ‘Jy is die een wat gaan moet vrede maak daarmee, August gaan nie nog ’n winter oorleef nie’.

“Dit is nou 21 jaar later. August was nog nooit weer in ’n hospitaal nie. Hy het ’n geweldige sterk verhouding met ons hemelse Vader en kommunikeer direk met die Heilige Gees,” verduidelik Bouwer.

Volgens Schmiedeskamp is elke dag wel steeds “’n hengse inspanning.”

Hy vertel egter alles wat opbouend is, is vir hom lekker.

Bouwer bevestig dat hy ’n geweldige droë sin vir humor het en haar gereeld laat skaterlag.

“Hy is my grootste aardse motivering en inspirasie. Ek sê élke dag vir ons Vader dankie vir die voorreg om August in my lewe te hê en om sy ouma te wees. Hy is die nederigste mens wat ek ken. Hy leef reg en geregtigheid uit.”

Om meer oor Schmiedeskamp se bydraes aan die gestremdheidsektor te lees, kliek www.darewebelieve.co.za en www.ballforall.co.za.

– Kliek hier om ’n geleentheid vir rolstoeldansers te beleef:

 

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? 

Stuur gerus vir ons ‘n epos na  bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord

Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram en TikTok.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
Stay in the know. Download the Caxton Local News Network App here.
Back to top button