Opera-gala hoogtepunt op kultuurkalender
'n Swierige opera-gala in die Senotaafsaal van die Voortrekkermonument met die Pretoria Simfonieorkes en vier talentvolle soliste het aan operaliefhebbers groot genoegdoening verskaf.
Die opera-gala van die Pretoria Simfonieorkes op 8 Desember was ’n kragtoer soos min vir orkesleier Jaco van Staden en die vier soliste wat ’n wye reeks arias, duette, sowel as ’n kwartet gesing het.
’n Waarderende gehoor het geluister hoe die 17 verskillende uitvoerings van werke van Rossini, Verdi, Mozart, Johan Strauss die tweede, Puccini, Bizet, Beethoven, Delibes en Donizetti gelewer is.
Die opera- en kunstenaarsnotas wat met humor toegelig is, deur seremoniemeester Paul Vonk, het tot menige glimlag in die skemeruur in die Senotaafsaal van die Voortrekkermonument gelei. Vonk is meesterlik om musikante, musiek sowel as komponiste soomloos saam te weef in ’n vertelliing.

Vonk is ook bekend daarvoor dat hy tuinmaak en musiek aan mekaar verbind sedert hy tulpfeeste georganiseer het.
Opera-galagangers is dan ook na die gala met saad en weggeepakkies deur ’n borg bederf om hul tyd in die tuin te verwyl terwyl hul na musiek luister.
Koloratuur-sopraan Ilze van Staden staan beslis, na ’n loopbaan van 13 jaar wat sy professioneel sing, op die kruin van haar loopbaan. Sy het Mozart se “Ruhe Zanft, mein holdes leben” uit Zaide aangrypend vertolk met diepte en was lieflik geklee in ’n glansbalrok.
Sy het ook in ’n trio saam met Erin Beck en Douwe Bijkersma die aangrypende lied aan vertrekkende soldate op ’n skip, “Sove sia il vento” (‘May the wind be gentle’) uit die opera, Cosi van Tutte van Mozart gevoelvol en in harmonie vertolk.
Maar dit was die duet saam met Erin Beck. die “Flower Duet” uit die opera Lakme van Delibes, waarin Van Staden met haar arm by Beck ingehaak, gewys het dat haar veelsydigheid om ’n lied vol skoonheid en vreugde te vertolk, een van haar grootste bates is.
Beck het op haar beurt op 20-jarige ouderdom en as tweedejaarsmusiekstudent aan die Universiteit van Stellenbosch veral gestalte gegee met ’n vrolike danspassie of twee in ’n swierige rok, aan die “Gypsy song” uit Bizet se Carmen.
Sy het in haar jong loopbaan al talle musiekpryse ontvang en is as ’n vertolkende mezzo-sopraan met ’n sin vir die dramatiese ’n kunstenaar om dop te hou.
Die hoogtepunt van die aand was die kwartet “Bella figlia dell’amore” (Beautiful daughter of love) uit Rigoletto van Verdi met Van Staden, Beck, Coert Grobbelaar en Bijkersma se stemme wat perfek vermeng het.
Die opera-gala aangebied deur die Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge in samewerking met die Pretoria Simfonie-orkes in die Senotaafsaal het die potensiaal om een van die hoogtepunte op die kultuurkalender van Pretoria te word en heeltemal dan ook tereg so.
– Kliek hier om na die Kersfeesliedjie-inleiding van die operagala te luister:
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie?
Stuur gerus vir ons ‘n epos na bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram en TikTok.



