Klag aanhangig nadat VF Plus-stadsraadkantore wederregtelik ontruim is
Die wederregtelike verwydering van die inhoud van twee koukuskantore van 'n politieke party is ook teen die Popi-wet aangesien persoonlike data verwyder is.

’n Klag van strafregtelike betreding is deur die leier van die Vryheidsfront Plus in die stadsraad aanhangig gemaak by die Lyttelton-polisie op 31 Desember 2024.
Dis nadat daar ontdek is die party se rekenaars, meubels, inligtingsdokumente en persoonlike items is wederregtelik uit twee van drie partykantore by Tshwane-huis verwyder.
Die koukuskantore word al vir drie jaar deur die party gebruik.
“Die voorval het voor die feestyd gebeur en is op 10 Desember deur ons personeel ontdek,” sê koukusvoorsitter Grandi Theunissen.
Hy eis dat die party meegedeel word wat die motivering rondom die stap was en hoekom kwalifiseer die party nie langer vir die kantore nie.
Die provinsiale kantoor van die polisie is ook in kennis gestel aangesien Theunissen uit die aard van die dokumente wat verwyder is soos ledelyste, mediastrategieë en ander beleidsdokumente, die verwydering as ’n daad van “politieke spioenasie” beskou.
Theunissen sê die items is klaarblyklik in ’n stoorkamer geberg. Sy beswaar is ook die regte prosedure en prosesse is nie in die verwydering daarvan gevolg nie.
Van die personeel se persoonlike dokumentasie is ook verwyder.
“Hierdie verwydering is ook ’n verbreking van die Wet op die Beskerming van Persoonlike Inligting (Popi-wet). Daar is persoonlike inligtingsdokumente van die personeel soos mediese inligting ook geneem.
Hoe gaan hulle hierby verbykom?”
Die goedere is volgens Theunissen verwyder deur ’n buite maatskappy in opdrag van die groephoof in die hoofsweep van Tshwane se kantoor, Gadner Tefu.
Hy voel die nuwe koalisieregering bestaande uit ActionSA, die ANC en die EFF, het dalk besluit die party verdien nie meer kantore by die stadsraadsetel nie.
“Dit kom op diktatorskap neer en is ’n misbruik van mag,” meen Theunissen.
Hy verduidelik dat hy die saak opgeneem het voor Kersfees met verteenwoordigers van die koalisieregering.
Toe hy teen die einde van die jaar geen antwoorde gekry het nie, het hy die saak by die polisie aanhangig gemaak.
Hy is teleurgesteld in die burgemeester dr. Nasiphi Moya en hoofsweep van die Tshwane-metro, Samuel Mashola. Moya het tot dusver glad nie op enige vertoë van sy kant oor uitklaring van die omstandighede rondom die verwydering reageer nie en hy vereis ’n verskoning en verduideliking van Mashola.
Volgens Theunissen beskou die party dit as ’n moedswillige daad van die hoofsweep en sy personeel.
“Dit is ’n voorskou wat gaan gebeur as ons hierdie koalisie laat voortgaan om hul mag te misbruik.”
Die metro is om kommentaar genader maar geen is teen publikasie ontvang nie.
Lees ook:
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie?
Stuur gerus vir ons ‘n epos na bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie.
