Local newsNews

Van Rooyen/Haarhoff-raaisels steeds onder soeklig

Die antwoorde rondom die verdwyning van ses meisies het Gert van Rooyen en Joey Haarhoff klaarblyklik na hul graf geneem, maar dit stuit nie ondersoekers en joernaliste om 35 jaar na hul dood nog ondersoek in te stel nie.

Vandeesweek op 15 Januarie is dit 35 jaar gelede wat Gert van Rooyen homself en Joey Haarhoff doodgeskiet het.

In die meer as 30 jaar sedert die tragiese verdwyning van ses jong skoolmeisies en die dramatiese skietdood van die land se berugste paartjie, hang onbeantwoorde vrae steeds in die lug.

Van Rooyen het Haarhoff geskiet en sy lewe geneem tydens ’n polisiejaagtog op 15 Januarie 1990, minder as ’n week na die ontsnapping van een van hul slagoffers.

Joernalis Pieter van Zyl het lank navorsing gedoen en onderhoude gevoer vir die skryf van sy boek oor Gert van Rooyen en Joey Haarhoff.

Die makabere raaisels wat hulle agtergelaat het, het nie saam met hulle gesterf nie.

Rondom die tragiese verdwyning van die skoolmeisies en die dood van Van Rooyen en Haarhoff, hang hierdie raaisels nog in die lug en ’n joernalis, Pieter van Zyl, delf steeds na feite om die raaisels op te los.

Die paartjie word verbind met die verdwyning van ses meisies tussen 1988 en 1990.

Hulle het na bewering vir Tracey-Lee Scott-Crossley (14), Joan Horn (13), Odette Boucher (11), Anne-Marie Wapenaar (12), Yolande Wessels (12) en Fiona Harvey (12) ontvoer. Die meisies is nog nooit gevind nie.

Al bogenoemde ontvoerings, behalwe die van Scott-Crossley, is later deur getuies of by wyse van forensiese bewyse met Van Rooyen en Haarhoff verbind. Scott-Crossley se verdwyning is deur omstandighede aan die paartjie verbind.

Geen slot is aan een van twee hekke na die erf waar Gert van Rooyen gewoon het nie. Die ander hek is met blou draad vasgemaak. Die huis is deur die polisie gesloop. Die erf is tans oorgroei met onkruid en welige plantegroei.

Hul laaste slagoffer het uit Van Rooyen se huis by Malherbestraat 227, Capital Park, Pretoria, ontsnap.

Op 11 Januarie 1990 is die 16-jarige Joan Booysen van Pretoria deur Haarhoff ontvoer. Sy is na Van Rooyen geneem. Sy is geboei, bedwelm en seksueel aangerand voordat sy in ’n kas toegesluit is. Sy het daarin geslaag om te ontsnap en die polisie te waarsku.

In 1996 skenk Absa Van Rooyen se huis aan die polisie om verdere leidrade te probeer vind. Die huis word in Mei 1996 stelselmatig gesloop. Die dak is verwyder en gestofsuig, op soek na naels en hare van die vermistes. Daarna is die mure afgebreek en ’n sonar is gebruik om versteekte holtes op te spoor. Die grond in die tuin is gesif, wat ’n paar bene opgelewer het, maar dit is as nie-menslike oorskot geïdentifiseer.

Vir Van Zyl, joernalis van Kaapstad en skrywer van die boek, Gert en Joey: Nuwe lig op ’n raaisel van dertig jaar, is daar ’n persoonlike hoek aan sy ondersoek en navorsing vir sy boek wat in 2018 verskyn het.

‘n Bord van herinnering is vir die ses slagoffers van Gert van Rooyen en Joey Haarhoff by Malherbestraat 227, Capital Park, Pretoria aangebring.
Die straat in Pretoria waar Gert van Rooyen se huis by nommer 227 Malherbestraat was.

Hy is in die Moot gebore. Sy pa, André, was ’n predikant by die NG Kerk Bronberg. Sy ma, wyle Nellie, het saam met Van Rooyen in ’n kerkkoor gesing.

“Van Rooyen was deel van die agtergrond waarin my lewe afgespeel het totdat ons Hartbeespoortdam toe getrek het. Dit was in die dae toe ons nog in die Moot op die grasperk voor die pastorie kon speel,” onthou Van Zyl.

Twee van die onbeantwoorde vrae wat by hom spook is: Was daar regeringsbetrokkenheid met die verdwyning van die meisies? Ook: Het Van Rooyen werklik selfmoord gepleeg of is hy en Haarhoff deur ander partye uitgehaal?

“Op die lykskouingsfoto’s is daar wonde in hul agterkoppe. Jy gaan jou mos nou nie in jou agterkop skiet as jy selfmoord pleeg nie?” vra Van Zyl.

Hy glo steeds ook, en het so in sy boek geskryf, dat hy vermoed daar is ook ander seuns en dogters destyds vir die smokkelnetwerk ontvoer bo en behalwe diegene waarvan die besonderhede bekend is.

“Ek het nou weer vir ’n jeugroman op ’n sekshandeltema oor sportafrigters, navorsing gedoen. Dit is verstommend hoe netwerke werk om kinders in te suig in die donker wêreld van sekshandel asook hoe kinders geleer word om ander kinders te betrek. Dit kon net so maklik destyds gebeur het,” vertel Van Zyl.

Hy het nog kontak met van die ouers van die slagoffers soos met Odette Boucher se ma, Linette van der Lingen en het ook met George Boucher voor sy dood kontak gehad.

“Ek en tannie Linette stuur bykans daagliks nog boodskappies vir mekaar en ons probeer goedjies rondom haar kind opvolg,” vertel Van Zyl.

“Ek sal graag antwoorde vir hierdie families wil kry.”

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? 

Stuur gerus vir ons ‘n epos na  bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord

Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram en TikTok.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Back to top button