News

Parlement komitee moet nou besin oor tolkorting-aansoek

Voorstanders sê hoë tolkoste op die N1/N4-korridor plaas toenemende druk op huishoudings en ondernemings, met moontlike gevolge vir plaaslike ekonomiese groei en mobiliteit.

’n Petisie wat afslag op tolgelde vir daaglikse gebruikers van verskeie Bakwena-tolplazas in die noorde van Pretoria versoek, is op 21 Mei by die Parlement ingedien.

Die honderde ondertekenaars van die petisie meen die huidige tolkoste plaas ’n groeiende finansiële las op huishoudings, pendelaars en ondernemings in Pretoria-Noord, die Moot en omliggende gebiede.

Die petisie, wat deur die DA-LP Adrian Roos in die parlementêre proses aangevoer word en deur plaaslike raadslede en gemeenskapsbelanghebbendes ondersteun word, vra vir ’n toegewingstelsel vir gereelde gebruikers van die N1- en N4-roetes.

Hierdie gebruikers kom van Montana, Doornpoort, Sinoville, Kameeldrift, Roodeplaat, die Moot en omliggende gebiede.

Die petisie is nou na die Parlement se Komitee oor Uitvoerende Ondernemings en Petisies verwys.

Indien dit deur die komitee aanvaar word, sal die saak na die Portefeuljekomitee oor Vervoer verwys word vir verdere oorweging.

Die versoek fokus op die Doornpoort-, Zambezi-, Stormvoël-, Wallmannsthal- en Pumulani-tolplazas.

Roos sê die aansoek volg ná jare se gesprekke tussen die Tshwane North Toll Relief Forum, Bakwena en die Suid-Afrikaanse Nasionale Padagentskap (Sanral).

“Die petisie is in samewerking met DA-raadslede en belanghebbendes uit die betrokke gemeenskappe opgestel,” het Roos aan Rekord gesê.

Volgens die petisie het vorige gesprekke tussen gemeenskapsverteenwoordigers en die tolpadowerhede aanvanklik belowend gelyk.

“Ons het Sanral se beloftes in goeie trou aanvaar en gedink ons het by ’n ooreenkoms uitgekom,” sê Roos.

Gemeenskapsverteenwoordigers beweer egter dat die onderhandelinge tot stilstand gekom het voordat ’n toegewingstelsel gefinaliseer kon word.

Die petisie lê die blaam vir die oponthoud voor die deur van Bakwena en verwys ook na vorige gesprekke met Sanral en Bakwena waarin ’n 25%-toegewing glo intern binne die vennootskap bespreek is.

Navorsing is deur die Universiteit van Pretoria gedoen oor die invloed van tolgelde op inwoners en ondernemings in die noorde van Pretoria.

Volgens Roos was een van die belangrikste bevindings dat die afwesigheid van toegewingstariewe vir plaaslike gebruikers ekonomiese gevolge inhou wat veel verder strek as individuele pendelaars.

Die petisievoerders voer aan dat ’n groot deel van die plaaslike bevolking daagliks van die betrokke tolroetes gebruik maak vir werk, onderwys, inkopies en ander aktiwiteite.

Hierdie tariefbord by die Stormvoël-tolplaza op die N1/N4-korridor wys huidige tolgelde vir pendelaars. Gemeenskapslede voer aan dat stygende koste huishoudings en ondernemings in die noorde onder druk plaas, terwyl ’n petisie nou vra vir ’n meer bekostigbare toegewingstelsel vir gereelde gebruikers. Foto: Elize Parker

Volgens die inligting in die petisie gebruik 82% van respondente die tolroetes gereeld, terwyl 67% aangedui het dat hulle meer as R500 per maand aan tolgelde bestee.

Die voorgestelde oplossings sluit ’n maandelikse kredietstelsel in wat aan e-tags gekoppel word, persentasie-afslag vir gereelde gebruikers en verlaagde tolgelde vir plaaslike ondernemings wat binne die betrokke gebied sake doen.

Ondersteuners van die petisie sê die kwessie raak nie net pendelaars nie, maar het ook breër implikasies vir ekonomiese groei en investering.

Roos waarsku dat vervoerkoste ’n invloed het op waar ondernemings hulle vestig en of hulle op die lang termyn lewensvatbaar bly.

“Ek het gesien hoe ’n hele nywerheidsgebied om redes soos hoë padkoste en vervoerkoste in ’n spookdorp kan verander, soos wat met Ekangala naby Bronkhorstspruit gebeur het. Dit het eenvoudig te moeilik geword om daar sake te doen en daarheen en terug te reis.”

Hy sê stygende bedryfskoste plaas verdere druk op klein en mediumgrootte ondernemings wat reeds moeilike ekonomiese omstandighede moet trotseer.

“Iets soos ’n groot tolrekening kan ’n enorme impak op ’n klein onderneming hê,” sê hy.

Ondernemings wat afhanklik is van gereelde aflewerings, diensritte, en werknemers wat daagliks moet pendel, word volgens hom besonder swaar deur stygende padgebruikskoste geraak.

Roos meen ’n toegewingstelsel kan help om bedryfskoste van besighede te verminder en terselfdertyd verligting bring aan inwoners wat toenemende lewenskoste ervaar.

“Dit is belangrik vir die ekonomie van hierdie gebiede dat hierdie saak opgelos word,” sê hy.

Roos het die kwessie ook met die Minister van Vervoer, Barbara Creecy, opgeneem en haar ondersteuning versoek om ’n oplossing te vind wat die bekommernisse van gemeenskappe noord van Pretoria aanspreek.

Creecy is die ministeriële toesighoof van Sanral wat Bakwena tot 2030 as konsessionaris op die roete wat die tolhekke insluit, aangestel het.

Die uiteindelike beslissing berus nou by die parlementêre proses.

Indien die petisie deur die Komitee oor Uitvoerende Ondernemings en Petisies ondersteun word, sal die Portefeuljekomitee oor Vervoer moet besluit of verdere onderhandelinge met Sanral en Bakwena aangeknoop moet word en hoe dit moet geskied.

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? 

Stuur gerus vir ons ‘n epos na  bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord

Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram en TikTok en WhatsApp Channel

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Elize Parker

Elize Parker is a senior journalist with more than 25 years of experience covering especially environmental, municipal and profile articles. She writes investigative reports, profiles, social articles and consumer related articles and also does photographs and multimedia to go with these. Previously she worked as a news editor for a radio station, news reader, a magazine journalist with women’s magazines and as a column writer.
Back to top button