Local newsNews

Onwettige bouery langs Gautrein-lyn bekommer inwoners

Onwettige bouwerk op 'n erf in Muckleneuk en beweerde burokratiese onwilligheid om inwoners te help, maak hulle ongelukkig.

Inwoners van Muckleneuk in Leydsstraat sit al sedert die einde van 2023 met hul hande in hul hare oor die onvermoë van die metro om betyds die onwettige konstruksie op ’n terrein in Ebbardlaan 11 te voorkom en te beheer.

Die inwoners voel as gevolg van die metro se swak finansiële posisie, ly wetstoepassing rondom munisipale bywette.

Hulle meen die metro se wetstoepassingseenhede, soos die bou-inspekteursafdeling, is waghonde sonder byt al het hulle ’n mandaat om op te tree.

“Ons vermoed bouwerk gaan voort ten spyte van ’n skuldigbevinding in die munisipale hof,” sê ’n ontstoke inwoner. Hy woon al tien jaar in die omgewing.
Inwoner het verkies om anoniem te bly.

Daar is vroeg reeds deur inwoners vermoed planne vir die konstruksie is nie ingedien of goedgekeur nie. Daar is hierteen beswaar gemaak.

Vantevore was daar net ’n enkelhuis op die erf.

Die eiendom is een van talle in ’n beskermde en omheinde gebied waar daar net toegang per veiligheidshek verkry kan word.

Ten spyte van klagtes hieroor aan die metro, is die eienaar toegelaat om met konstruksie voor te gaan.

’n Ander inwoner sê: “Ons is nie teen konstruksie in die buurt nie.

Ons sien inderwaarheid uit na die ontwikkeling wat deur die Zuid-Afrikaansche Hospitaal in ons omgewing gaan geskied, maar enige konstruksie moet volgens bouregulasies gedoen word,” glo sy.

Die omgewing se huise is meesal reeds voor 1940 opgerig op ’n plaas wat eertyds aan Jan Smuts behoort het.

Een van die inwoners voel die metro sit al maande met hul hande gevou terwyl die konstruksie voortgaan.

Hofstukke wys die metro het al op 4 Desember 2023 van die verbreking van bouregulasies deur Solly Zimisele Nkuna op erf 709/1 in Ebbardlaan kennis geneem.

Die metro het na druk deur die inwoners en die bediening van ’n oortredingskennisgewing op 11 April 2024, Nkuna hof toe geneem nadat hy ten spyte van die kennisgewing voortgegaan het om te bou.

Na ’n verskyning in die hof op 24 Julie 2024, het die eienaar ’n boete van R1 500 betaal en skuldig gepleit.

Garrin McKenzie, funksionele hoof van die bou-inspekteurs van Streek 3, het inwoners daarna verwittig die metro is deur die aanklaer aangeraai om die saak na die Hooggeregshof te neem.

So kan ’n slopingsbevel bekom word.

Toegang na ‘n serwituut van die Gautrein is verkry vanaf ‘n perseel met onwettige konstruksie daarop deur ‘n heining af te breek en bourommel daar te stort. Die bourommel het in Oktober verlede jaar tot ‘n brand gelei. Foto: Elize parker

Hierdie stap sou egter volgens McKenzie se e-pos nie deur die metro geneem kon word nie.

Die inwoners is deur hom meegedeel ’n saak om so ’n bevel te bekom sal selde in die Hooggeregshof deur die metro aangepak word. Daar is volgens die e-pos nie geld daarvoor nie.

Volgens McKenzie prioritiseer die metro oortredingsgevalle. Net die werklike kritiese sake word na die Hooggeregshof geneem.

Inwoners het die metro meegedeel hulle is ontevrede omdat daar geen verdere optrede geneem is na die betaling van die boete nie.

Die erf met die aanbouing grens aan die serwituut teen die spoorlyn van die Gautrein in Muckleneuk.

Die heining tussen die Gautrein-serwituut en die erf met die onwettige eenhede is oopgebreek. Bourommel word tans in die serwituut deur die ontwikkelaar se konstruksiespan gestort.

Hierdie rommel het vroegoggend op 19 Oktober 2024 aan die brand geslaan. Die brand is deur oplettende inwoners aan die brandweer gerapporteer en brandvegters kon tydig die brand onder beheer bring.

Die eienaar was nie op die terrein teenwoordig of in Pretoria tydens die voorval nie.

Inwoners het onlangs die oortreding in die serwituut van die Gautrein aan die Gautrein-inspekteur uitgewys. Inspeksies vind daagliks plaas om na die veiligheid van die spoorlyn en die treine om te sien.

Die metro is telkens na die hofsaak deur inwoners genader om uit te wys hoe hulle vermoed dat die onwettige bouprojek voortgaan.

Die mees onlangse klagte is op 1 Januarie vanjaar gerig. Nicolene le Roux van die Bouomgewing en Wetstoepassinsgsafdeling het een van die inwoners per e-pos op 8 Januarie vanjaar in kennis gestel van ’n onlangse metro terrein-inspeksie van die betwiste erf.

’n Oortredingskennisgewing sal volgens Le Roux binnekort op die eienaar bedien word.

Nkuna het aan Rekord uitgewys dat hy met die aankoop van die eiendom in Januarie 2022 nie geweet het hy moet planne vir aanbouings of die konstruksie indien nie.

“Ek het egter ’n regstelling na die hofoptrede gemaak, planne laat optrek en dis ingedien, maar nog nie goedgekeur nie. Daar moet veranderings aan die planne gemaak word,” verduidelik die eienaar.

Hy benadruk dat hy nie na die hofverskyning en indiening van planne, met konstruksie voortgegaan het nie.

“Ek het egter probeer om die voorkoms van wat tans gebou is, te verbeter sodat die aanbouings beter van buite kan lyk.”

Nkuna bevestig dat hy tans planne beraam om die bourommel te verwyder en by die bure verskoning aangeteken het dat hy nie tydens die brand teenwoordig was om verantwoordelikheid met die aanvang daarvan te neem nie.

Kommentaar is by die Gautrein-owerhede aangevra maar is nog nie teen druktyd ontvang nie.

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? 

Stuur gerus vir ons ‘n epos na  bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord

Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram en TikTok.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Back to top button