Local newsNews

Drankaflewerings ‘n kopseer vir Eloffsdal-inwoners

Die gemeenskap in Eloffsdal is omgekrap oor trokke wat drank aflewer wat na bewering padoortredings begaan en verkeersrisiko's skep.

Meer as 100 inwoners van Eloffsdal en veral Neethlingstraat in die Moot het ’n petisie opgestel teen padgevare wat geskep word deur afleweringsvragmotors wat drank aflewer aan ’n drankwinkel op die hoek van Neethling en Paul Krugerstrate.

Die petisie is ’n inisiatief van paramedikus, sakeman en inwoner, Xander Loubser.

Loubser het op aandrang van inwoners die voortslepende padoortredings deur die afleweringsvoertuie ondersoek en gesprekke met inwoners aangeknoop om ’n oplossing te vind.

Woonstelblokke en huise is oorkant en langs die drankwinkel geleë.

Trokke wat dubbel geparkeer staan, veroorsaak dat motoriste in die baan van aankomende verkeer moet ry.

Loubser het tot die gevolgtrekking gekom die trokke wat drank aflewer skep aansienlike risiko’s vir die gemeenskap.

“Die teenwoordigheid van die trokke op die sypaadjies en op die pad in Neethlingstraat, stel die lewens van ons kinders en inwoners in gevaar. Hulle het nie sypaadjies om op te stap nie. Padgebruikers word ook deur trokke wat dubbel parkeer, gedwing om teen die aankomende verkeer in dieselfde baan te ry. Dit kan lei tot kop-aan-kop-botsings. Die opeenhopings van die trokke op die hoek, maak ook die straat in sy geheel gevaarlik vir alle motoriste omdat sig beperk word,” verduidelik Loubser.

“Dit bekommer die gemeenskap ook dat die swaar trokke aansienlike skade aan die paaie aanrig. “Hier is diep slaggate oraloor waar die trokke ry,” sê hy.

“Ongeag ons pogings om hierdie sake met die drankwinkelmaatskappy se bestuur te bespreek, is ons klagtes eenkant toe geskuif. Hulle sê hulle het nie beheer oor die drywers en verskaffers se gedrag nie. Ons het ook die aangeleentheid met die drywers opgeneem, maar ons het net teëstand ervaar,” verduidelik Loubser.

Volgens hom trek die drankwinkel se bestuur ook net hul skouers op oor die gemeenskap se versoek dat aflewering net binne die perseel moet geskied.

Hy verduidelik die parkeerplekke voor die drankwinkel buite die heining word tot so vier op ’n slag ingeneem.

Die gedrag veroorsaak dat van die woonstelle en huise se inwoners nie daar kan parkeer of stap nie.

Daar is geen aanduiding dat die gebied voor die drankwinkel in Neethlingstraat ’n laaisone is nie.

“Inwoners wil weet: ‘Maar hoekom geskied al die aflewerings nie binne die terrein nie?’ Asook: ‘Hoekom is daar nie spasie binne die terrein vir trokke om daar te wag nie?’

Hierop is daar deur die bestuur geantwoord dat die infrastruktuur op die terrein nie ’n groot aantal trokke binne kan toelaat nie. Volgens hulle kan die infrastruktuur nie verander word nie,” vertel Loubser.

Hy beoog om aan die einde van Januarie die petisie na die metro te neem om op aksie van hul kant aan te dring.

“Ons wil ’n versoek rig vir kennisgewingborde om opgesit te word. Sulke borde kan trokke verbied om in Neethlingstraat op sypaadjies of in die straat te stop. Met sulke borde in plek, kan drywers beboet word. Dalk verander dit hul gedrag. Ons wil ook toesien dat die metropolisie teen die drywers optree wat ook ander padreëls hier verbreek,” sê Loubser.

Etienne Neuhoff, areabestuurder van Ultra Liquors, sê die drankwinkel is nie meer net ’n drankwinkel soos byvoorbeeld in 1994 toe dit reeds op die terrein geleë was nie.

Die geboue is nou ook ingerig om ’n herverspreidingsdepot te wees waar drank op groot maat ingeneem word vir verspreiding na ander drankwinkels.

“Die herverspreiding en aflewerings word goed beplan, maar dit is ook ’n situasie wat dinamies is, aangesien die trokke nie altyd op ’n afgespreekte tyd kom nie. Ons kan nie werklik reël hoe lank, wanneer en waar presies op die terrein al dan nie die aflewering gaan plaasvind nie,” verduidelik Neuhoff.

Drank in kratte is tydens die afgelope besige seisoen ook op die terrein buite die pakhuis geberg.

Hy het bevestig dat hulle al die saak met verskaffers opgeneem het sodat die padoortredings met hul trokbestuurders bespreek kan word.

“Miskien moet ons weer so ’n brief skryf want dit is ook nie vir ons aanvaarbaar dat die gemeenskap moet sukkel nie. Ons voel egter ons kan nie verskaffers voorsê hoe om hul op die pad te gedra nie,” verduidelik Neuhoff.

Hy lê klem daarop dat die probleem dalk ook net siklies kan wees soos rondom Kersfees wanneer daar meer aflewerings as gewoonlik is van lae waarde produkte wat in groter as gewoonlik aanvraag is, soos bier.

Voorraad is ook in die pasafgelope seisoen op die terrein buite die pakhuis opgestapel en het so spasie ingeneem.

“Ons het die verskaffers in Desember juis gevra om vroegoggend te kom om opeenhopings te vermy,” verduidelik Neuhoff.

Hy het kennis geneem van klagtes soos dat die vragmotors ook oor die huise se grasperke ry en die grasperke verniel.

“Ten opsigte van die gevaar rondom kinders, glo ek hulle behoort nie in die strate te speel nie,” meen Neuhoff.

Oor die slaggate in die straat onmiddellik voor die drankwinkel sowel as laer af, sê Neuhoff, dit is nie bloot net hul verskaffers se voertuie wat in die strate ry nie, maar ook groot vragmotors wat ’n kortpad deur die buurt soek om tolhekke se kostes te vermy.

Hy is bereid om na die gemeenskap se verteenwoordigers te luister en te kyk hoe hulle tot ’n vergelyk kan kom. “Ons is bereid om oor die aangeleentheid te gesels,” onderneem Neuhoff.

Die metropolisie is om kommentaar genader maar geen is ontvang nie.

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? 

Stuur gerus vir ons ‘n epos na  bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord

Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram en TikTok.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Back to top button