Mootgroepe gereed vir aksie
In die Moot is daar verskeie aksies deur groepe geloods om van lang gras tot onwettige gestorte rommel ontslae te raak om vanjaar die buurt aantreklik te maak as 'n keuse vir besigheide en nuwe huiseienaars.
Die metro het in 2022 R126,3 miljoen spandeer aan die opruiming van rommel wat onwettig gestort is in die Moot.
Drie groepe het nou ’n beroep op inwoners gedoen om onverpoosd toe te sien dat hierdie omgewingeuwel bekamp word tydens pogings om die Moot te verfraai en te verbeter.
Mari Joubert, raadslid van die Vryheidsfront Plus, sê hul beroep is spesifiek daarop gemik om inwoners te vra om nie hul huishoudelike afval, tuinvullis en bourommel langs strate of leë persele in Rietfontein, Villieria, Rietondale en Riviera te stort nie.
Die party het die afgelope drie maande meer as 80 sulke gevalle by die Tshwane-metropolisie en die departement van afvalbestuur en omgewingsake aangemeld en boetes is reeds opgelê.
Sy wys daarop dat huishoudelike afval van minder as 1,3 ton kan gratis by die verskillende stortingsterreine afgelaai word. Oormatige huishoudelike afval kan by ’n stortingsterrein in Soshanguve, Ga-Rankuwe, Heatherley en Bronkhorstspruit gelaat word.
Inwoners kan tuinvullis wat minder as 1,3 ton weeg by die nege verskillende oorgangsterreine aflaai. Die terreine is in Dorandia, Magalieskruin, Menlopark, Mountain View, Philip Nelpark, Rooihuiskraal, Krugerlaan, Eersterus en Waltloo. Afval kan ook by die oorgangstasies in Cullinan en Mabopane gestort word.
Joubert wys op onlangse projekte onder haar en haar span se leiding saam met die metro om onder meer Swemmerstraat in Rietfontein skoon te kry, straatligte in 18de Laan reg te maak, asook straatligte in 15de Laan te herstel.
Joubert en haar span het juis op 20 Januarie weer ’n groot skoonmaaksessie gehad.
“Hierdie onwettige storting moet stop. Ons moet die amptenare ook help en die klagtes deurgee. Inwoners kan my op 072 751 2148 skakel met klagtes rondom onwettige storting van rommel,” bied Joubert aan.
Sy is ook tans besig om saam met haar span en die metropolisie daaraan te werk om die onwettige en informele taxi-staanplek by die tolhekkruising in Stormvoëlweg en die storting van vullis deur passasiers en taxi-operateurs te ondersoek.
“Die metropolisie kyk na watter bywette oortree word sodat hulle kan optree,” sê Joubert.
Johan Oberholster van die Mootprojek vertel hulle planne vir die jaar is goed onderweg.
“Wat ons graag vanjaar wil doen, stem ooreen met ons werk van verlede jaar. Die klem sal wel vanjaar op infrastruktuurverfwerk dwarsdeur die Moot geplaas word sowel as op skropsessies op slegte kolle. Ons het reeds 3 500 lamppale in die Moot geverf. Werk wat voortgesit word, is om die noordekant en suidekant van die spruit skoon te maak. Tans loop werkers spruitlangs en maak hulle skoon van oos na wes en begin dan weer by die oostekant. Die bruggies oor die spruit is ook reeds geverf,” sê hy.
Volgens hom het die spanne al honderde sakke vullis by die spruit opgetel. Nog ’n projek is om verder Pierneef- en Fratesstrate se opknapwerk klaar te maak. Vanjaar gaan die spanne ook infrastruktuur herstel en veral dan ook asblikke wat beskadig is. Besige roetes soos Pierneef-, Parker-, Frates-, Stead- en ‘n gedeelte van Nico Smithstraat sal gereeld skoongemaak word.
“Ons wil graag ook die Mootslothuispark se heining verbeter en probeer om Steadlaan se brug se verfwerk te voltooi. Ons wil met al die projekte die Moot die voorkeurgebied maak wat besighede en inwoners sal nadertrek en die gemeenskap se gemoed lig en huispryse verbeter,” sê Oberholster.
’n Projek is ook aangepak om rondom die groeiende informele woonbuurt, Polla Park, in die noorde van die spruit skoon te maak omdat die omgewing vuil is en ’n gevaar vir veral kinders inhou. Oberholster wys daarop die omgewing is vol dwelmsakkies en gebruikte dwelminspuitnaalde.
“Ons sal graag donateurs wil nadertrek om te help om die gedeeltes in Villieria waarvan die infrastruktuurverfwerk, soos lamppale, nog nie gedoen is nie, af te handel. Ons het so 300 lamppale om daar te verf,” versoek Oberholster.

Llewellyn Hemmens van AfriForum se Groter Moot-tak en sy span het weer opgemerk dat die stadsraad besig is om agter te raak met die sny van gras in die Moot.
“Laasjaar kon hulle nog byhou, maar die gras keer nou weer terug na die goeie reën. Inwoners roep ons links en regs om die gras te kom sny. Buurtwaglede het laatnag gewerk om die trekker te diens sodat ons nie werksdae mis nie,” verduidelik Hemmens.
Hy is dankbaar vir ’n skenking wat Pre-primêre Skool Mayville gemaak het om hulle in staat te stel om hul werk in die Moot voort te sit.
“Hulle het ons geborg om die munisipale grond langs hulle se gras te sny. Ons pak baie graag volhoubare gemeenskapsprojekte soos hierdie aan en hulle terugvoer gee ons moed. Hulle glo die sny van die gras maak ’n groot verskil, veral vir veiligheid, want ’n mens weet nie wie en wat kruip weg in die gras nie.”
Hemmens verduidelik die trekker en sy bestuurder is beskikbaar om gras te sny indien ’n donasie vir brandstof gemaak kan word. Hy vra belangstellendes om hulle te kontak by grotermoot@afriforumtak.co.za
Nog ’n projek wat hulle in die Moot tans aanpak, fokus daarop om onwettige storting van rommel te voorkom en meer doeltreffende vullisverwydering te fasiliteer. Hiervoor word daar tans ’n herwinningspasie ingerig.
“Ons wil graag by inwoners begin herwinningsmateriaal oplaai soos ons in Centurion doen vir ’n klein subskripsiefooi. Die herwinning wil ons graag doen om die informele herwinning in die spruitareas hok te slaan. Die informele herwinnaars bring dikwels misdaad in die buurt in en om die herwinning te organiseer kan met die bekamping hiervan help.”
LEES: Unieke laboratorium maak deure vir leerders oop
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie?
Stuur gerus vir ons ‘n epos na bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram en TikTok.


