Geliefde Riaan woeker met talente
Sanger, omroeper en skrywer Riaan Grobler skryf graag oor wat hy weet en ken, andersins doen hy volledig navorsing.
Wanneer skrywer, omroeper en akteur Riaan Grobler in sy gemaklike omroeperstem gesels, kan jy maklik en gou aflei hoekom sy twee boeke beide bo-aan die gesaghebbende indeks van boekverkope in Suid-Afrika vir ‘n ruk die suksesgolf gery het en steeds ry.
Hospitaal Weltevreden was in laat Januarie vanjaar vir die tweede agtereenvolgende week nommer een op die Nielsenlys se Afrikaanse fiksie-lys as topverkoper van die week.
Grobler skryf beeldend en tekenend uit sy hart oor wat hy ken en intens oor navorsing gedoen het.

In sy eerste boek, Geheime van Philadelphia, word die storie van ‘n sanger vertel, ‘n wêreld wat Grobler goed ken.
Hy behaal al vir bykans twee dekades sukses as sanger. Die eerste van sy talle albums het in 2006 die lig gesien ná sy deelname aan die talentkompetisie, Supersterre. In 2006 tree hy op as akteur in die musikale verhoogproduksie, The Wedding.
Grobler voel hom deesdae tuis as ‘n duetsanger nadat hy suksesvol duette saam met Kaapse smaakmaker en sangeres, Jomari Greyling, begin sing het, sowel as enkelsnitte en die album, Moskonfyt, saam met haar opgeneem het.
Die titelsnit, Moskonfyt, is veral ‘n treffer op dansvloere in Pretoria.
Hy het ook al verskeie duette saam met sangers soos Juanita du Plessis, Jeniffer Zamudio, David Fourie en Nadia Beukes opgeneem.
“Ek wil voortgaan om duette saam met Jomari op te neem. Ons wil ook geleenthede vorentoe aangryp soos om dalk België as duetsangpaar te besoek.”
‘n Musiekbewonderaarsblad op sosiale media met meer 36 000 lede, Wêreld Onbeperkte Musiek, het die duetpaar se countrymusiektreffer, Somewhere between, as hul liedjie van die jaar aangewys.
In sy nuwe boek, Hospitaal Weltevreden, vertel hy die storie van Anna-Mart, ’n noodeenheid-spesialis wat die lang gange van Hospitaal Weltevreden goed ken. Sy is nie bang vir harde werk nie. Dis immers ál hoe sy uit die armoede van haar en haar twee broers se enkelma-huishouding kon ontsnap en haar droom om ’n dokter te word, kon verwesenlik.
Grobler glo self in harde werk en produktief wees. Hy het in Pietersburg grootgeword en in ‘n bank gewerk om geld vir universiteitstudie te kry om sy dramagraad te voltooi, maar dit is nie net die verhoogplanke wat geroep het nie.
“Ek wou nog altyd ‘n hospitaalstorie skryf. Ek dink dis na die lees van al die Ena Murray-stories uit my kleintyd.”
Getrou aan sy geaardheid om sy artistieke integriteit voorop te stel, of hy nou skryf, sing of agter die mikrofoon inskuif vir sy gewilde programme op Pretoria FM, het hy ook omvattende navorsing oor die geestelike tema vir sy hospitaalroman met sy Christelike aanslag gedoen.
Grobler is bekend daarvoor dat hy voorspraak maak vir meer empatie en begrip vir geestesgesondheidsiektes soos bipolêre versteuring.
Hy is daarmee in sy laat dertigs gediagnoseer, maar dit is nie net sy eie ervarings in hospitale wat hom in staat stel om werklikhede in die roman te skets nie.
Hy het ‘n pad gestap met ‘n borskankerlyer wat bereid was om anoniem haar verhaal vir hom te vertel sodat hy feite in sy verhaal lewensgetrou kon stel. Dit was vir hom ‘n swaar en emosionele oomblik toe sy voor die verskyning van die boek oorlede is.
“Toe my ma Margaret agt jaar gelede in die Eugène Marais-hospitaal opgeneem is, het ek ook als so intens ervaar. Al die reuke en kleure is vasgeëts in my gedagtes.”

Met sy navorsing oor die noodeenheid wat in sy fiktiewe hospitaal geleë is, het hy veral gelet op die mediese taal en terme wat in so ‘n noodeenheid gebruik word.
Wanneer hy nie voor die mikrofoon is om te sing of Sondae na kerk in Brooklyn in ‘n koffiewinkel inskuif om te skryf nie, is dit die twee “adellikes” in sy lewe, twee spanjoelhonde, wat in hul paleis in die Moot al sy aandag kry: “Sy pappa se mooistes. Waldi Louis Windsor en Georgie Elizabeth Windsor. Royalty sê ek jou.”
Tans maak Grobler ‘n paar eksperimente in die kombuis om op Melktertdag in Februarie ook vriende en kollegas te verras met die tradisionele gebak. Hy het goed hiermee gekonfyt geraak tydens die Covid-19-pandemie.
Maar nee, die geheime van ‘n melktert waarvan mens die lepel van wil aflek, net soos sy storiegeheime, gee hy nie sommer weg nie.
LEES: Eeufeesvieringe vol prettige oomblikke
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie?
Stuur gerus vir ons ‘n epos na bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram en TikTok.
