Huis Herfsblaar vier 40 jaar van liefdevolle versorging
'n Tuiste waar 'n nuwe fase van jou lewe kan begin, was die droom wat 40 jaar gelede in Queenswood gestalte gekry het.
Geborgenheid, vrede en menswees is die drie van die waardes waarna Huis Herfsblaar in die Moot strewe.
Riaan Engelbrecht, voorsitter van die Raad van Trustees en self ’n inwoner, glo die drie waardes gee gestalte aan die gees van ware omgee in die aftree-oord wat in Maart sy 40ste verjaarsdag vier.
Die geleentheid sal met ’n piekniek op 2 Maart in die ruim tuin van die aftree-oord deur geliefdes, inwoners en personeel gevier word.
“Hier is jy nie net ’n nommer nie. Dis ’n familie wat regtig vir mekaar omgee,” glo Engelbrecht.

Huis Herfsblaar het ontstaan as die droom van ds. Jan van den Berg en sy eggenoot, Minda, wat die oop stuk grond raakgesien het in Queenswood in die tagtigerjare en ’n tuiste vir diegene in hul goue jare gevisualiseer het.
In die afgelope 40 jaar het die droom van ’n tuiste tot ’n volledige kompleks in verskillende fases gegroei en sluit nou onder meer meenthuise, versorgingskamers, woonstelle en ’n kliniek in sowel as ’n ruim tuin.
Engelbrecht verduidelik die eerste inwoners het al in 1985 ingetrek.
Die argitek Paul du Plessis het destyds wye ervaring gehad van soortgelyke ontwikkelings en hy het ’n waardevolle rol gespeel tydens die beplanningsfase. Destyds was die straatblok nog net halfpad bebou.
Waar Huis Herfsblaar vandag is, was ’n oop stuk grond wat aan die Stadsraad van Pretoria behoort het.
Met die bemiddeling van stadsraadslid Joos Bekker, is die grond vir Huis Herfsblaar bekom.

“Vir ons was dit met al die ontwikkelings belangrik om ons inwoners so lank as moontlik onafhanklik te hou. Dis nie ’n plek om te kom afsluit nie, maar eerder die begin van ’n volgende fase van lewe,” verduidelik hy.
Projekte wat suksesvol uitgebou is om die inwoners saam te bind en fiks en emosioneel gesond te hou, is onder meer die instelling van ’n stewige korps vrywilligers, The Good Mood Club. Lede is by verskeie aktiwiteite betrokke asook ’n stapklub vir die inwoners wat tweeweekliks ’n stewige entjie afsit.
Nog ’n werklik omvattende diens vir inwoners is die geestelike versorging. Die oord sluit in 24 kerkraadswyke met pastorale werkers, ouderlinge en diakens, huisbesoeke, wyksbyeenkomste, weeklikse Bybelstudiegroepe en gebedsgroepe.
Herfsblaar-lidmate lewer liefdesdiens van onskatbare waarde by die NG Kerk Queenswood-gemeente, onder andere as lede van komitees, kerkkoor en funksies soos basaar en markdae.

Bestuurder James Black glo die instelling by aftree-oorde moet wees om “op ’n al hoe jonger manier ouer te word”.
Hy verduidelik dat een van die pluspunte vir Huis Herfsblaar se inwoners is die goed opgeleide personeel.
“Ons het nog altyd personeel kon verwelkom wat hier wil werk en spog met ’n stewige span kundiges op die personeel soos twee maatskaplike werkers. Ons gee baie aandag aan opleiding om te sorg dat personeel op die hoogte is van inwoners se behoeftes, maar ook om die nuutste versorgingsmetodes in werking te stel.”
Vir Black is van die mylpale die afgelope 40 jaar die uitbreiding wat daar in fases aan die geboue en infrastruktuur was, sowel as die modernisering van die oord met nuwe waterretikulasie-metodes en sonkrag.
“Ek is ook trots dat ons met deurlopende onderhoud kon toesien dat ons oord vandag met die beste moderne oorde kan vergelyk. Ons het deur die 40 jaar Huis Herfsblaar mooi en versorg kon hou. Dit maak in baie mense se lewens ’n verskil om in ’n netjiese eetsaal, voorportaal en sitkamers te kan kuier.”
Vir hom is dit ’n kompliment dat hulle na ’n ope dag, waartydens die inwoners as gidse opgetree het, verskeie navrae vir inwoning gekry het.
“Ek dink mens kan dit ook daaraan toeskryf dat vir ons as personeel kom ons nie net werk toe nie, maar kom werk ons in ’n huis waar ons ook tuis voel.”
Die gemiddelde ouderdom van inwoners by Huis Herfsblaar is 87, aansienlik hoër as in die beginjare van die oord toe inwoners op ’n jonger ouderdom hul intrede geneem het.
Daar is egter inwoners soos die ontvangsdame Sarie du Toit wat op 93-jarige ouderdom nog fluks hand bysit met die administratiewe werk en elke oomblik daarvan geniet.

Du Toit, ’n oud-onderwyseres wat aan die Normaalkollege in Pretoria studeer het en ’n gebore-Vrystater is, glo dat die vriendelike gemeensaamheid tussen inwoners bydra om almal tuis te laat voel.
“Ek help met afsprake maak, oproepe neem en boodskappe aangee. Dis belangrik dat daar goeie kommunikasie in ’n aftree-oord is en dis vir my lekker om hiervan seker te maak.”
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie?
Stuur gerus vir ons ‘n epos na bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram en TikTok.
