Garsfontein se hoof word vir oulaas bederf op sy verjaardag
Hoërskool Garsfontein se bestuur en leerlinge het verlede Vrydag met ’n besondere funksie – wat ’n groot verrassing ingesluit het – gesorg dat hul skoolhoof sy laaste verjaardag by die skool, voordat hy later vanjaar aftree, nooit sal vergeet nie.
Dis sekerlik nie vreemd dat personeel en leerlinge van ’n skool saam feesvier as hul hoof verjaar nie.
Die Hoërskool Garsfontein is in hierdie opsig geen uitsondering nie, maar verlede Vrydag was daar ’n paar ekstra kinkels in in die kabel toe dié spogskool hul hoof, Leon Bantjes, se verjaardag met ’n heelwat groter ophef as normaalweg kon vier.
Dié geleentheid was Bantjes, wat op 1 Maart 65 jaar oud geword het, se laaste verjaardag as skoolhoof, aangesien hy aan die einde van die jaar met pensioen aftree.
Om die geleentheid onvergeetlik vir Bantjes en sy vrou, Elsabé, te maak, het die skool se bestuur besluit om vir hulle ’n groot verrassing te reël.
Nadat eregaste vooraf ’n kort funksie by die braai-area op die skool se sportgronde bygewoon het, waar geskenke aan Bantjes uitgedeel is, het die verrigtinge verskuif na die rugbyveld, waar die leerlinge reeds op die paviljoen gewag het.
Terloops, hierdie vooraf funksie het selfs internasionale status gekry toe personeel van die Oscar Romero College in Dendermonde, België, dit ook bygewoon het en ’n geskenk aan Bantjes oorhandig het. Sven van der Linden is tans in Pretoria saam met ’n groep leerlinge van hierdie skool, nadat hulle sedert 2002 ’n verhouding met Hoërskool Garsfontein gebou het en sedertdien ’n program vir uitruilstudente onder mekaar handhaaf.
Die Bantjes egpaar is na die funksie by die braai-area in verskillende spogmotors tot voor die paviljoen aangery, waar voorbereidings vir ’n spesiale geleentheid getref is. Nadat hulle deur die leerlinge verwelkom is, is hulle ingelig dat daar ’n verrassing op pad is, waarna nóg ’n spogmotor sy verskyning op die rugbyveld gemaak het.
Emosionele tonele van oorstelptheid en vreugde het hierna afgespeel toe die Bantjes egpaar se dogter en skoonseun, Chantelle en Shaun Eastman en hul kleinseun, William (6), uit die motor te voorskyn gekom het. Dié gesin woon in Pringlebaai in die Wes-Kaap en is spesiaal deur die skool se bestuur ingevlieg vir die geleentheid – alles onder groot geheimhouding.
Nadat klein William sy grootouers onder luide toejuiging omhels het, het hy saam met die skool se leerlinge vir sy oupa gesing.
Hierna het die skool se hoofseun en -dogter spesiale verjaardag boodskappe gelewer, terwyl leiers uit elke graad ook ’n geleentheid gekry het om hul hoof geluk te wens én te bedank vir die uitnemende wyse waarop hy as leier en mentor vir hulle optree.
Die geleentheid is afgesluit met ’n optrede deur musikante wat almal aan die skool verbonde is.
Bantjes se groot liefde vir sport – en veral rugby – is welbekend. Hy was in sy jonger dae ’n speler en later ook gekwalifiseerde skeidsregter. Dis geen geheim dat hy een van die groot dryfvere was agter Garsfontein se sukses op die rugbyveld sedert hy in 2013 die hoof geword het nie.
In sy toespraak by die begin van die dag se verrigtinge het die voorsitter van die skool se beheerraad, Eben Venter, egter gaste verras toe hy onthul het dat Bantjes ook ’n liefde het vir die skone kunste en dat hy selfs klavier kan speel. Hy was in 1990 en ’91 vir twee jaar lank ’n departementshoof by die Pro Arte kunsskool in Pretoria.
Bantjes, wat aan die Wes-Rand grootgeword het, het by Hoërskool Monument gematrikuleer, waarna hy onderwys aan die Universiteit van Pretoria gestudeer het.
Ná sy dienspligjare het hy ’n draai in die destydse Transvaalse Hoëveld gemaak en eers skoolgehou by Hoërskool Delmas, waarna hy as departementshoof by Hoërskool Sundra aangestel is. Daarna is hy bevorder tot adjunkhoof by Hoërskool Merensky in Tzaneen, voordat hy sy eerste hoofpos in die Noordwes provinsie by Hoërskool Lichtenburg aanvaar het.
Sedert 2013 is hy aan die stuur van sake by Garsfontein, nadat hy die vierde hoof van dié skool geword het.
Onder Bantjes se leiding het die skool uitgestyg en tel nie net op die sportveld nie, maar ook akademies onder die bestes in die land. Trouens, Garsfontein het die trofee as top akademiese skool in die Tshwane Suid- gebied al vyf keer gewen sedert dit in 2016 ingestel is. In 2021 is Garsfontein as die land se beste akademiese skool aangewys.
Die skool se sportprestasies sluit in 16 verskillende Noordvaal kampioenskapstrofeë in spansporte soos rugby, hokkie en krieket.
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie.









