KidsLocal newsNews

Sprokies word lewendig in skoolkonsert

Die gehoor is betower deur bekende sprokies wat met kreatiwiteit, humor en spanwerk tot in die lewe geroep is.

Leerders en onderwysers van Gereformeerde Laerskool Dirk Postma in Pretoria het nuwe lewe in bekende sprokies geblaas in vanjaar se skoolkonsert Sprokie vir ’n Stadskind wat op 31 Julie en 1 Augustus plaasgevind het.

Die verhoog het verander in ’n wonderwêreld van bekende stories, en ouers, familielede en vriende het in hul honderdtalle opgedaag om die kinders te ondersteun.

Elke graad, van graad RRRR tot graad 7, het sy eie unieke tema gekry om uit te beeld.

Graad RRRR het die rolle vertolk van Gouelokkies en die drie Beertjies.

Graad R-seuns as wolwe.

Ander sprokies was onder andere Die drie varkies, Die lelike eendjie en Duimelina.

Elke klas het weke lank geoefen om hul storie op hul eie manier te vertel, met kostuums, grimering en toneelstukke wat spesiaal vir die geleentheid voorberei is.

Die kombinasie van musiek, dans en drama het gesorg dat daar vir elke ouer iets was om na uit te sien.

Daar was ook deurentyd fyn humor in die konsert verweef, veral met die graad 7’s se beurt.

Wat die aand ekstra spesiaal gemaak het, was dat die onderwysers self ook by die vermaak aangesluit het.

Die personeel het hul eie dansitem gehad en, tot groot vermaak van beide leerders en ouers, op die verhoog verskyn.

Skoolhoof Saskia Meijer het na afloop van die konsert gesê wat die konsert so besonders maak is dat elke kind deelneem en elke kind se bydrae vorm deel van ’n groter geheel.

“Elkeen het iets gebring, en saam het dit iets besonders geword.”

Meijer het gesê die skool beoog om jaarliks ’n konsert aan te bied.

Emma le Roux en Abigail Drijfhout

Sy het gesê vanjaar het die leerders, ouers en onderwysers nie teleurgestel nie.

“Dit is ongelooflik hoe die kinders, ouers en onderwysers saamwerk om van die vertonings ’n sukses te maak,” het sy gesê.

Sy het bygevoeg dat die skool dankbaar is teenoor die Here vir die talente wat elkeen ontvang het, en dat dit juis hierdie gawes is wat aande soos hierdie moontlik maak.

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? 

Stuur gerus vir ons ‘n epos na  bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord

Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram en TikTok en WhatsApp Channel

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Back to top button