News

Inwoners van Akasia-buurte voel hulle is onder beleg

Twee buurte in die Akasia-distrik voel dat al hul versoeke rondom krag, water en misdaadbekamping deurlopend en al vir jare op dowe ore val.

Inwoners van Akasia-streek se Winternest en Amandasig-buurte is moedeloos met die misdaad, vandalisme en gebrek aan optrede deur die metro en raadslede in hul area.

Klagtes wissel van waterlekke wat vanaf 2022 reeds deurlopend aangemeld word tot klagtes oor gevandaliseerde kragsubstasies sowel as ’n styging in misdaad.

Onlangse statistiek wat deur die Minister van Polisie Senzo Mchunu vrygestel is, wys in Akasia-polisiedistrik is ernstige misdade soos ontvoering, kontakmisdaad, aanranding, rooftogte met verswarende omstandighede, motordiefstal en kwaadwillige beskadiging van eiendom aangemeld.

Gemeenskapslede in Kremetartstraat het aan Rekord gesê dat hulle dikwels vir weke sonder krag moet gaan.

Die rede is dat die kragkas wat hul straat bedien as die kragtoevoerlyn na die informele nedersetting aan die noordelike kant van die straat vir onwettige aansluitings gebruik word.

“Die kragkas is al so gevandaliseer en selfs uitgebrand, dat dit telkemale self afskakel as gevolg van oorlading. Aangesien ons nie meer kan wag vir die metro om dit aan te skakel nie, waag ons ons lewens om dit self te gaan aanskakel.”

Op 26 Februarie het die metro uiteindelik na ’n week se kragonderbreking in die straat met ’n nuwe kragkas opgedaag, net om weer te vertrek aangesien die gevandaliseerde kragkas vol bye was.

Die metro-personeel het aan inwoners verduidelik dat hulle nie onder sulke omstandighede mag werk nie en die kragkas kan vervang nie.

“Wie weet wanneer ons hulle nou weer gaan sien?” vra ’n moedelose inwoner. Hy was ten tye van die metro se aankoms met die nuwe kragkas al sewe dae sonder krag. “My hoop het opgevlam.”

Brandkrane se koppe is oopgekap en water wat daaruit spuit, word aan inwoners van ‘n informele nedersetting verkoop.
Radelose inwoners se lemmetjiesdraadheining om skeiding tussen hul eiendomme en ‘n informele nedersetting in Kremetartstraat te skep.

Maar kragonderbrekings is slegs ’n gedeelte van hierdie gemeenskap onder beleg se probleme.

Kremetartstraat-inwoners het nou ’n fonds gestig om R200 000 se 2.5m hoë lemmetjiesdraadheining aan die noordelike kant tussen die wonings in Kremetartstraat en die informele nedersetting op te rig.

Hulle hoop om hiermee die toenemende misdaad in die onmiddellike omgewing te bekamp.

Klagtes oor die informele nedersetting op grond wat aan Transnet behoort, word al sewe jaar lank aan die metro en raadslede gerig.

Inwoners is moedeloos aangesien niemand klaarblyklik hul saak op die hart dra nie.

’n Inwoner naaste aan die nedersetting het uit sy eie sak ’n hek met ’n pallisadeheining opgerig om toegang tot die straat vanuit die nedersetting per pad te beperk.

Volgens inwoners is ’n huiseienaar in die afgelope maand in die straat aangeval terwyl hy gestap het. Swartvullistrollies word ook gesteel wanneer hulle uitgesit word op vullisdae en water word uit brandkrane getap en verkoop.

Hulle sê daar was die afgelope maand in die straat en onmiddellike omgewing meer as drie rooftogte waartydens privaat sekuriteitsmaatskappye moes optree omdat die polisie as gevolg van gebrek aan bronne nie kon uitkom nie.

Ten spyte van talle voorkomende maatreëls deur inwoners, soos die organisering van straatgroepe om die probleme aan te spreek, eie veiligheidsmaatreëls ten duurste en deur polisiëringsforums te betrek, voel inwoners die lewe in Kremetartstraat raak “nou ’n bloedbad”.

Binne ‘n radius van minder as 10km, voel die inwoners van twee buurte in die Akasia-distrik asof hulle onder beleg is en sê die owerhede en metro sowel as raadslede wil hulle nie help nie.

In die onmiddellike omgewing van die straat is talle huise op die mark en staan daar ook huise leeg wat nie verhuur kan word nie.

Van Amandasig se ander strate teen die berg is ook reeds deur veiligheidshefbome beveilig wat toegang tot die strate beheer.

Inwoners meer na Winternest se kant, dra weer swaar aan drie waterlekke.

Hierdie lekke is aan die metro sowel as aan raadslede en politici rapporteer sonder enige sukses.

Inwoners is ontsteld omdat die metro onlangs met die verskerping in waterbeperkings gedreig het, maar nie self verhoed dat water deur waterlekke in munisipale pype verlore gaan nie.

“Hoe maak dit sin? Spaar, spaar water maar ons pype lek duisende liters sonder dat ons dit regmaak!” sê ’n ontstelde inwoner.

’n Inwoner wat al 33-jaar in die omgewing woon, vertel dat hy al sedert Mei 2022 oor veral twee waterlekke in die omgewing by raadslede kla sowel as die nodig rapportering daaroor aan die metro doen.

Die klagtes sluit in ’n waterlek uit ’n pyp van die metro naby die westelike ingangshek van Charlton Vos College of Education. ’n Tweede lek wat “borrel soos ’n fontein” in Johnstraat is ook aangemeld sowel as ’n lek wat lei tot ’n voortdurende stroom water in ’n stormwatersloot naby Mabopaneweg in die N4-omgewing.

“Jy kan jou nou voorstel oor die jare hoeveel duisende liter water daar verlore gegaan het,” bevestig die inwoner. “Ons het nou al ons hande in die lug gegooi. Sedert Mei 2022 het niemand nog ooit opgetree nie al stuur ons klagtes en foto’s sowel as video’s aan raadslede en die metro,” vertel hy.

Inwoners wys daarop dat as gevolg van die strome vanaf die lekke, breek die teer in strate in die omgewing tans op. So verbrokkel paaie in hul volledigheid en slaggate word groter en groter.

“In hierdie stadium moet ons aan die skouers van strate ry om die slaggate te vermy wat deur die lek se water veroorsaak word,” vertel ’n inwoner. “Die busse wat hierlangs skool toe gaan, vererger ook die reeds al hoe dieperwordende slaggate.”

Raadslid Sipho Mtakati wat vir Winternest verantwoordelik is, het aan Rekord gesê dat sy gereeld in haar kantoor by die metro se streekskantoor is om waterlekke wat rapporteer is, uit te lig aan die onderhoudspan. Hierdie lekke lei ook tot lae waterdruk in die area waaroor daar talle klagtes is.

Sy het na die aanmelding van ouer waterlekke verwys. Mtakati glo dat daar ondersoek ingestel moet word oor hoekom daar geen aandag daaraan gegee is nie. “Die aantal aanmeldings oor lekke akkumuleer egter elke dag en ouer lekke sal asseblief weer aangemeld moet word,” sê Mtakati.

Metro-woordvoerder Lindela Mashigo verduidelik dat die waterlek by die skool se ingang in ’n 400mm asbessementpyp is en die nodige materiaal om die lekkasie reg te maak was vir ’n wyle nie beskikbaar nie.

“Die materiaal is nie geredelik by verskaffers beskikbaar nie en moet vir die spesifieke area aangepas word. Die materiaal is reeds by die verskaffer bestel aangesien dit onder nie-voorraad items van die metro se winkels val. Dit het gelei tot vertragings om die lekkasie reg te stel, maar dit sal reggemaak word sodra die materiaal afgelewer is.”

Vrae oor Kremetartstraat is aan Raadslid Petrus Malope gerig, maar geen antwoord is ten tye van publikasie ontvang nie.

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? 

Stuur gerus vir ons ‘n epos na  bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord

Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram en TikTok.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Back to top button