News

Teenboelieveldtog rus Centurion-leerders toe

'n Veldtog het onlangs Centurion-leerders gewys hoe liefde en vriendelikheid 'n impak op hul lewe by die skool kan maak.

AfriForum se teenboelieveldtogspan het op 6 Maart by die Centurion Christelike Laerskool besoek afgelê en 76 leerders oor afknouery in skole toegespreek.

Die teenboelieveldtog het ten doel om leerders bewus te maak van boeliegedrag, die gevolge daarvan en hoe om boelies te hanteer.

Tania Scheepers, AfriForum se koördineerder vir Onderwys in die noordstreek, verduidelik dat leerders geleer is om kalm en selfversekerd teenoor boelies op te tree, om nie emosioneel te reageer nie en om die nodige ondersteuning by vriende en volwassenes te kry.

Scheepers is ook aanbieder van die teenboeliepraatjies.

“Hierdie faktore kan die mag van die boelies verminder. Om boeliegedrag aan te meld en ander te help wat geboelie word, skep ’n gemeenskap waar afknouery nie geduld word nie. Boonop kan dit ’n sterk boodskap stuur om ’n boelie eerder met Jesus se liefde te hanteer en iets mooi of bemoedigend vir hom te sê, want vriendelikheid en vergifnis het die krag om harte te verander,” verduidelik Scheepers.

‘n Graad 2-leerder van Centurion Christelike Laerskool saam met gelukbringer Matteus.

Sy glo dit is belangrik dat leerders die teenboeliepraatjie bywoon omdat hulle dit kan gebruik om boeliegedrag hok te slaan.

“Veilige skole sorg ook vir ’n veilige gemeenskap, nie net nou nie maar ook in die toekoms,” glo Scheepers.

Sy wys daarop dat na afloop van die praatjie weet elke leerder hoe om boeliegedrag te identifiseer en hoe om dit stop te sit.

“Dit is van kardinale belang om leerders op ’n jong ouderdom met die vaardighede toe te rus om gevare in die toekoms te voorkom,” sê Scheepers.

– Laai AfriForum se gratis teenboeliegids af: https://url.za.m.mimecastprotect.com/s/JrsrCJZX2pT4m45MTVf2Uy0mbG?domain=afriforum.co.za

– Besoek www.teenboelie.co.za vir meer inligting oor AfriForum se teenboelieveldtog.

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? 

Stuur gerus vir ons ‘n epos na  bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord

Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram en TikTok.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Back to top button