Graad 3-leerling en sy ma sterf tragies na Pretoria motorongeluk
'n Graad 3-leerling, Karlu van Aswegen en sy ma, Karin het die afgelope week tragies gesterf in 'n motorongeluk in Pretoria.
Karlu van Aswegen, ‘n leerder in Graad 3 by Laerskool Magalieskruin in Pretoria en sy ma, Karin is die afgelope week na ‘n motorongeluk oorlede.
Volgens dié skool is klein Karlu Maandagaand oorlede terwyl sy ma, Karin, Dinsdagaand in die hospitaal beswyk het aan beserings wat sy in dieselfde ongeluk opgedoen het.
Laerskool Magalieskruin het die afsterwe van Karlu en Karin op sosiale media bekend gemaak.
Dinsdag het die skool ‘n oomblik van stilte inaggename tydens ‘n rugbywedstryd gehad.
Daar is vir Jurie en Junique, dié gesin se pa en dogter, wat ook in die ongeluk betrokke was, gevra om in gebed opgedra te word.
“Met innige simpatie. Vandag is dit ‘n baie swaar en hartseer dag vir ons Gallie-gemeenskap. Dit is met groot hartseer en verwondering dat ons moet meedeel dat een van ons Gallies, Karlu van Aswegen in Graad 3, gisteraand in ‘n ernstige motorongeluk oorlede is. Karlu was ‘n pragtige seun met die mooiste hart, en ons harte is gebroke. Ons dra sy ouers, Jurie en Karin, sy sussie, familie en vriende in ons gebede in hierdie moeilike tyd.”

“Vanoggend moet ons weer met hartseer ons Gallie-gemeenskap inlig. Karlu se mamma, Karin, is ook gisteraand oorlede. Ons harte gaan uit aan pappa Jurie en sussie Junique, die Van Aswegen- en Prinsloo-families, asook vriende. Julle is in ons gebede in hierdie ongelooflike moeilike tyd. Karin was welbekend in Gallieland, altyd met ‘n vriendelike groet en glimlag op haar gesig. Dankie vir die verskil wat jy gemaak het. Rus in vrede.”

Lees ook: Tshwane worstel met hoë vakatuurkoers in sleuteldepartemente tydens uitdagings met dienslewering
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie?
Stuur gerus vir ons ‘n epos na bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram en TikTok.
