News

Tshwane worstel met hoë vakatuurkoers in sleuteldepartemente tydens uitdagings met dienslewering

Die Munisipale Komitee vir Openbare Rekeninge beplan om aan die stadsbestuurder te skryf en ’n inligtingsessie te versoek oor die plan om die vakatures te vul om te verseker dat Tshwane-inwoners kwaliteit dienslewering ontvang.

Die Tshwane metro sukkel om kritieke vakatures in sleuteldepartemente te vul, met hoë vakaturesyfers wat hul vermoë om noodsaaklike dienste te lewer, beïnvloed.

Die Departement van Water en Sanitasie staan tans op ’n vakaturekoers van 49.73%, terwyl 35.87% van die posisies by die Energie en Elektrisiteitsdepartement nog nie gevul is nie.

Omgewings- en Landboubestuur sit op 29.67%, en die Finansiële Dienste Groep op 23%.

Hiedie syfers is onthul tydens die Munisipale Komitee vir Openbare Rekeninge (MPAC) werkswinkel, waar die komitee bymekaar gekom het om oplossings vir die metro se deurlopende oudit-uitdagings en diensleweringsprobleme te bespreek.

MPAC-voorsitter Godwin Ratikwane sê die komitee sal aan die stadsbestuurder skryf en ’n inligtingsessie versoek oor die plan om die vakatures te vul. Dit sal verseker dat kwaliteit dienste aan die inwoners van Tshwane gelewer word.

Godwin Ratikwane, voorsitter van die Munisipale Komitee vir Openbare Rekeninge. Foto: Verskaf

Die metro het omtrent 745 kritieke diensleweringsposte geadverteer in ’n poging om die vakatures aan te spreek.

Ratikwane sê die proses om hierdie vakante poste te vul, is reeds aan die gang, met ’n fokus op noodsaaklike tegniese poste soos loodgieters en elektrisiëns.

Die MPAC het ook met amptenare van die kantoor van die Speaker, die Suid-Afrikaanse Plaaslike Regeringsvereniging (SALGA) en die Ouditeur-Generaal van Suid-Afrika (AGSA) vergader om die bevindinge van die 2023/24 jaarlikse verslag noukeurig te ondersoek.

“Hierdie oefening het ten doel om te verseker dat al die relevante Seksie 79-komitees en belanghebbendes weet wat van hul verwag word en dat die werk in hul toesighoudende rolle moet voortgaan,” sê Ratikwane.

Hy benadruk die belangrikheid om aan die ouditbevindinge aandag te gee. Hy voeg by dat die MPAC sal alles in hul vermoë doen om ’n veel beter oudit-uitslag vir die 2024/25 finansiële jaar te verseker.

Ratikwane sê die herhalende ouditbevindinge en kontrak-wanbestuur wat die hoofbydraers tot die huidige gekwalifiseerde ouditbevindings is, sal ernstige aandag geniet om te verseker dat dit deeglik ondersoek word en dat die metro na ’n beter finansiële toestand streef.

“Dit is kommerwekkend dat ten spyte van verbetering in sekere areas, sommige bevindings herhaal word.”

Hy sê Tshwane moet saam met AGSA, die Departement van Koöperatiewe Bestuur en Tradisionele Sake, Salga, die Nasionale Tesourie en enige ander wetgewende liggame werk om die ouditbevindinge te verbeter en dienste aan die inwoners van Tshwane lewer.

“Ondersoeke sal gedoen word sonder vrees of guns, en die komitee sal met volle deursigtigheid almal verantwoordbaar hou, beginnende by die uitvoerende gesag.”

Mashigo sê die metro het ook die Omsendbrief 113-platform geskep om alle ouditbevindinge aan te spreek, insluitend dié wat meer as een keer voorgekom het.

“Die platform vergader elke week om die vordering van die aksies wat deur die bestuur geneem word, te hersien.”

Die Omsendbrief 113-proses word deur die Nasionale Tesourieportaal bestuur en sluit verskeie belanghebbendes in.

“Die interne ouditeurs kyk ook na die aksieplanne en die geskiktheid daarvan. Die stad fokus nou ook op die hoofoorsake van die bevindinge om te verseker dat dit by grondoorsaakvlak nie weer herhaal word nie.”

Hy sê die sleuteluitkoms van die werkswinkel was dat spanne benodig word wat hul toewy aan al die gekwalifiseerde areas in die ouditverslag.

“Ses ouditstroomspanne is opgestel om die gekwalifiseerde areas aan te spreek. Elke ouditstroom is opdrag gegee om spesifieke aksies aan te pak wat geneem sal word om die ouditbevindinge en tydslyne te takel.

“Daar is by die werkswinkel besluit dat alle bevindinge teen 31 Maart aangespreek moet word, en dat prosesse verander moet word om die bevindinge aan te spreek.”

Mashigo sê dat hierdie ouditstrome elke week vergader om die vordering rakende die bevindinge te meet.

“’n Mate van betrokkenheid word ook ervaar met die werk wat deur al die ouditstrome op alle vlakke in die stad verrig sal word, aangesien die werkswinkel deur die stad se senior bestuur, insluitend die adjunk-burgemeester, bygewoon is.

“Die metro het ook aan die Ouditeur-Generaal geskryf om ’n tussentydse oudit te doen.”

Die tussentydse oudit sal, onder andere, na die gekwaliseerde areas kyk om vas te stel of die werk wat deur die bestuur verrig is wèl voldoende is om die ouditbevindinge en gekwalifiseerde areas aan te spreek.

Die stad versoek dat die Ouditeur-Generaal die oudit in April begin sodat daar genoeg tyd is om enige areas wat dalk nog onvoldoende is reg te stel.

Verder sal die stad sy half-jaarlikse finansiële verslag op 31 Desember doen, die derde kwartaalverslag op 31 Maart en die finale afsluitingsverslag op 31 Mei om validering van die informasie in die grootboek te verseker.

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? 

Stuur gerus vir ons ‘n epos na  bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord

Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram en TikTok.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Back to top button