News

Strauss se sinkhuisstories laat jou welkom en tuis voel

'n Unieke kookboek geïnspireer deur 'n huis op Cullinan, is nou op die rak met meer as 100 resepte wat in die huis hul oorsprong gehad het.

Die bekendstelling van omroeper, skrywer, akteur en sanger Willie Strauss se tweede kookboek op 13 Maart in die Centurion-teater was ’n fees.

Dit het eetgoed uit die boek, liedjies uit Strauss en sy begeleier Henri-John Williams se penne en pittighede van aktrise Lizz Meiring ingesluit.

En natuurlik het die tafel gekreun met kosgoed so reg uit die boek: Vyfbeker se brandewyntertjies, Rice Crispieblokkies en tunarol.

Sinkhuisresepte uitgegee deur LAPA-uitgewers is ’n versameling van meer as 100 resepte deurvleg met stories vol nostalgie uit Strauss se grootwordjare op ’n skaapplaas, Vyfbeker in die Kenhardt-distrik.

Willie Strauss op die verhoog Foto: Elize Parker

Dit is veral sy verdeling van die boek wat dadelik opval. Hy verdeel die resepte in vertrekke van die sinkhuis waarna die boek vernoem is. So kry jy voorhekresepte soos botterskorsie-en spektertjies en voordeurresepte soos aspersiesop en Elizabet se lensiesop.

“Die sinkhuis is een van Cullinan se oorspronklike huise toe mense nog hierheen gestroom het met drome oor geld en glorie. Dit is steeds my huis van drome en my droomhuis,” vertel Strauss wat in die huis woon en ook ’n restaurant en winkel vol van sy eie produkte daarvandaan bedryf.

Strauss het tydens die bekendstelling saam met modelle van die modehuis, Boerboel, ’n vye-en-biltong paella gekook as inleiding tot die aand.

Die boek is juis besonders oor die aantal vye-resepte wat daarin aangegee word: Vyevierkantjies, gebakte peuselvye en gebakte springbokblad met sjerrie en vye.

“Elke resep voer my hart terug na Vyfbeker en die vye wat ek daar vir my ma kon pluk,” vertel Strauss.

Sy eerste resepteboek, Daar is ’n engel in my koskas, het Strauss ook vernuftig in afdelings opgedeel soos “Engel, moenie in my slaai kom krap nie” en “Eet tog net jou groente, my Engelkind”.

Strauss het gedurende sy koskabaret verwys na sy eerste ervaring op ’n tuisgemaakte verhoog en gevat vertel van sy gesin se reaksie op sy eerste konsert toe hy maats opkommandeer het om sy handtekening te kom vra.

“Ek was maar van kleintyd ’n performer danksy die draadloos in die huis,” vertel hy.

Hy het tussendeur die lees van anekdotes uit die boek, sielvol van sy eie liedjies soos “Hei, slaap jy?” sowel as liedjies geskryf deur begeleier Henri-John Williams soos “Sê my wie” gesing.

Begeleier Henri-John Williams en geliefde aktrise Lizz Meiring. Foto: Elize Parker

Die bekendstelling is deur aktrise Lizz Meiring afgeskop wat vertel het van haar jarelange vriendskap met Strauss.

“Hy kan van die alledaagse iets asemrowends maak,” glo Meiring.

Sy het vertel van ure wat sy al omgekuier het in die sinkhuis.

“Die huis het vir my so ’n visuele bekoring. Dis ’n ervaring meer as ’n huis, en dit sonder ’n af-show-kombuis. Dis soos als wat Willie aanpak: Van die middelmatige maak hy iets magies.”

Strauss het gaste verras deur verskeie van die produkte uit sy sinkhuis-winkel soos tafeldoeke en gehekelde lappe as geskenke uit te deel en elke gas is ook huis toe met ’n bottel konfyt en van Strauss se sopmengsel.

“Konfytkook is my stokperdjie,” vertel hy. “In tuisgemaakte konfyt kan jy ’n engelhand proe.”

Katinka Botha en Adele Cillie. Foto: Elize Parker
Elsa Briers en Neilwe Mashigo. Foto: Elize Parker

Hy gee dan ook talle van sy konfytgeheime weg in sy nuwe resepteboek met resepte vir makataanstukke, moerbeikonfyt en sitrusmarmelade.

Strauss het al sy “susters” wat hy so oor die jare mee pret gemaak het rondom resepte, kos en die vermaaklikheidswêreld soos die bekende omroeper Amoré Bekker, by die boekbekendstelling verwelkom. Hy het gereelde kospraatjies op RSG saam met haar gedoen.

Met hom kom daar altyd ook sy liefde vir diere ter sprake en die kookboek sluit ook ’n ode of twee aan sy dierekinders in die sinkhuis in soos kort gedigte aan Bles, Bella en Rocky.

Daar is ook resepte vir diere se snoepgoed soos tunakoekies vir katte en kiep-kiep balletjies vir honde.

Maar die laaste woord behoort beslis aan die unieke resepte van hierdie verbeeldingryke kok soos die sinkhuis-lasagne, beet-en-heuningkoek, pampoenskilbredie en spekboomkoek.

Waarlik resepte wat jou laat tuiskom.

– Kliek hier om ’n blik op die kookgedeelte van die koskabaret te kry:

 

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? 

Stuur gerus vir ons ‘n epos na  bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord

Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram en TikTok.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
Stay in the know. Download the Caxton Local News Network App here.
Back to top button