News

’n Nuwe benadering tot werkloosheid slaag

Die leiers van Jakob se Put kyk anders na werksoekers deur hulle as soekers “tussen betrekkings” te benader.

’n Groep toegewyde werkers van die Jakob se Put-bediening by Moreleta Kerk in Pretoria-oos volg ’n unieke en hoopvolle benadering om die werkloosheidsprobleem in Suid-Afrika aan te spreek.

Die bediening het in die middel van verlede jaar ontstaan uit die Wingmen-mannebediening van Moreleta Kerk, met die doel om werksoekers, of soos hulle dit noem, mense wat “tussen betrekkings” is, ’n platform te bied om mekaar weekliks te ondersteun.

Elke Woensdagoggend kom die groep bymekaar, waar lede gratis hul besonderhede kan deel en deel word van Jakob se Put se aktiewe uitreikaksies om werk te vind.

Volgens die mees onlangse Kwartaallikse Arbeidsmagopname (vierde kwartaal 2024) staan Suid-Afrika se werkloosheidskoers op 31.9%, met tydverwante onderindiensneming oftewel mense wat nie genoeg ure werk nie op 4.6%.

Maar ondanks hierdie kommerwekkende statistieke, bly Jakob se Put se bestuur vasberade en vol hoop.

Johan Botha, ’n voormalige menslikehulpbronbestuurder met jare se ondervinding, bied nou as afgetredene sy kundigheid gratis aan om werksoekers tussen betrekkings by te staan.

Volgens Botha verkies die bediening om van “tussen betrekkings” te praat eerder as “werkloos”, omdat hulle glo dat mense nie op hul laaste kans is nie, maar eerder op pad na hul volgende geleentheid is.

Met hierdie benadering het die groep in slegs ses maande al 18 van hul 35 geregistreerde lede gehelp om weer werk te kry.

Botha verduidelik: “Die doel van Jakob se Put is om mense wat werklik wil werk, te ontmoet, hulle positief te ondersteun, leiding te gee en dan vakante poste regoor die land op te spoor wat dalk kan stroomlyn met hul ervaring. Hierdie poste word via WhatsApp aan die groep versprei. Ons soek nie werk namens mense nie, maar ons fasiliteer die proses sodat hulle self verantwoordelikheid kan neem wanneer iets opduik.”

Hy beklemtoon ook dat verhoudingsbou en voortdurende ondersteuning ’n sleutelrol speel.

“Ek moedig mense aan om gereeld die byeenkomste by te woon. Só bou ons ’n verhouding en kan ons hulle beter ondersteun.”

Wanneer iemand vir die eerste keer die groep besoek, word hul naam en kontakbesonderhede op Jakob se Put se WhatsApp-groep geplaas. Die bestuurspan monitor daagliks poste en deel geskikte geleenthede met lede.

Dries Reynecke, een van die leiers en uitvoerende bestuurder van ’n groot maatskappy in die landbousektor, deel ook elke Woensdag sy insigte en kennis met die groep.

Reynecke verduidelik: “Jakob se Put het as deel van die Kerk Sonder Mure-bediening ontstaan. Die model en opleiding wat ons ontwikkel het, word reeds gedeel met ander bedieninge, soos Wingmen, om ’n breër impak in die gemeenskap te maak.”

Hy nooi enigiemand wat tans tussen betrekkinge is, uit om elke Woensdag om 07:30 saam met die groep by Moreleta Kerk se kampus bymekaar te kom.

Byeenkomste bied nie net praktiese wenke soos hoe om voor te berei vir onderhoude nie, maar ook morele ondersteuning en gebed.

Volgens Reynecke was daar in een week in Februarie tussen 60 en 80 poste beskikbaar op hul databasis, en in ander weke selfs meer as 150 poste.

“Ons netwerk bestaan uit meer as 15 000 werkgewers wat vakante poste aan ons stuur. Daarom is dit belangrik dat mense die byeenkomste bywoon, persoonlik deel wat hulle soek, sodat ons hulle reg kan rig.”

Hy verduidelik hy begin reeds voor 07:00 om deur dosyne e-posse te werk, sodat hy vroeg die regte poste aan die groep kan stuur.

Reynecke, wat ook ’n voormalige duikinstrukteur is, gebruik ’n treffende metafoor om hul rol te verduidelik: “Ons is soos ’n duikmaat in die water. As jy onder sukkel om asem te kry, is ons daar om te sê: ‘Dis okay, pel. Ek is hier. Jy is nie alleen nie.’ Dit is presies wat ons met Jakob se Put wil doen: ondersteun, bemoedig en hoop gee aan dié wat tussen betrekkings is.”

Kontak Dries Reynecke by 082 450 6196 of Moreleta Kerk by 012 997 8000 vir meer inligting.

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? 

Stuur gerus vir ons ‘n epos na  bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord

Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram en TikTok.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Back to top button