Versorgers bring hoop in kwesbares se lewens
Die grootste groep versorgers nog het vir 'n kursus by 'n instelling in Pretoria-oos geregistreer om bejaardes, kinders en mense met gestremdhede te versorg.

Die Solidariteit Helpende Hand Opleidingsinstituut in Garsfontein het ’n nuwe mylpaal bereik met 44 versorgingstudente wat vanjaar die eed afgelê het om die lig in kwesbare mense se lewens soos bejaardes en mense met gestremdhede te wees.
Die toekomstige versorgers het vroeg in Maart tydens die Lig van Versorging-seremonie by die instituut se kampus in die ooste van Pretoria belowe om ligdraers in hul gemeenskappe te wees.
“Hulle taak is om hoop, deernis en liefde te bring waar hulle geplaas word om dié te versorg wat dit nie self kan doen nie,” sê Phillip Bruwer, woordvoerder van Helpende Hand.
Tydens die seremonie het elke student ’n wit kers ontvang as ’n eenvoudige, maar betekenisvolle simbool.
“Die kers verteenwoordig lig. Dit herinner die studente aan hul roeping om hierdie lig te weerspieël deur liefdevolle en toegewyde versorging,” het dr. Elsha Hermann, hoof van navorsing en opleiding by Helpende Hand, by die geleentheid gesê.
“Die vlam wat van een kers na ’n ander oorgedra is, het die oordra van kennis, vaardighede en empatie gesimboliseer. Dit beklemtoon ook die eenheid en verbondenheid onder die studente – ’n belofte om mekaar by te staan en te ondersteun deur die uitdagings van hul opleiding en latere beroep.”
Die studente het tydens die seremonie ’n plegtige belofte afgelê om liefde en lig in hul werk te weerspieël.
Hermann het die studente herinner aan die verantwoordelikheid wat met hierdie roeping gepaardgaan.
“Die vlam wat jy ontvang, moet versigtig opgepas word, want versorging is nie net ’n taak nie – dit is ’n kuns wat geduld, sorg en aandag verg. Deur hierdie lig te laat skyn, verander julle lewens en bring julle hoop waar daar wanhoop is.”
Sy het ook beklemtoon dat die kerse wat hulle aangesteek het, net die begin van ’n groter reis is.
“Die lig wat julle aansteek, het die potensiaal om sterker te word namate julle kennis en vaardighede groei. Aan die einde van hierdie opleiding sal julle nie net ’n kers dra nie, maar ’n lamp – ’n simbool van die volle krag en potensiaal wat julle as versorgers besit.”
Sowat 140 versorgers is al opgelei sedert die versorgingskursus in 2021 van stapel gestuur is.
Die ses maande lange geakkrediteerde kursus bied ’n kombinasie van teoretiese en praktiese opleiding.
Aansoeke vir die volgende kursus in 2026 is reeds oop. Daar word ook kortkursusse soos noodhulp en inleiding tot palliatiewe sorg vanjaar daar aangebied.
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie?
Stuur gerus vir ons ‘n epos na bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram en TikTok.