News

Metro gaan adviseur aanstel om kragstasies te heraktiveer

Die metro wil die twee kragstasies in die mark beskikbaar stel vir langtermyn-huurkontrakte om hul potensiaal te ontsluit en die stad energie-veilig te maak.

Ten spyte van onlangse bewerings dat daar geen vordering is nie, druk die Tshwane metro deur met planne om twee van sy kragstasies te heraktiveer.

Die metro sal ’n Transaksionele Adviseur (TA) aanstel om bystand te lewer met die opstel van ’n volledige en grondige voorstelversoek om onafhanklike kragvervaardigers te kry wat die stad se twee kragstasies weer aan die gang te kry.

Die metro wil die volle potensiaal van hierdie kragstasies, gewaardeer op meer as R360-miljoen, ontsluit en ook seker maak dat die stad ’n betroubare energieverskaffingsbron het.

Met die oog op hierdie doel, sal Tshwane se Ekonomiese Ontwikkelingsagentskap die aanstelling van ’n TA reël om ’n volledige voorstelversoek te ontwikkel.

Volgens die metro, sal die aansoek onafhanklike kragproduseerders werf vir voorstelle met die heraktivering en bedryf van die Rooiwal- en Pretoria-Wes- kragstasies.

Metro-woordvoerder Lindela Mashigo beklemtoon dat die aanstelling van die adviseur ’n kritieke stap daarin is om energie-sekuriteit vir die stad te verkry.

“Die TA sal die voorstel opstel en uitreik, wat ons in staat sal stel om die bes moontlike aanbod van die onafhanklike kragverskaffers te verkry,” verduidelik Mashigo.

Hy sê die metro verwag om die adviseur teen die einde van September aan te stel en om die versoek teen die einde van Maart 2026 uit te reik.

Die onafhanklike kragprodusent(e) sal teen die einde van Junie 2026 aangestel word.

Mashigo ontken bewerings dat die stad die planne vertraag het, met verwysing na die behoefte om befondsing te verkry en om medefinansierinsgeleenthede te ondersoek met organisasies soos die Gauteng-Infrastruktuur Befondsingsagentskap (GIFA) en die Regering se Tegniese Adviessentrum (GTAC) by die Nasionale Tesourie.

Tshwane se stadsraad het in Januarie 2024 dit goedgekeur dat die eiendomme waar die twee kragstasies op staan in die mark beskikbaar gestel word vir langtermyn huurkontrakte.

Die DA in Tshwane het onlangs die nuwe koalisie daarvan beskuldig dat dit die planne vertraag om die twee kragstasies te heraktiveer, deur te beweer dat Tshwane se kragstasie-planne onder ANC-beheer vertraag word.

Mashigo sê dat Tshwane se Agentskap vir Ekonomiese Ontwikelling (TEDA) die adviseur teen September sal aanstel.

“Ons verwag dat die adviseur die voorstel sal opstel en uitreik, om voorstelle te werf vanaf onafhanklike kragprodusente om krag by kragstasies op te wek teen die einde van Maart 2026,” sê Mashigo.

Daar word verwag dat die Rooiwal- en Pretoria-Wes-kragstasies en ander energiebronne ongeveer 1 000MW se alternatiewe energie sal verskaf om die ekonomie te verbeter, sowel as om kragonderbrekings en Eskom-afhanklikheid te verminder.

Mashigo sê die uitdruklike instruksie aan TEDA is om die adviseur-verkrygingsproses op die mees koste-effektiewe manier te behartig.

“In daardie verband, het TEDA en die stad se Energietaakspan met GIFA en GTAC by die Nasionale Tesourie geskakel om seker te maak dat hierdie prosesse koste-effektief is en om medefinansieringsgeleenthede te ondersoek wat verband hou met die werf van die TA-dienste.

“Hierdie ooreenkomste is aan die gang en het reeds ’n medefinansieringsreëling met GIFA opgelewer oor TA-dienste met betrekking tot die Pretoria-Wes-kragstasie,” sê Mashigo.

Hy sê daar was ook ’n verandering in die politieke administrasie gedurende September/Oktober 2024 en as deel van die normale oorgangsprosedures en oorhandiging moes die nuwe administrasie eers ingelig word oor die werk van die Energietaakspan en die stad in verband met die kragstasies en hul heraktivering.

Mashigo sê dat die heraktivering van die kragstasies ’n strategiese sleutelprioriteit vir die burgemeester is en dat die projek sodoende gefinansier word.

Die kragstasies lewer al vir ’n ruk nie maksimum-verrigting nie as gevolg van verskeie redes, insluitend onderbelegging in infrastruktuur.

Al is die kragstasies in Tshwane se besit, wat jaarliks R300-miljoen spandeer op hul instandhouding en sekuriteit, word dit deur Eskom bestuur.

Die steenkool-aangedrewe Pretoria-Wes-kragstasie, wat in 1952 gebou is, is vanaf 2012 nie in werking nie, ten spyte van die feit dat dit die metro elke jaar miljoene uit die sak jaag. Energiekenners is krities oor die struktuur, tegnologie en omgewingsimpak van die kragstasie.

Die Rooiwal-kragstasie.

Tshwane DA se koukusleier, Cilliers Brink, sê dit lyk asof die planne om die kragstasies te restoreer vertraag is sedert sy party verwyder is.

“’n Jaar terug het die stadsraad ooreengekom dat huurkontrakte vir die Rooiwal- en Pretoria-Wes-kragstasies aan onafhanklike kragprodusente uitgereik sou word as ’n eerste stap om hul opwekkingskapasiteit te ontsluit tot voordeel van die stad.”

Brink sê dat die kragstasies al vir jare in ongebruik is. “Ons het beplan om privaat sektor-belegging en -kundigheid te benut om die kragstasies weer aan die gang te kry. Dit sou Tshwane se afhanklikheid van Eskom verminder en die gevolge van beurtkrag versag.

“Selfs al sou Eskom ’n einde bring aan beurtkrag, het die Suid-Afrikaanse ekonomie ’n groter elektrisiteitsvoorraad nodig om ekonomiese groei te verseker. Hierdie kragstasie het aan die stad ’n beduidende mededingende voordeel daarin verskaf.”

Brink sê na die verloop van die Tshwane Energieberaad van verlede jaar, was die volgende stap vir die stad om ’n TA aan te stel om ’n voorstelversoek op te stel.

“Met so ’n voorstelversoek kan die stad die bes moontlike aanbod in die mark verkry in plaas daarvan dat dit op ’n enkele belegger moet vertrou. Met die veranderende energiemark, is daar selfs ’n kans dat Tshwane sy grootmaat-elektrisiteitskoste kan verminder.”

Brink sê dat sy administrasie begroot het vir die aanstelling van TA en die energietaakspan wat onder sy burgemeesterskap aangestel is, is aangesê om met TEDA saam te werk om die bal aan die rol te kry.

“Maar dit blyk asof al die pogings met die kragstasies end gekry het toe die DA en ons koalisievennote uit ons ampte in September geskop is. In die tussentyd het kosbare tyd verlore gegaan.”

Hy voeg by dat die beurtkrag wat in die onlangse paar weke vir ’n ruk teruggekeer het, behoort ’n wekroep vir die metros te wees oor die belangrikheid daarvan om in hul energie-onafhankliheid te belê.

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? 

Stuur gerus vir ons ‘n epos na  bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord

Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram en TikTok.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
Stay in the know. Download the Caxton Local News Network App here.
Back to top button