Metro loods skuldverligtingsprogram om inkomste te verhoog
Die program sal nie net wanbetalers baat nie maar ook pligsgetroue betalende kliënte.
Die Tshwane metro het ’n nuwe skuldverligtingsprogram geloods om munisipale kliënte te help om hul rekenings op datum te hou.
Hierdie inisiatief kom na toenemende kommer oor onwettige elektrisiteitsverbindings en die aansienlike skuld wat deur verskeie sektors insluitend die regering, besighede en huishoudings aan die metro verskuldig is.
Adjunkburgemeester Eugene Modise sê hierdie program is belangrik omdat dit nie net as ’n aansporing sal dien om inkomste-invordering te vermeerder nie maar ook om broodnodige finansiële verligting aan die inwoners en besighede te bied.
Die program, wat amptelik op 27 Februarie geloods is, vorm deel van die breër strategie wat daarop gemik is om die metro se probleme rondom inkomste-invordering aan te spreek.
Tans staan die metro se inkomste-invorderingskoers by 90%, effens laer as die Nasionale Tesourie se 95%-drumpel.
Die gaping tussen hierdie syfers beteken ’n verbysterende R30-miljard in uitstaande skuld, ’n bedrag wat die metro se vermoë om noodsaaklike dienste effektief te lewer erg belemmer.
“Die finansiële uitdagings wat meeste inwoners en besighede in die gesig staar kan nie meer geïgnoreer word nie.
“Hierdie skuldverligtingsprogram is ontwerp om die las te verlig, nakoming te bevorder en uiteindelik te verseker dat die metro aan sy finansiële verpligtinge voldoen om dienslewering te verbeter,” sê Modise.
Die program bied vele aansporings aan inwoners met uitstaande skuld.
Modise sê residentiële kliënte wat hul munisipale skuld vir die laaste 12 maande ten volle vereffen, sal kwalifiseer vir ’n 70% skuld-afskrywing.
Die oorblywende 30% sal betaalbaar wees ingevolge ’n gestruktureerde betalingsplan, volgens die metro se kredietbeheer en skuldinvorderingbeleid.
Hy sê vir diegene wie se skuld vir minder as 12 maande opgehoop het, sal ’n 100% rente-afskrywing aangebied word, mits die hoofskuld ten volle betaal is.
Die program sluit ook ’n unieke aansporing in vir inwoners om hul rekenings op datum te hou.
Modise sê hierdie kliënte sal ’n 25%-afslag ontvang op toegangsgeld tot verskeie ontspanningsfasiliteite wat deur die metro besit word.
“Besighede wat drie jaar se munisipale skuld ten volle afbetaal sal in aanmerking kom vir ’n 100% skuld-afskrywing op enige bedrae ouer as drie jaar.
“Vir besighede wat minder as drie jaar skuld het en die hoofskuld afbetaal, sal dit lei tot ’n 100% rente-afskrywing,” sê hy.
Modise sê een van die meer innoverende aspekte van hierdie program is die voorsiening van kwytskelding aan kliënte wat vrywilliglik hulself aanmeld dat hulle aan hul meters gepeuters het.
Hy sê inwoners wat oop kaarte speel, sal kwalifiseer vir ’n peuter-vry kwytskelding, mits hulle instem tot die installering van ’n nuwe meter en beskermende toestel.
Die kwytskelding is egter net geldig tot einde Maart.
“Onwettige verbindings jaag die metro miljoene uit die sak. Hierdie kwytskeldingsprogram skep die kans vir inwoners om na vore te kom en die probleem op te los sonder die vrees van swaar boetes.
“Ons glo dit sal in die lang termyn help om die elektrisiteitsdiefstal te verminder en die munisipaliteit se algehele inkomste-invordering verbeter.”
Die metro het ook ’n proses van herwaardasie van eiendomme vir die heffing van eiendomsbelasting afgehandel.
Die nuwe tariewe sal vanaf 1 Julie in werking tree en eiendomseienaars het tot 2 Mei om die nuwe waarderings te ondersoek en indien nodig, besware in te dien.
“Dit is ’n kritieke tyd vir Tshwane en die program is net die begin van ons pogings om vertroue in die metro te hervestig.”
VF Plus-raadslid Peter Meijer het voorheen gesê dat die 70%-afslag in wese onregverdig is aan die inwoners wat getrou hul rekeninge betaal.
Meijer het gesê om die skuld van wanbetalers te vergewe en ’n 70%-afslag aan hulle te bied, beteken dat lojale betalers gestraf word terwyl wanbetalers beloon word.
Hy glo dat hierdie die verkeerde boodskap uitstuur en kan lei tot ’n kultuur van wanbetaling wat vasgelê word in die gemeenskap.
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie?
Stuur gerus vir ons ‘n epos na bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram en TikTok.
