Moot-inwoners veg verbete teen rotte en lang gras
Die bekamping van rietrotte so groot soos katte, slange en lang gras waarin misdadigers kan skuil, is 'n paar van die kwessies wat inwoners van die Moot opgelos wil sien.
Twee groepe inwoners in die Moot het gemengde sukses behaal in hul pogings om hul omgewings skoon en veilig te hou, aangesien twee staatsondernemings nie na behore na hul eiendomme in Eloffsdal en East Lynne omsien nie.
Die vraghouerterrein van Transnet se Pretcon (Pretoria Container Terminal) houerterminaal grens aan die besige Paul Krugerstraat en ander strate in Eloffsdal, waar huise van belastingbetalers geleë is. Rietbosse op die terrein groei so welig dat reuse-rietrotte, blouape, slange en selfs muishonde ’n las vir die woonbuurt geword het.
Volgens inwoners word sommige van die vraghouers per trein na die terrein gebring en daar geberg totdat trokke dit kom haal.

Inwoners het aan Rekord vertel die rotte is so groot soos katte en so mak hulle hardloop van die terrein oor grensmure na inwoners se tuine.
Ander hou hul honde liewer in die huis uit vrees dat die rotte hul diere sal byt en moontlik siektes soos hondsdolheid sal oordra.
Inwoners het sedert verlede jaar verskeie pleidooie aan verskillende instansies gerig om die rietbosse, wat tot 2m hoog is, te verwyder en sodoende die rotte- en slangprobleem aan te spreek.
’n Inwoner wat reg langs die vraghouerterrein woon, kla dat die riete, veral ná die reënseisoen, haar vibracrete-mure beskadig deurdat hul welige takke en wortels die fondasies en mure omdruk.
Die skewe heining maak dit makliker vir rotte om haar erf binne te dring, en sy is bang vir die gesondheidsrisiko’s wat die blootstelling aan knaagdiere vir haar en haar gesin kan inhou. Sy verkies om anoniem te bly.
“Ek het al vir twee jaar e-posse gestuur aan die metro se brandweerafdeling oor die brandgevaar van die rietbos oor die takke en riete wat so droog is. Ek het ook klagtes aan Transnet gestuur want dit is tog hul terrein,” sê sy. “Ek het geen reaksie ontvang nie. Nie een van die twee instansies gee om oor ons probleme nie.”

Nog ’n inwoner het R9 000 se skade gely toe rotte van die vraghouerterrein sy motorhuis binnegedring en skade aan sy voertuig se elektroniese bedrading aangerig het.
“Ek moes selfs my Wendy-huis verkoop, want die rotte sou sekerlik daar ingetrek het. Ons hou ons erwe silwerskoon, maar hierdie staatsonderneming en die metro weier om na ons geldige klagtes te luister. Hulle personeel kom en gaan, so hulle is bewus van die probleem, maar doen niks daaraan nie.”
Een inwoner het sy klagte eers by die metro ingedien, maar toe ontdek dat die grond aan Transnet behoort. Verskeie oproepe deur hom aan die houerterrein en selfs ’n besoek om uit te vind wie verantwoordelik is vir die instandhouding van die terrein, het niks opgelewer nie.
Rekord kon bevestig dat Pretcon deel is van Transnet Freight Rail, ’n afdeling van Transnet SOC Ltd, ’n staatsbeheerde vragvervoer- en hanteringsmaatskappy in Suid-Afrika.
Die gemeenskap het raadslede ingeroep vir hulp. Raadslid Mari Joubert van die Vryheidsfront Plus het die kwessie aan die metro se Departement van Gesondheid gerapporteer.
In ’n e-pos van George van Greunen van die metro aan ’n inwoner, is aangedui dat die saak na die metro se departement vir eiendomme in staatsbesit verwys moet word. Van Greunen het inwoners na Ian Rabie by die metro verwys, maar talle oproepe en boodskappe op sy nommer het geen reaksie opgelewer nie.
“Inwoners is moedeloos. Dit maak nie saak aan wie die eiendom behoort nie, ons glo die metro se gesondheidsafdeling moet as toesighouer oor gesondheidsgevare optree en ’n kennisgewing aan Transnet en Pretcon beteken om die rietbos te verwyder. Die metro se bywette bepaal dat gesondheidsgevare in Pretoria deur die metro hanteer moet word, en hulle moet dit polisiëer,” sê ’n inwoner.


Twee huiseienaars het verlede week weer klagtes hieroor by die metro se hulplyn aangemeld, maar steeds geen antwoord ontvang nie.
Nog ’n staatsonderneming is deur die Moot versoek om op te tree, maar die inwoners het moontlik meer sukses behaal.
Inwoners van East Lynne het raadslid Adriana Randall van die DA genader om ’n straatvergadering te hou oor die lang gras rondom die brug by die N1 by Stormvoëltolhek, sowel as in die padreserwe van Stormvoël- tot Zambezi-tolhek.
Inwoners is bekommerd dat die lang gras en bosse ’n wegkruipplek vir misdadigers bied en dat dit hulle in staat stel om bewegings in die buurt dop te hou.
Randall, wat saam met DA-wyksraadslid Frans Smith die vergadering bygewoon het, het met die Suid-Afrikaanse Nasionale Padagentskap geskakel. Die agentskap het die onderhoud van die N1 en N4 aan Bakwena uitgekontrakteer.
Bakwena het onderneem om ’n span, wat reeds in die area besig is met die sny van gras rondom padtekens, te versoek om die gras by die brug en tolhek ook te sny.
“Die groter spanne beweeg tans van Bela-Bela suidwaarts vir die primêre grassny-aksie. Daar is reeds begin met die sny van gedeeltes van die N1 rondom Stormvoël Plaza. Die res van die padreserwe sal vanaf 1 April gesny word,” sê Randall.
Sy het die grassny-skedule van Bakwena aangevra om hul by hul beloftes te laat hou.
Sy het ook ’n versoek gerig aan die agentskap om twee erwe in Kaallaagtestraat, wat aan die padagentskap behoort, op te ruim en die gras te sny. Bakwena het aan haar bevestig dat spanne wat by die brug werk, ook aan hierdie areas sal aandag gee.
LEES: Onnodige foute kos Naka Bulle die Castle Super Klubtrofee titel
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie?
Stuur gerus vir ons ‘n epos na bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram en TikTok.
