Ondersoek oor R63m vermorsing by Pretoria Stadsaal-opknapping
Die VF Plus en die FAK is besorg oor die verkwisting van belastinggeld vir die Pretoria Stadsaal se opknapping. Miljoene rande is afgeskryf as vrugtelose uitgawe, en misbruik en wanbestuur word ondersoek. 'n Forensiese oudit het korrupsie onthul, maar daar is min vordering in dissiplinêre aksies.
Verskeie belangegroepe het optrede geëis oor die verkwisting van belastinggeld rondom die opknapping van die Pretoria Stadsaal.
’n Bedrag van bykans R63-miljoen geoormerk vir die projek is onlangs tydens die Februarie-raadsvergadering deur die stadsraad as vrugtelose uitgawe afgeskryf nadat die projek in 2015 begin is.
Die geld wat reeds bestee is aan die herstel van die historiese gebou het nie die verwagte resultate opgelewer nie, wat tot besorgde vrae oor misbruik en wanbestuur gelei het
Raadslid Grandi Theunissen van die Vryheidsfront Plus het erken dat daar steeds onsekerheid is oor die moontlikheid om ’n klag in te dien teen die betrokke konstruksiemaatskappy en huidige en voormalige stadsraadamptenare.
Hy wag tans vir ’n antwoord van die stadsbestuur en burgemeester of só ’n klag van bedrog wel reeds by die polisie aanhangig gemaak is.
“Indien nie, sal ons ’n klag gaan aanhangig maak, en ook die opsie oorweeg om na die Openbare Beskermer hieroor te gaan,” sê hy.
Volgens hom is een amptenaar, wat by die opknapping betrokke was, steeds in diens van die metro.
Theunissen beplan om binnekort die Finansieskomitee van die stadsraad te versoek om ’n oorsigbesoek te doen om sodoende toegang tot die Stadsaal te kry om self die omvang van die skade deur verwaarlosing en gebrek aan onderhoud te ondersoek.
“In sy huidige finansiële posisie het die metro nie geld om weer met ’n opknappingsprojek te begin nie. Ons sal ander moontlikhede moet ondersoek, soos om na privaat inisiatiewe te kyk.”
Volgens Theunissen is die herstelprojek onvoltooid, en ’n forensiese oudit het bevind dat korrupsie en finansiële onreëlmatighede ’n groot rol in die mislukking van die projek gespeel het.
Ondanks die oudit-aanbevelings dat dissiplinêre aksies en strafregtelike klagte teen die betrokkenes ingestel moes word, is daar na meer as ’n dekade feitlik geen vordering hiermee nie.
Theunissen het ’n dringende beroep op die stad gedoen om daadwerklik op te tree deur dissiplinêre aksies teen die betrokke amptenare af te handel. Die stad moet ook die kontrakteur NTSHADI-konsortium op die swartlys plaas, en besluite neem om die verlore fondse terug te wen.
Hy benadruk die belangrikheid van alternatiewe finansieringsmeganismes en vennootskappe vir die voltooiing van die herstelprojek. “Die party kan nie toelaat dat sulke mislukkings hierdie eens trotse nalatenskap van die stad vernietig nie.”
Die Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge (FAK) het ook ernstige kommer uitgespreek nadat dit aan die lig gekom het dat fondse wat bedoel was vir dringend benodigde opknappings aan die Pretoria Stadsaal, verkwis is.
“Die verval van belangrike historiese bakens is ’n kommerwekkende tendens, met regeringsamptenare wat klaarblyklik geen respek vir belastinggeld of bewustheid van erfenisbewaring het nie,” sê Ziegfried van Huyssteen, bedryfshoof van die FAK.
Die organisasie se bewaringskenner, Leonie Marais, beklemtoon dat die verkwisting van belastinggeld nie net ’n skande is nie, maar dat die skade aan erfenisbakens soms as gevolg hiervan onomkeerbaar is.
Barry Müller, hoof van Nasionale Projekte by die FAK, het die stadsaal op 28 Maart besoek en sy kommer uitgespreek oor die verlies van meer miljoene se opknappingsgeld.
“Hier staan ek vandag, briesend om te weet dat meer as R60-miljoen in die niet verdwyn het sonder dat enigiemand tot verantwoording geroep word,” sê Müller.
Die FAK en die VF Plus voer tans ’n ondersoek na die wanbestuur en -besteding van die fondse en eis aanspreeklikheid.
Müller glo dat gevalle van growwe nalatigheid soos hierdie, ’n vernietigende uitwerking op die behoud van erfenisbakens het.
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie?
Stuur gerus vir ons ‘n epos na bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram en TikTok.
