Jong Pretoria-fotograwe nou internasionaal bekend
Tieners van Pretoria en Suid-Afrika het danksy groot moeite van die Russiese Ambassade uiteindelik erkenning en hul wensertifikate gekry as die wenners van 'n fotokompetisie wat reeds in 2024 gehou is.

Talle jong fotograwe van Pretoria het uitgeblink by die Photographic Society of South Africa (PSSA) in die Eurasia Noframes Russia 2024 fotowedstryd.
Meer as 17 000 foto’s is vanjaar vir dié kompetisie ingeskryf.
Die volgende jong fotograwe van Pretoria se werk het kop en skouers bo die res uit gestaan:
– Jeanine du Rand (16) van Hoërskool Zwartkop,
– Merie Langner (15) en haar tweeling suster Duané van Hoërskool Centurion,
– Martin Walters (13) van Hoërskool Garsfontein en
– Niël Langner (21).


Hulle het laat in Maart die voorreg gehad om ’n spoggerige prysuitdelingsgeleentheid by die Russiese Ambassade in Pretoria by te woon om hul trofees en sertifikate te ontvang.

Alyona Poluektova, tweede sekretaris by die ambassade, het die jongmense en hul ouers verwelkom.
Sy was besonders beïndruk met die ongelooflike talent en vaardighede van die jong fotograwe.
“Toe ons die eerste keer sélf hierdie foto’s onder oë kry, was ons werklik verbyster deur die ongelooflike beelde voor ons en om te dink dat dit deur die lense van tieners kom is besonders,” sê Poluektova.

PSSA se jeug het in April 2024 deelgeneem aan hierdie kompetisie en die vyf fotograwe is genooi vir die prysuitdeling en kongres in Junie 2024 te Chelyabinsk in Rusland.
As gevolg van finansiële beperkings, die oorlog en sanksies kon hulle ongelukkig nie die kongres sélf bywoon nie.
Om die medaljes en sertifikate in Suid-Afrika te kry was ook ’n reuseprobleem as gevolg van posdienste en vlugte tussen Suid-Afrika en Rusland wat nie meer funksioneer nie.
Die Russiese Ambassade het uit hul pad gegaan om die jongmense die eer te gee wat hul toekom en laat in Maart is die posstuk vanaf Chelyabinsk tot in Suid-Afrika gebring.
Phillip de Lange, van Wolseley in die Wes-Kaap, is die nasionale direkteur van die vereniging se jeug-arm en hy behartig al die nasionale en internasionale wedstryde vir die jeug.

De Lange sê daar is oor die 200 jeug lede en hy is baie trots op die kaliber foto’s wat hierdie jong fotograwe lewer.
“Suid-Afrika se fotograwe presteer baie goed op internasionale vlak en ek dink ’n groot rede daarvoor is die variëteit aan ons fotografie,” sê De Lange.
“Rusland se fotograwe, is byvoorbeeld briljant met portretfotografie, waar fotograwe uit Suid-Afrika oor die algemeen baie veelsydig is.”
Hy wys daarop dat Riaan Engelbrecht (10), wat vanjaar die Judge’s Choice-toekenning gewen het, is een van die jongste fotograwe wat vanjaar aan die kompetisie deelgeneem het. Volgens De Lange is dit net weereens ’n bewys van die besonderse talent wat die jeug van ons land het.
De Lange verduidelik dat hierdie kompetisie fotograwe uitdaag in alle aspekte van fotografie maar ten spyte hiervan het die Suid-Afrikaanse jeug volgens hom werklik goed gevaar in vanjaar se kompetisie.

Die PSSA Youth Photographers of South Africa het ’n spesiale toekenning ontvang vir beste klub.
Anjani Kara (13) het ’n brons medalje ingepalm vir kleurfotografie (10 tot 13 jaar oud) en Thomas Bothé (18) het ’n toekenning gewen vir sy foto in die “Inanimate art”-kategorie. Hy het ook twee goue medaljes ontvang in ander kategorieë.
Niël het ’n brons medalje ingepalm in die 18 tot 22 jaar-kategorie en ’n silwer vir sy foto getiteld “walvis”.


Riaan se foto getiteld “Rustende Rooikat” het vir hom die Judge’s Choice-toekenning besorg.
Walters het die Fédération Internationale de l’Art Photographique se goue medalje gekry vir sy foto van ’n bidsprinkaan. Hy was ook die algehele wenner in sy ouderdomsgroep.
Du Rand het in haar ouderdomsgroep ook die Judge’s Choice-toekenning ontvang. Sy het ook ’n brons medalje vir haar swart-en-wit fotografie ontvang en ’n brons in die “inanimate art”-kategorie.
Charl Conradie (17) het ook weggestap met ’n Judge’s Choice-toekenning en ’n goue medalje vir landskapsfotografie. Hy het ook ’n brons medalje ontvang vir sy foto getiteld “Focus Face”.
Haydn McClure (14) het ’n bronsmedalje ontvang met sy dierefotografie en Anine Engelbrecht (17) se dierefotografie het ook vir haar ’n silwer medalje besorg. Duané het in dieselfde dierefotografie-kategorie as Anine ’n brons verower.
Merie het in haar kategorie ’n goue medalje ontvang en so ook Alexa Bothé (16).
Liza du Toit het ’n silwer medalje gewen vir landskapsfotografie.
Christelle Engelbrecht (14) het ook die beoordelaars beëndruk en weggestap met die Judge’s Choice-toekenning in haar ouderdomsgroep.
Do you have more information about the story?
Please send us an email to bennittb@rekord.co.za or phone us on 083 625 4114.
For free breaking and community news, visit Rekord’s websites: Rekord East
For more news and interesting articles, like Rekord on Facebook, follow us on Twitter or Instagram or TikTok.
